Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kos-apps: Jy dok tot 25% méér op as jy laat aflewer

Kosafleweringsapps is ’n al hoe gewilder alternatief vir uiteet of selfs kook, maar restaurante sit prysverhogings van 10% tot 25% op hul geregte bo en behalwe die afleweringskoste wat die apps vra.

Etes wat jy deur kos-apps bestel, het verskuilde koste wat restaurante nie altyd bekend maak nie. Foto: Getty Images

So beweer Simon Colman, ’n sakeman en blogger van Kaapstad, wat ondersoek ingestel het nadat sy dogter, ’n kelnerin, hom daarop gewys het dat hy op die gewilde app UberEats méér betaal vir sy kos as wat dit volgens die restaurant se eie spyskaart kos.

Hy het bereken dat hy 25% meer betaal het, afleweringskoste uitgesluit, vir dieselfde gereg op die app. Hierna het hy wyer ondersoek gedoen, wat op sy blog, liabilityguy.co.za, beskikbaar is onder die titel: “Stand and deliver – The true cost of fast food delivery service”.

Die kos-apps stel nie die pryse op hul digitale spyskaarte vas nie. TimesLive berig op sowel UberEats as Mr D Food stel die restaurante self die pryse vas. Die kos-apps moedig restaurante wel aan om dit in die pas te hou met pryse op hul spyskaarte in die restaurant, wat onder meer Wimpy en Steers wel doen.

Kyk ook ons grafika hieronder, een vir Kaapstad en een vir Johannesburg, maar met verskillende restaurante. Ons dui aan met hoeveel restaurante se prysverhoging jou kos duurder maak, maar ook met hoeveel die kos duurder is as die afleweringsgeld ingesluit is. 

OrderIn is ook ’n gewilde kos-app in Suid-Afrika, maar hy maak dit baie duidelik as ’n restaurant ’n ander prys op die OrderIn-app vra as in die restaurant self. Colman sê dis kommerwekkend dat nóg UberEats, nóg Mr D enige aanduiding hiervan gee.

In sy ondersoek is vier restaurante ingesluit wat in sy woonbuurt beskikbaar is – Col’Cacchio, Nando’s, Steers en Simply Asia.

Nando’s en Steers verhoog nie hul pryse nie. Dié restaurante dek die koste verbonde daaraan om op die app te wees deur die skaalbesparing wat ’n groter teikenmark bring.

Col’Cacchio en Simply Asia dra die koste verbonde daaraan om op die app te wees aan die verbruiker oor in die vorm van ’n prysverhoging van onderskeidelik 23% en 20%.

Colman verduidelik in sy artikel hy is nie noodwendig gekant teen dié praktyk nie, maar hy meen groter deursigtigheid is noodsaaklik.

“Is die diens wat deur UberEats of Mr D aangebied word, die ekstra koste werd? Na my mening is dit waarskynlik, maar waarom word die verbruiker nie in die bestelproses ingelig as restaurante ’n heffing op hul pryse plaas nie?” vra Colman.

“Daar is geen konsekwentheid oor hoe die verskuilde koste verhaal word nie en die verbruiker weet dus nie watter koste gehef word om die platformkoste te dek nie.”

Dié platformkoste is hoog en nie alle restaurante kan dit dek deur slegs groter skaalvoordele nie.

In die VSA, byvoorbeeld, vra UberEats 30% van ’n restaurant se prys om die kos af te lewer, berig Forbes.

Colman meen die probleem is nie die prys nie, maar eerder goeie kommunikasie sodat akkurate verwagtings geskep word.

“Die gedeelte van hierdie oefening wat spesifiek op my as verbruiker betrekking het, is dat daar afleweringsgeld is wat bekend gemaak word wanneer ’n mens ’n bestelling doen. Dit is dié eksplisiete geld wat my laat glo het dit is die enigste heffing wat geld,” sê Colman.

Netwerk24 het self die pryse van vier restaurante in Johannesburg in die omgewing van Auckland Park vergelyk en ’n gemiddelde heffing van 12,3% gevind. Aangesien restaurante slegs in beperkte radiusse om ’n verbruiker op kos-apps toeganklik is en heffings verskil van item tot item op ’n spyskaart, wissel die gemiddelde waarskynlik van gebied tot gebied, en ook op grond van wat jy bestel.

ubereats, mr d
Meer oor:  Mr D Food  |  Ubereats  |  Takealot  |  Kitskos  |  Blogger  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.