Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Koos Bekker praat openhartig oor MultiChoice

Naspers sal verseker dat álle bewerings teen MultiChoice ondersoek word omdat die maatskappy besef hoe “intens” die pyn is wat gewone mense tans oor korrupsie ervaar.

Alle bewerings teen Multichoice sal deeglik ondersoek word, sê Koos Bekker, voorsitter van Naspers. Foto: Jaco Marais

Vanuit die sonnige oopplan-sitkamer langs Koos Bekker se kantoor op die 17de verdieping van die Media24-gebou in Kaapstad beskryf hy die fase waarin Suid-Afrika hom bevind as een van die moeilikste wat hy al beleef het.

Hy kan ’n hoek van statige ou Tafelberg sien, maar die nie-uitvoerende voorsitter van Suid-Afrika se grootste genoteerde maatskappy, Naspers, slaan nie sy oë op na dié berg nie. Hy is die ene konsentrasie.

“Die land is gerattle. Mense is geskok en wil sien dat jy korrupsie bestry. Ons verstaan die belang daarvan. Dis ook in ons belang om korrupsie te ondersoek en uit te wis.”

Dis skuins ná Vrydagmiddag om 18:00, aan die einde van ’n week waarin MultiChoice en Naspers as die moedermaatskappy gepeper is met die aanklag dat hy staatskaping ondersteun deur ’n nuuskanaal, ANN7, op DStv te dra – ’n kanaal wat tot baie onlangs toe aan die omstrede Gupta-broers behoort het.

“Dis maar grim. Ek het vir jou ’n job, in ’n kantoor met ’n mooi uitsig – daar is net so ’n paar probleempies wat jy moet oplos,” antwoord Bekker die vraag hoe die afgelope week hom, as stigter van betaaltelevisie in Suid-Afrika, persoonlik geraak het.

Hy gee toe: In dié era van sosiale media en webnuus, waarin dinge soos ’n veldbrand versprei, het Naspers te lank geneem voordat hy gereageer het. “Ons was clumsy.”

Dit word bemoeilik deur die feit dat die maatskappy se bestuur in verskillende lande en tydsones werk. “Dit vat maar ’n tydjie voordat die masjien in aksie kom.

“Maar dit was ook die aard van die ding – daar was nie ’n mooi samehangende verhaal wat aan ons voorgelê is nie. Dit was ’n geval van hier byt ’n hond, daar blaf ene, daar brul ’n leeu.”  

Bekker sê hulle het voordat hulle gereageer het, probeer onderskei tussen fopnuus en bewerings wat ooglopend vals was. Dit sluit in die bewering deur Vytjie Mentor, ANC-LP, dat die Guptas ’n belang in Takealot besit. Daar is net drie aandeelhouers in Takealot, en die Guptas het geen belang daarby nie. “Jy kan in vyf minute sê dis nonsens.”

Die ander kategorie is aanklagte wat hulle voel hulle moes eers ondersoek “om te bepaal of daar iets in steek”. Dit sluit in die notule van die nou omstrede vergadering tussen senior MultiChoice-verteenwoordigers en die SAUK-direksie. 

Bekker sê ’n senior advokaat het die notules van dié vergadering bestudeer en bepaal dat die DA se bewerings oor ongerymdhede vals is. Dit het hulle so twee dae geneem om te bepaal die DA se bewerings dat dit ’n geheime vergadering was en dat daar op die vergadering gekonkel is, is “konsepsioneel verkeerd – twak”.

Nietemin sê Bekker: “Ons gaan alle bewerings ondersoek – ons hel oor na die kant van versigtigheid.”

Hy sê MultiChoice het ’n baie goeie direksie en hy is vol vertroue dat die ondersoek die probleme sal deurgrond. Bekker sê daar is geen skedule vir die ondersoek nie, maar dat dit “weke, eerder as maande” sal duur.

Op die vraag of enige koppe gaan rol, sê Bekker hulle moet eers alles ondersoek. “Ek weet van geen kriminele optrede of omkopery of misdade van enige aard nie. Maar ons gaan dit steeds behoorlik ondersoek.”

Persoonlik sê hy: “Ek het nog nooit in my lewe met ’n Gupta gepraat nie, nog nooit ’n oproep van hulle ontvang nie, ek was nog nooit by hulle aan huis nie. Ek dink nie eens hulle sal my herken nie.”

Frustrasie met korrupsie

Wat dryf die bewerings teen Naspers?

“Die hart van die probleem is die frustrasie wat gewone mense aanvoel. Die afgelope sewe maande was staatskaping in die nuus – dink aan die twee boeke [The President's Keepers deur Jacques Pauw en Enemy of the People deur Adriaan Basson en Pieter du Toit] en die staatskapingsverslag [van die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela]. Dit het mense geskok.

“Mense dink: ‘Ek kan nie by die Guptas uitkom nie, hulle sit êrens in Dubai. Maar ek kan by MultiChoice uitkom." 

Hy sê Naspers voel die frustrasie aan, asook die gevoel dat iemand gestraf moet word oor staatskaping. Naspers is die “koevoet, die hefboom” waardeur mense staatskaping wil aanvat.

“Gewone mense sê: ‘Ek wil nie dié kanaal op die lug hê nie.’

Daai soort ding, daai toewurg van ’n keelgat wat wil praat, is baie gevaarlik in die demokrasie.
Koos Bekker

“Sê nou ons kry ’n skuiwergat in die kontrak, en haal die kanaal vanaand van die lug af. Wat gebeur nou? Is dit goed vir die demokrasie?”

Hy sê dit sal ’n gevaarlike presedent skep van politieke menings wat onderdruk word.

