Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kos is die ster in Naspers se stal

Verbruikers wat al hoe minder self hul wegneemetes gaan koop, laat ’n breë glimlag op die gesigte van Naspers se boontjietellers.

Sy inkomste uit die aflewering van kos wat aanlyn bestel word, het die afgelope boekjaar met meer as 127% opgeskiet.

Naspers het Vrydag sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart uitgereik.

LEES OOK: Tencent dra Naspers (weer) deur

Daarvolgens verdien dié internetreus nou $3,9 miljard uit e-handel, hoofsaaklik danksy stewige bydraes van sy geklassifiseerde advertensies, kosaflewering, betalingsdienste en e-kleinhandel. (Sien ook grafika hieronder.)

Devin Sinclair, hoof van Mr D Food in Suid-Afrika. Mr D Food is Naspers se grootste Suid-Afrikaanse belegging in die kosafleweringsmark. Dit word deur Takealot bedryf.

Die mense is honger

Die segment vir kosaflewering is egter die sterretjie wat die helderste skitter.

Wêreldwyd groei die mark na kosaflewering heelwat vinniger as die tradisionele kosmark, en derhalwe het Naspers die afgelope boekjaar nog etlike miljoene dollar daarin belê.

Hy het nog $500 miljoen belê in iFood, die voorste kosafleweringsdiens in Brasilië met ’n sterk mededingende posisie in Mexiko en Columbië.

Swiggy, Indië se grootste maatskappy vir kosbestelling en aflewerings het in Januarie vanjaar ’n ruim belegging van nóg $637 miljoen ontvang.

Dit bring Naspers se effektiewe belang in die maatskappy op 39% te staan.

LEES OOK: Dís die naam van Naspers se nuwe groep

iFood het meer as 17 miljoen bestellings in Maart vanjaar hanteer, terwyl Swiggy se hoeveelheid bestellings op ’n jaargrondslag vervierdubbel het.

Naspers se ander groot belang is in Delivery Hero, ’n Duitse kosafleweringsdiens wat in meer as 40 lande onder meer in Europa, die Midde-Ooste en Asië sake doen.

Dié maatskappy het 55% meer bestellings in die eerste kwartaal vanjaar verwerk vergelyke met ’n jaar gelede.

Naspers

Takealot en Mr D Food verstewig ook

Omdat die plaaslike kosafleweringsdiens Mr D Food se logistiek ten nouste met Takealot s’n verband hou, word sy resultate as deel van Naspers se e-kleinhandelsegment weergegee.

Die totale waarde van Mr D Food se verkope het in die afgelope boekjaar met 170% toegeneem.

LEES OOK: Naspers se nuwe notering met maande uitgestel

Takealot het sy markposisie as Suid-Afrika se grootste e-kleinhandelaar verstewig. Die totale waarde van sy verkope is 42% meer, terwyl sy inkomste met 69% toegeneem het.

Naspers het ’n stewige wins uit die verkoop van sy belang in die Indiese e-kleinhandelaar Flipkart in Augustus gemaak.

Dié belang is vir $2,2 miljard aan die Amerikaanse handelaar Wal-Mart verkoop. Naspers het ’n wins van $1,6 miljard uit dié transaksie verdien.

Betaalplatforms stoom voort

Wat het ondernemings soos Booking.com, Airbnb, Facebook, Delivery Hero en Groupon in gemeen?

Hulle maak almal op een of ander manier gebruik van ’n betalingsplatform waarin Naspers ’n belang het.

Naspers se betalingsplatforms, waaronder PayU, het meer as 920 miljoen transaksies ter waarde van $30 miljard in die laaste boekjaar uitgevoer.

Inkomste verdien uit betalingsdienste het met 22% tot $360 miljoen toegeneem.

PayU het ook pas deel geword van die konsortium wat Facebook se nuwe kriptogeldeenheid, die libra, gaan beheer.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Dienste  |  Kosaflewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.