Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kla as jy nie wil betaal vir oordra van data

Gebruikers wat ontevrede is met die manier waarop netwerke die oordrag van data toelaat, al dan nie, moet hul stem daaroor dik maak.

Gebruikers sal eersdaags oorblywende data kan red voordat dit verval, maar teen ’n prys.Foto: Unsplash

Dit is die raad van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) op die vooraand van die instelling van nuwe regulasies wat bepaal dat selfoonnetwerke gebruikers minstens die opsie moet bied om ongebruikte data se geldigheidstydperk te verleng.

Netwerk24 het Donderdag die vier grootste diensverskaffers se planne bekend gemaak waarvolgens elkeen aan hierdie nuwe regulatoriese vereiste gaan voldoen.

Daarvolgens gaan Vodacom- en MTN-gebruikers ’n bykomende databondel moet aanskaf om ’n bestaande bondel se geldigheidstydperk te verleng.

Telkom het reeds die geldigheidstydperk van sy verskillende databondels met ’n maand verleng, maar met geen opsie om dit verder te verleng nie.

Cell C is die enigste diensverskaffer wat sy gebruikers onbepaald sal toelaat om data oor te dra, maar in meeste gevalle teen ’n prys. Databondels se geldigheid kan met ’n dag, week of maand verleng word.

Suid-Afrikaners is lankal keelvol daarvoor dat die data waarvoor hulle betaal ná ’n sekere tyd verval. Sommige gebruikers vergelyk dit met ’n vulstasie wat die oorblywende brandstof in jou motor se tenk teen ’n bepaalde tyd terugeis.

Die nuwe regulasies bepaal dat enige data wat “oorgerol” het, eerste opgebruik moet word.

Okosa het die nuwe regulasies in Mei 2018 in die Staatskoerant gepubliseer, kwansuis om dié kwelpunt op te los. Die bewoording is egter vaag en eis net dat diensverskaffers gebruikers “die opsie bied om ongebruikte data oor te dra voor die vervaldatum”.

Dit spesifiseer nie hoe hierdie oordrag moet geskied, en of die diensverskaffer ’n tarief vir die diens kan hef, al dan nie.

Die nuwe regulasies bepaal dat enige data wat “oorgerol” het, eerste opgebruik moet word.

Dit bepaal ook nie vir hoe lank die data in die eerste plek geldig moet wees nie, maar net dat dié tydperk verleng moet kan word.

’n Aanvanklike voorstel dat data eers ná drie jaar mag verval, is deur die diensverskaffers verwerp en uiteindelik buite rekening gelaat in die reguleerder se finale beslissing.

Vodacom het aangevoer dat ’n geldigheidstydperk van drie jaar “gebruikers se keuses sal beperk oor dit wat beskikbaar is” en dat goedkoper databondels nie meer teen dieselfde prys aangebied sal kan word nie.

Die prys van data word goedkoper hoe korter dit geldig is. ’n Bondel van 1 gigagreep is heelwat goedkoper as die gebruiker dit in ’n week pleks van ’n maand moet opgebruik.

Junaid Munshi, kommersiële hoof van Cell C, erken dat die moontlikheid om data te kan oordra, finansiële kommer vir die diensverskaffer veroorsaak.

Data is seker die enigste kommoditeit waarvan die prys daal hoe gewilder dit raak, in stede van die omgekeerde
Junaid Munshi

Diensverskaffers is afhanklik van ’n gereelde inkomste, daarom word databondels doelbewus so saamgestel om gebruikers te noop om meer daarvan meer dikwels te koop. Die vraag na data neem toe, maar die prys daarvan bly konstant of daal.

“Data is seker die enigste kommoditeit waarvan die prys daal hoe gewilder dit raak, in stede van die omgekeerde,” sê Munshi.

In sy finale beslissing het Okosa gesê hy gaan nie “te voorskriftelik wees oor die vervaldatum van data nie”, maar hy “moedig diensverskaffers aan om nie data te laat verval voor die vervaldatum van nuwe toegewysde data nie”.

Dit beteken basies dat diensverskaffers die ingesluite data op ’n kontrak, of ’n herhalende databondel op ’n voorafbetaalde plan, vir minstens twee maande moet laat geld, wat reeds die geval by al die diensverskaffers is.

Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa, het by navraag gesê as gebruikers steeds ontevrede is met data wat verval of dat hulle moet opdok om die geldigheidstydperk te verleng, moet ’n klag by die betrokke diensverskaffer indien.

Volgens Maleka is die doel van die nuwe regulasies juis om te keer dat gebruikers ongebruikte data verloor, maar in praktyk blyk dit nie die geval te wees nie.

Sou jou data ná die inwerkingstelling van die nuwe regulasies op 1 Maart steeds verval met geen opsie om dit te verleng nie, of as jy ontevrede is met hoe die regulasies toegepas word, kan jy ’n formele klag by Okosa indien, wat dit sal ondersoek.

Meer oor:  Okosa  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Selfoondienste  |  Slimfone  |  Selfoonmaatskappye  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.