Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Krakers slaan toe op Microsoft-gebruikers se e-posse
Microsoft sê kuberkrakers het toegang tot verskeie gebruikers se e-posrekeninge gekry. Foto: Getty Images

Microsoft het bevestig ’n “beperkte aantal” gebruikers van sy e-posdienste se rekeninge is deur kuberkrakers binnegedring.

Dit sluit in persone met ’n @msn.com-, @outlook.com- en @hotmail.com-e-posadres.

Kuberkrakers het toegang tot gebruikers se inligting gekry deur ’n agent van Microsoft se kliëntediensafdeling se rekening te kraak.

Microsoft sê hy is nie seker watter data die kuberkrakers gesien het of wat hulle daarmee gemaak het nie, maar hy raai almal wat geraak is aan om hul wagwoorde te wysig.

Volgens ’n e-pos wat Microsoft aan gebruikers gestuur het oor die voorval, het kuberkrakers moontlik toegang gehad tot ’n verskeidenheid persoonlike inligting, insluitend mense se e-posadresse, sowel as die adresse van mense met wie hulle gereeld korrespondeer.

Die krakers het wel nie toegang gehad tot aanhangsels aan e-posse of enige aanmeldbesonderhede nie, berig Tech Crunch.

Microsoft het die kuberkrakers intussen in hul spore gestuit en die rekeninge is weer beveilig, hoewel die maatskappy gebruikers aanraai om maar steeds ’n nuwe wagwoord te kies.

Die maatskappy sê in ’n verklaring hy vermoed die kuberkrakers gaan die inligting gebruik om gemorspos aan meer mense te stuur danksy al die e-posadresse wat tydens die aanval bekom is.

“Wees daarom op die uitkyk vir e-posse van misleidende domeinname of e-posse wat betaling of ander persoonlike inligting vra,” waarsku Microsoft.

Dit is nog nie bekend in watter land die aanval plaasgevind het of waar diegene wat geraak is, woon nie.

Sou die gebruikers in Europa woon, beteken dit Microsoft kan vervolg word onder die Europese Unie se nuwe databeskermingswette wat in Mei verlede jaar in werking getree het.

Microsoft kan ’n massiewe boete opgelê word sou owerhede in die EU bevind die maatskappy het nie genoeg gedoen om gebruikers se persoonlike inligting teen die lang vingers van kuberkrakers te beskerm nie.

Volgens Microsoft het die aanval tussen 1 Januarie en 28 Maart plaasgevind. Die maatskappy het eers daarna daarvan bewus geword en die verdere uitbuiting van gebruikers se data gekeer.

Meer oor:  Microsoft  |  Kuberaanval  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.