Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Koper se tyd is verby, sê Telkom

Die eerste fase waarin Telkom wegbeweeg van koperkabels is klaar. Vanaf Donderdag is vooruitbetaalde landlyndienste verskuif na ander dienste of afgeskakel.

Die Telkom-toring in Pretoria. Foto: Getty Images

Die telekommunikasiereus het aangekondig dat meer as 96% van sy vooruitbetaalde gebruikers van koper-ADSL-lyne suksesvol verskuif is na vooruitbetaalde 4G-internet voordat hy die ou diens op 1 Augustus opgeskort het.

Dit kom as deel van Telkom se uiteindelike doelwit om heeltemal oor te beweeg na slegs 4G of optiese vesel.

In ’n verklaring sê Telkom een van die grootste voordele van die verskuiwing na draadlose dienste is dat dié toegang nie onderhewig is aan wisselvallige prestasie weens gure weer nie.

Die wegbeweeg van fisieke koperkabels beteken ook dat kabeldiefstal nie meer ’n faktor kan wees in die betroubaarheid van gebruikers se internettoegang nie.

Fase 2 van Telkom se uitfasering van kopertegnologie is nou op dreef.

Hierin sal die maatskappy nou sy ander telefoon- en ADSL-VDSL-kliënte, dié wat nié vooruit betaal nie, begin verskuif na óf 4G of optiese vesel.

Dié strategie is reeds in 2015 aangekondig toe Telkom besluit het dat verouderde kopertegnologie nie meer sal kan byhou met die vereistes van hedendaagse behoeftes vir internet- en dataverbruik nie.

Telkom se opgradering kom te midde van kwaai mededinging onder diensverskaffers om verbruikers op te teken vir 4G en vesel.

Telkom Mobile se inkomste het in die boekjaar tot einde Maart met 58,3% tot R8,15 miljard gestyg.

Daarteenoor daal Telkom se aantal landlyngebruikers. Die maatskappy verskaf nou landlyndienste aan slegs 2,2 miljoen huishoudings en ondernemings, 15% minder as in 2018.

Sy getal breëband-intekenare daal ook. Dis nou minder as 850 000 teenoor bykans ’n miljoen ’n jaar gelede. Spesifiek ADSL-kliënte het met 22,7% geval, van 454 000 ’n jaar gelede tot 351 000 einde Maart.

Telkom se hoëspoed-VDSL- en veselkliënte het in dieselfde tydperk slegs met net 4,5% gestyg, van 201 000 tot 210 000.

Die maatskappy het gewaarsku dat tydelike onderbrekings in sy internetdienste ervaar kan word soos die verskuiwing na draadloos en vesel versnel. Kliënte moet 10210 skakel om probleme aan te meld.

Meer oor:  Telkom  |  Tegnologie  |  Internet  |  4G  |  Infrastruktuur  |  Veselinternet  |  Breëband
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.