Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kies só diens vir internet vir gesin

Of jy in ’n buurt met veseloptiese netwerke bly of nie, vermy verskaffers se mynvelde só, skryf Johan Eybers.

  

Jy het ’n aflaaispoed van sowat 10 Mbps nodig om sonder probleme video’s te stroom.

Om ’n bekostigbare breëbandinternetdiens te vind, is ’n mynveld vir die oningeligte.

As jy in ’n middelklas- of ryk buurt in ’n digbevolkte gebied woon, is vesel waarskynlik die antwoord. Die meeste van dié buurte word reeds bedien deur veseloptiese netwerke wat deur operateurs soos Neotel, Dark­fibre, OpenServe (Telkom), SA Digital Villages en Frogfoot bedryf word.

Hulle tree almal op as groothandelaars.

Verbruikers kry deur middel van internetdiensverskaffers (laaste-myl-verskaffers) toegang tot die veseloperateurs se netwerke. Die internetdiensverskaffers koop data by die veseloperateurs en verkoop dit teen ’n wins aan verbruikers.

Die internetdiensverskaffers is in mededinging met mekaar om data teen markverwante pryse te lewer en bykomende dienste soos stemdienste oor die internet (VoIP), multimediadienste en databanke aan te bied.

As jy nie toegang tot ’n veselnetwerk het nie, is jou beste opsie ’n vaste ADSL-lyn. Telkom is die enigste wat die basiese infrastruktuur vir dié lyne lewer, maar jy kan jou eie internetdiensverskaffer kies.

Die spoed van die internet oor veseloptiese kabels is blitsvinnig en baie vinniger as dié van inbel- en ADSL-verbindings, wat oor koperkabels gelewer word.

Koordlose breëband-internettegnologie kan ook nie naastenby kers vashou by veseloptiese breëband nie.

Die spoed waarteen bandwydte oor veseloptiese kabels gelewer word, is konstant en dit word nie soos in die geval van koperkabels beïnvloed deur die aantal verbruikers wat dit op ’n slag gebruik nie.

Verbruikers kan wel tussen verskillende pakkette kies afhangende van die spoed en die hoeveelheid data wat hulle benodig om die internet te gebruik.

Hier is raad om in ag te neem voordat jy jou keuse maak.

  

OPSIE 1: VESEL

  

Kry ’n maand-tot-maand-subskripsie by ’n internetdiensverskaffer eerder as ’n langtermynkontrak. Jy kan jou diens sodoende ná ’n maand kanselleer as jy nie gelukkig is met die gehalte van die diens nie.

Kies ’n internetdiensverskaffer wat installering en aktivering gratis doen en ook ’n gratis modem verskaf. Dié opsie kan wel ’n invloed hê op lang termyn omdat dit ingereken word by die maandelikse prys wat jy betaal. Hier is die basiese opsies:

1. Basiese diens (10 Mbps aflaaispoed / 2 Mbps oplaaispoed)

Die intree-aflaaispoed vir ’n vesellyn-kontrak was verlede jaar 4 Mbps, maar veseloperateurs het dit aan die begin van die jaar tot 10 Mbps verhoog sodat alle verbruikers se diens vinnig genoeg is om video’s soos op YouTube sonder onderbrekings oor die internet te kyk.

Die basiese diens is goed vir ’n enkelpersoon of ’n klein gesin met gesinslede wat gelyktydig die internet gebruik en na videoprogramme soos YouTube, Netflix of Showmax kyk. Die oplaaispoed van 2 Mbps is vinnig genoeg om e-posse te stuur wat min data bevat.

  • Wenk

Die basiese diens waar jy soveel data kan gebruik soos jy wil, kos tussen R499 en R700 per maand. As jy nie videoprogramme oor die internet kyk of baie data gebruik nie, kan jy ook ’n pakket kies waar slegs ’n toegelate hoeveelheid data per maand afgelaai kan word.

Daar is egter nie veel van ’n verskil in prys tussen die twee tipes pakkette nie.

2. Basiese diens met ’n hoër oplaaispoed (10 Mbps aflaaispoed / 10 Mbps oplaaispoed)

Die pakket is vir verbruikers wat ’n hoër oplaaispoed verkies wat heelwat data soos video’s van hul rekenaars af stuur.

  • Wenk

Die pakket is doeltreffend vir mense wat van die huis af werk en in verbinding met hul werk se netwerk moet wees en baie data moet stuur.

3. Hoër datavereiste (20 Mbps aflaaispoed / 20 Mbps oplaaispoed)

Die pakket is vir gebruikers met hoër datavereistes soos om videospeletjies oor die internet sonder enige latensie (onderbrekings) te speel en ’n klomp data vinnig oor die internet te stuur en te ontvang. Pakkette kos tussen R860 en R1 035.

  • Wenk

Die pakket is voldoende vir ’n kleinerige gesin wat die internet gelyktydig gebruik en diegene wat nie wil wag dat data afgelaai word nie.

4. Hoë datavereistes (50 Mbps aflaaispoed / 50 Mbps oplaaispoed)

Die pakket is voldoende vir groot gesinne en klein ondernemings waar gebruikers die internet gelyktydig gebruik en vir mense wat na hoëdefinisie-video’s sonder enige onderbrekings wil kyk, baie videomateriaal aflaai en videospeletjies oor die internet speel. Pakkette kos tussen R918 en R1 200.

  • Wenk

Daar is nie ’n groot verskil in die prys van die 20 Mbps- en 50 Mbps-pakkette nie, terwyl die 50 Mbps-pakkette veel vinniger spoed bied. Dit is daarom ’n goeie idee vir ’n groter gesin om eerder die duurder pakket aan te skaf en die hele gesin gelukkig te hou.

  

OPSIE 2: ADSL

  

Mense wat ADSL-dienste ontvang en nie toegang het tot veseloptiese dienste nie, is in ’n slegte posisie.

Hulle betaal nie net duurder vir ADSL as vir veseldienste nie, maar die kwaliteit van ADSL is ook swakker weens die tegnologiese agterstand van koperkabels.

Volgens Telkom se jongste pryse wat op 1 September in werking getree het, kos 10 Mbps-ADSL nou R849 teenoor R799 vir 10 Mbps-vesel.

20 Mbps-ADSL kos R1 039 teenoor R999 vir 20 Mbps-vesel en 40 Mbps-ADSL kos R1 339 teenoor R1 299 vir 40 Mbps-vesel.

Telkom is besig om al sy ADSL-kliënte na vesel en sy vinniger mobiele breëbanddienste soos LTE (Long Term Evolution, ook bekend as 4G) te migreer.

Telkom bestee al hoe minder van sy hulpbronne om sy koperkabels in stand te hou, wat gereeld gesteel word.

Ander diensverskaffers se pryse kan effens verskil.

Meer oor:  Internet  |  Adsl  |  Data  |  Stromingsdienste  |  Veselinternet  |  Breëband  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.