Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kontantlose betalings in Afrika groei fluks

Kontantlose betaaltransaksies in Afrika sal teen 2025 met 78% groei, sê PwC.

Craig Newborn, uitvoerende hoof van PayJustNow wat aan kopers ’n drie maande-rentevrye afbetaal-opsie bied. Foto: VERSKAF DEUR PAYJUSTNOW

’n Peiling toon dat die volume van digitale betalings internasionaal tussen 2020 en 2025 van 1 000 miljard transaksies amper sal verdubbel tot byna 1 900 miljard.

Selfs voor Covid-19 was daar ’n geleidelike beweging na nuwe digitale betaalwyses, maar die pandemie was ’n katalisator vir die ontwikkeling van nuwe tegnologie en samewerking tussen rolspelers in die finansiëledienstesektor, sê Chantal Maritz, hoof van strategie en betaalmetodes by PwC, in ’n verklaring.

“Suid-Afrika is goed geplaas om ’n moderne betaal-infrastruktuur te ontwikkel, omdat hy nie belemmer word deur ou tegnologie nie,” sê sy.

Selfoondiensverskaffers en kleinhandelaars neem die voortou met die ontwikkeling van nuwe, kontantlose betaalmetodes.

Telkom het onlangs in samewerking met Nedbank, Mastercard en die finansiële-tegnologiemaatskappy Ukeshe ’n produk bekend gestel vir mense wat aanlyn wil koop, maar nie ’n bankkaart het nie en vir mense wat betalings wil ontvang sonder ’n kaartmasjien.

Voornemende kopers wat geregistreer het vir Telkom se betaaldiens kan op WhatsApp ’n virtuele kaart aanvra en dit aan hul digitale beursies koppel. Die kaart het ’n 16-syfer-nommer, sekerheidskode en vervaldatum, nes ’n fisieke debiet- en kredietkaart.

“Die kaart word in die Telkom Pay-app gestoor, of mense kan kies om dit net tydelik te gebruik en weer te kanselleer en later vir ’n nuwe een aansoek doen deur die app. Daar is dus nie bankgelde ter sprake nie,” sê Clayton Hayward, uitvoerende hoof van Ukeshe.

Die virtuele kaart het ’n 16-syfer kaartnommer, vervaldatum en ’n sekerheidskode. Foto: VERSKAF DEUR UKESHE
Die virtuele kaart waarmee mense vir aanlyn-inkopies kan betaal. Foto: VERSKAF DEUR UKESHE
Foto:

“Informele handelaars, spazawinkel-eienaars of selfs studente wat loswerkies doen, kan deur die Telkom-app aansoek doen vir ’n QR-kode. As die persoon met wie jy ’n transaksie doen ’n bank-app op sy foon het, kan hy die kode inskandeer en jou geld is beskikbaar in jou e-beursie,” sê Hayward.

Dit was tot onlangs toe baie moeilik vir handelaars in die informele ekonomie om digitale betalings te ontvang, maar omdat banke skandeer-betalings (scan to pay) moontlik maak, het selfs hierdie mense nou toegang tot digitale betaalmetodes.

Koop nou, betaal later – sonder rente

PayJustNow en Edgars het kragte saamgesnoer om aan kliënte ’n opsie te bied om hul aankope oor drie maande rentevry af te betaal.

Craig Newborn, uitvoerende hoof van PayJustNow, sê die platform is ’n verantwoordelike alternatief vir krediet deurdat geen rente gehef word as betalings op datum gedoen word nie.

Aanlyn kopers doen gewoonlik by die digitale betaalpunt aansoek om hul aankoop deur middel van PayJustNow af te betaal. Die platform skakel met die kredietburo om seker te maak die koper kan wel die transaksie bekostig.

Wanneer dit goedgekeur word, is die eerste paaiement onmiddellik betaalbaar en die tweede en derde vind plaas op die eerste dag van die daaropvolgende twee maande.

PayJustNow is die eerste Suid-Afrikaanse platform wat afbetalings rentevry bied. Talle e-handelaars maak reeds van die platform gebruik.

Ander afbetaal-opsies is Mobicred en Payflex. Met Mobicred kan kopers hul aankope oor drie, ses of 12 maande afbetaal, maar rente word gehef.

Payflex, ’n Australiese kredietverskaffer wat in Suid-Afrika sake doen, bied ook rentevrye betalings, maar paaiemente moet elke twee weke betaal word totdat die item afbetaal is.

Meer oor:  Transaksie  |  Betalings  |  Bankdienste  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.