Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kos maak Naspers se spaarvarkie lekker vol
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Getty Images

Verbruikers se lus vir wegneemetes laat Naspers se boontjietellers steeds van oor tot oor glimlag.

Die maatskappy se inkomste uit sy afdeling vir kosaflewering het in die jaar tot einde Maart met 99% tot $751 miljoen gegroei.

Die vorige boekjaar was dit $377 miljoen.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, glo dié afdeling gaan oor die volgende paar maande nóg aansienlike groei toon te midde van die voortdurende koronaviruspandemie wat mense in talle lande dwing om eerder van afleweringsdienste gebruik te maak as om na fisieke winkels te gaan.

Die grootste deel van Naspers se internetbates is deur die loop van 2019 ontknoop en afsonderlik as Prosus op die Johannesburgse en die Amsterdamse aandelebeurs genoteer.

Dit sluit in die maatskappy se aansienlike belang van 31% in die Chinese internetreus Tencent.

Naspers sowel as Prosus het Maandagaand ná die sluiting van die mark hul onderskeie resultate vir die jaar tot einde Maart uitgereik.

Daarvolgens was die Naspers-groep se inkomste die afgelope boekjaar $22,1 miljard teenoor $19 miljard in die vorige boekjaar.

Prosus se inkomste beloop $21,5 miljard, 23% hoër as in die vorige boekjaar toe sy bates nog deel van Naspers was.

Dié maatskappy, waarvan Naspers 72,49% besit, se handelswins was in die afgelope boekjaar 16% hoër op $3,8 miljard “ten spyte van aggressiewe beleggings in verskeie nuwe ondernemings,” het Basil Sgourdos, die groep se finansiële hoof, in ’n telefoonkonferensie met joernaliste gesê nadat die twee maatskappye hul onderskeie resultate uitgereik het.

Prosus het deur die loop van die jaar ruim in verskeie kosafleweraars en verskaffers van finansiële dienste in veral Indië en Brasilië belê.

Sy inkomste uit dié twee afdelings was op ’n jaargrondslag onderskeidelik 99% en 19% hoër.

LEES OOK: Kosaflewering: Wending in die groeiende sektor

Volgens Van Dijk beoog Prosus dat dié afdelings binne die volgende paar jaar tussen $15 miljard en $20 miljard per jaar in inkomste sal genereer teenoor die afgelope boekjaar se $751 miljoen vir kosaflewering en $428 miljoen vir finansiële dienste.

Naspers het deur die loop van die jaar minstens $1,3 miljard in nuwe en bestaande ondernemings belê, insluitende ’n belegging in die plaaslike “Uber vir huiswerkers”, SweepSouth.

naspers

Takealot, Mr D Food en Media24

Die waarde van verkope op Takealot, Suid-Afrika se grootste e-handelaar wat ook die kosafleweraar Mr D Food besit, was 46% hoër op ’n jaargrondslag.

Naspers, wat ’n meerderheidsbelang in Takealot besit, se inkomste daaruit beloop $392 miljoen.

Takealot se inkomste is 28% hoër in randwaarde, terwyl Mr D Food se waarde van sy verkope met ’n stewige 94% toegeneem het, en sy inkomste met 83%.

Media24, ’n volfiliaal van Naspers, het sy omset met 2% tot R4,8 miljard verhoog en sy handelsverlies is met 54% tot R152 miljoen verlaag danksy groei in e-handel, stewige skoolhandboekbestellings en streng kostebestuur.

Die volle impak van die koronaviruspandemie is egter nog nie op Media24 se boeke verreken nie.

LEES OOK: Media24 ‘buigsaam genoeg vir Covid-19-houe’

Tencent en ’n stewige banksaldo

Die Chinese internetreus Tencent, waarin Prosus ’n belang van 31% besit, se bydrae tot die maatskappy se winssyfers is steeds deurslaggewend.

Tencent se bydrae tot Prosus se kernwesensverdienste beloop $4,174 miljard.

Daarsonder sou Prosus, en by uitstek Naspers, ’n kernwesensverlies gely het.

Volgens Van Dijk sluit die Naspers-groep die boekjaar af in ’n baie gesonde finansiële posisie met $4,8 miljard kontant in die bank.

“Die maatskappy is in ’n goeie posisie om die uitdagings van die koronaviruspandemie die hoof te bied,” het sowel Van Dijk as Sgourdos Maandagaand aan joernaliste gesê.

Naspers het reeds R1,5 miljard aan die regering se Solidariteitsfonds geskenk om die koronavirus op eie bodem te help beveg.

“Terwyl die internasionale gevolge van die pandemie na verwagting nog ’n geruime tyd gaan voortduur, vertrou ons dat ons die storm kan trotseer.

“Ons verwag dat van ons ondernemings waarskynlik sal kan baat vind by die spoedige skuif na aanlyn wat deur die pandemie veroorsaak word.

“Dit plaas ons op ’n goeie voet vir groei op langtermyn.”

Naspers het ná die marksluiting Maandag teen R3 113,48 verhandel. Prosus se aandeelprys het R1 558,69 beloop.

Die direksie het aanbeveel dat ’n bruto dividend van 580c (2019: 715c) per genoteerde N- gewone aandeel betaal word en 116c (2019: 143c) per ongenoteerde A- gewone aandeel.

Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Mr D Food  |  Prosus  |  Takealot  |  Naspers  |  Tencent  |  Tegnologie  |  Kosaflewering  |  Resultate  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.