Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kriptogeld – die bedrogspul van die eeu?

Kriptogeldeenhede is die grootste bedrogspul van die 21ste eeu, meen Richard Firth, uitvoerende hoof van MIP Holdings, ’n maatskappy wat sagteware vir die finansiëledienstebedryf ontwikkel.

Is kriptogeld die bedrogspul van die eeu? Foto: Bloomberg

Die nut van kriptogeldeenhede soos bitcoin, tether en ethereum is tot transaksies beperk. Dit maak hulle egter meer kwesbaar vir die soort borrel-ineenstortings wat al gesien is. Die energie-intensiewe verifikasieproses vir kriptogeldeenhede is boonop minder doeltreffend as betaalstelsels wat op ’n vertroude sentrale owerheid soos ’n sentrale bank steun.

Uit ’n tegniese perspektief is daar volgens Firth geen rede vir die grootskaalse belangstelling in kriptogeldeenhede nie, want die tegnologie het nog nie ’n manier gevind om dit as die beste en goedkoopste betaalopsie te bewys nie. Die primêre kliëntebasis vir alle kriptogeldeenhede is boonop georganiseerde misdaadsindikate, en Firth meen die groeiende internasionale belangstelling in kriptogeldeenhede is bloot die gevolg van die publisiteit wat dit oor die afgelope dekade gekry het.

Nie een van die reguleerders het dit al reggekry om kriptogeldeenhede onder hul beheer te kry nie, sê Firth. Dié geldeenhede word steeds vir anonieme en onwettige transaksies gebruik en is steeds op nagebootste waardes gegrond. “Sou dit so hoofstroom geword het sonder die steun van die sogenaamde kripto-evangeliste? Ek twyfel,” sê Firth.

Tether was op 5 Mei die mees verhandelde kriptogeldeenheid, met $56,16 miljard wat in 24 uur verhandel is. Tog was tether nie onder die lys van topvyf kriptogeldeenhede gemeet aan daaglikse transaksies in dié tydperk, of in die eerste kwartaal van die jaar nie, verduidelik Firth.

In die eerste kwartaal was ethereum die gewildste kriptogeldeenheid wat gemiddelde verhandeling betref, meer as twee keer soveel as bitcoin, wat die meer algemeen bekende kriptogeldeenheid is.

Firth meen hoewel kriptogeld bemark is as die voorlopers van ’n fundamentele verskuiwing in hoe finansiële transaksies bestuur word, is daar nog heelwat uitdagings. Die blokketting, die onderliggende tegnologie waarop kriptogeldeenhede gegrond word, kan nie byhou met die groeiende vraag na kriptogeld nie, en transaksiegeld het dus baie hoog geword.

Die wisselvalligheid van die mark vir kriptogeld het ekstra druk op die stelsel geplaas. Sedert sy bekendstelling in 2010 was bitcoin die eerste van die digitale geldeenhede wat uiterste prysveranderings beleef het, met ’n styging van byna $20 000 in 2017, en daarna ’n insinking tot so laag as $3 500. Tether het so gewild geword juis omdat dit ’n sogenaamde stablecoin is, wat pryswisselings probeer vermy deur plafonne of reserwes te gebruik, verduidelik Firth.

Hoewel ekonome groot veranderings voorspel namate meer mense kriptogeld gebruik, is die gedesentraliseerde struktuur wat blokketting-transaksies so vinnig maak, ook die rede waarom dit vir onwettige bedrywighede soos geldwassery, dwelmsmokkelary en onwettige wapenaankope gebruik word. Meer as 50% van alle kriptogeld-transaksies vind in die onwettige mark plaas, is in Januarie op die Wêreld- Ekonomiese Forum se Davos-beraad gesê.

’n Transaksie om vinnig kriptogeld via die Luno-app aan te koop, is ook een van die eerste goed wat die werker gedoen het wat in Mei R5,7 miljoen van die Werkloosheidsversekeringsfonds gesteel het, het hofstukke onlangs getoon.

Meer oor:  Kriptogeld  |  Beleggings  |  Bitcoin  |  Ethereum  |  Bedrogspul  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.