Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) het klein aanpassings gemaak aan twee van die vier nuwe dataregulasies wat van 1 Maart af geld.

Nuwe datareëls geld van 1 Maart af.Foto: Getty Images
In ’n verklaring sê die reguleerder hy het besluit om die wysigings te doen nadat hy in Januarie met diensverskaffers daaroor vergader het.
Volgens Okosa se nuwe reëls moet diensverskaffers gebruikers per SMS inlig sodra 50%, 80% en uiteindelik 100% van hul beskikbare data opgebruik is.
Diensverskaffers, insluitend Cell C, meen egter die stuur van soveel kennisgewings aan gebruikers gaan meer irriterend as behulpsaam wees.
Nou het Okosa gelas diensverskaffers moet steeds die SMS’e stuur, maar gebruikers die opsie bied om dit nie te ontvang nie.
Kragtens die nuwe reëls mag buitebondeltariewe ook nie outomaties op gebruikers gehef word nie. Dit is om te keer dat gebruikers ’n skokkend hoë rekening aan die einde van die maand ontvang, of al hul lugtyd in ’n oogwink opgebruik.
Cell C het egter sy kommer uitgespreek dat gebruikers wie se databondel opgebruik is, skielik nie meer toegang tot die internet gaan hê nie, selfs al het hulle nog lugtyd oor.
Okosa het dié reël nou effens gewysig en gelas diensverskaffers moet gebruikers wat bereid is om dit te betaal, steeds die opsie bied om outomaties oor te skakel na buitebondeltariewe.
Dit sal keer dat internettoegang sonder meer afgesny word.
Cell C het reeds só ’n funksie wat hy van 1 Maart beskikbaar gaan stel.
Gebruikers sal ook ’n bykomende perk kan stel sodat buitebondeltariewe hulle nie te veel uit die sak jaag nie, maar hulle sal ook nie summier afgesny word van die internet as hulle byvoorbeeld besig was om ’n YouTube-video te kyk toe die databondel uitgeput is nie.
Cell C maak dit egter duidelik dat gebruikers steeds pertinent sal moet instem om buitebondeltariewe te betaal, maar minstens is die opsie daar.
Okosa se ander twee reëls, naamlik dat gebruikers data se geldigheidsperiode moet kan verleng en data na ander gebruikers op dieselfde netwerk moet kan oordra, bly onveranderd.
Lees hier hoe jy jou data van aanstaande maand af kan oordra om te keer dat dit verval.