“Wat van die Afrikaanse stemme oor twee jaar? Daai soort ding, daai toewurg van ’n keelgat wat wil praat, is baie gevaarlik in die demokrasie.”

Om die kanaal van die lug te haal net omdat Naspers in die verleentheid gestel word, sal neerkom op sensuur, en dít op die vooraand van die ANC se nasionale kongres, waarop ’n nuwe leier verkies moet word. “Jy kan sien dat die DA dit graag wil hê. Dit sal chaos veroorsaak. Maar dis nie goed vir die land nie. Dit onderbreek die debat.

“As jy ’n platform is, moet jy mense die kans gee om hul sê te sê, jy hoef nie met hulle saam te stem nie.

“As jy die ding deurpraat, besef jy die kanaal speel ’n rol in die demokratiese debat.”

Bekker sê gestel Oscar Pistorius het ’n Telkom-foonlyn. Moes Telkom die lyn afgesny het nadat Pistorius aan moord skuldig bevind is? “Nee. Nou maar, ons platform is ’n bietjie soos Telkom.”

Waarom dra MultiChoice ANN7? Bekker sê “dis ’n bietjie corny”, maar die antwoord lê in die maatskappy se naam – baie keuses. Die doelwit is juis om soveel kanale moontlik aan te bied.

“Met sport kyk almal Manchester United teen Liverpool, maar nuus is anderster. Een mens kyk CNN omdat dit meer liberaal is, ’n ander kyk Fox News omdat dit meer konserwatief is, nog een kyk Al Jazeera omdat hy uit ’n kulturele oogpunt aanklank vind . . . Ons bied Turkse nuus, Griekse nuus . . . nuus van oor die wêreld heen.”

Net gewone sakelui

Toe MultiChoice in 2012 met die voorstel genader is vir ’n 24-uur-nuuskanaal, het MultiChoice gehou van die idee om ’n plaaslike nuuskanaal met ’n Indiese geur te dra.

“Daai tyd was die Guptas eintlik gewone sakemense. Die beste bewys daarvan is as jy gaan kyk na die bywoningslys van die Gupta-troue in 2013 – gewone sakeleiers was teenwoordig, insluitend van ons maatskappye. Niemand het iets vreemds gevind nie.

“Die Waterkloof-storie [die feit dat die Guptas se gaste in ’n private straler op die lugmagbasis geland het] het later gekom.”

Ek kan nie by die Guptas uitkom nie, hulle sit êrens in Dubai. Maar ek kan by MultiChoice uitkom.
Koos Bekker

ANN7 se kontrak loop in Junie 2018 ten einde. MultiChoice besluit vroeg volgende jaar of hy in Junie dié kontrak sal hernu.

Bekker sê indien ANN7 MultiChoice nou, met die beskikbare kennis oor die Guptas vir die eerste keer sou nader, sou hulle “vir die heuwels hardloop”.

Bekker sê dis tekenend van Naspers se benadering tot mediavryheid dat die beriggewing deur die span van News24 onder leiding van Basson gebreek is. “Die les aan die buitewêreld uit dié treurige verhaal” is dat die maatskappy joernaliste vrye teuels gee.

Hy sê Naspers as maatskappy het baie volwasse geraak vergeleke met sy optrede in die apartheidsjare, hoewel hy nie van die vergelyking hou nie.

“Daar was ’n tyd toe Naspers baie meer die regeringslyn gevolg het.”

Ton Vosloo, vorige voorsitter, moet erkenning kry dat redaksionele onafhanklikheid gevestig is.

Hy vergelyk dit met Meryl Streep en Harvey Weinstein, die Hollywood-rolprentvervaardiger wat van seksuele teistering en verkragting aangekla word. ’n Paar jaar gelede het Streep nog hand om die lyf met Weinstein gestaan, maar as hy vandag vir haar ’n drukkie wil gee, sal sy dit beslis nie toelaat nie.

Op die aanklag dat Naspers se korporatiewe kultuur arrogant is, soos sommige ontleders Vrydag gesê het, sê Bekker die probleem is dat mense wat nie hul sin kry nie dan die aanklag van arrogansie rig. Mense wil ANN7 van die lug af hê, sonder om aan die gevolge daarvan te dink.

Wat van die vraagstuk oor seinverwerkers en die kodering daarvan al dan nie?

Die verskuiwing van analoog na digitale aardtelevisie (vir mense wat nie satelliettelevisie het nie) gaan daaroor dat dit meer bandwydte vir internet beskikbaar sal stel. Dis ’n wêreldwye proses en Suid-Afrika moet teen 2018 oorskakel na digitaal toe.

Die seinverwerking geskied deur middel van ’n boksie bo-op jou televisie en daardie boksie kan óf gekodeer wees of oop. 

MultiChoice en ander platforms het die afgelope paar jaar betoog dat dit meer sin maak om ’n ongekodeerde boksie te hê omdat dit goedkoper sal wees.

E.tv en ander het betoog vir kodering omdat hulle hoop dat hulle dan later betaaltelevisie daardeur kan verkoop. Dit sal die bokse egter duur maak, en e.tv wou hê die regering moet dit subsidieer. In Junie het die konstitusionele hof bevind dit sou daarop neerkom dat e.tv se sakeplan gesubsidieer word.

Bekker sê daar is niks onbehoorliks daaromtrent dat MultiChoice met die SAUK of selfs met ANN7 daaroor gepraat het nie. Dit gaan bloot oor die vorm van alliansies wat dan saam as drukgroep by die regering hul saak bepleit. 

Eindelik is dit die parlement wat deur wetgewing besluit daaroor en nié die uitsaaiers nie. 



* Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Ann7  |  Naspers  |  Multichoice  |  Guptas  |  Koos Bekker  |  Korrupsie  |  Betaaltelevisie  |  Staatskaping  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.