Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Kriptogeld kan ANC tot ’n val bring’ – VF Plus
Malusi Gigaba, minister van finansies, sê kriptogeld word nie op die oomblik in Suid-Afrika beheer nie en mense moet versigtig wees as hulle dit gebruik of daarin belê.

Die ANC-regering kan probeer soos hy wil, maar hy sal virtuele geldeenhede nie kan beheer nie en dit het die potensiaal om hom te laat vou.

Adv. Anton Alberts, LP vir die VF Plus, sê: “Virtuele geld en blokkettingtegnologie kan die finansiële sektor wêreldwyd ingrypend desentraliseer en gewone banke en ander finansiële instellings uitwis of geweldig verander.

“Die implikasies vir regerings is nog groter, want die tegnologie stel belastingbetalers in staat om salarisse te ontvang en handel te dryf in geldeenhede wat nie opspoorbaar of sigbaar is binne nuwe virtuele ekonomiese stelsels nie.

“Die implikasies vir regerings – in hierdie geval die ANC – is dat daar spoedig legitieme betaalmiddele en ekonomiese ekostelsels gaan ontstaan wat buite die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se beheer gaan wees. Die groot wens van die meeste belastingbetalers om nie ’n sent aan die korrupte ANC te gee nie, kan wel moontlik word.”

Sy opmerkings kom nadat Malusi Gigaba, minister van finansies, in ’n geskrewe antwoord op ’n vraag wat Alberts in die parlement gevra het, gesê het kriptogeld word nie op die oomblik in Suid-Afrika gereguleer nie, maar ’n interministeriële werkgroep ondersoek sedert Desember 2016 alle aspekte van finansiële tegnologie, ook kriptogeld.

Die groot wens van die meeste belastingbetalers om nie ’n sent aan die korrupte ANC te gee nie, kan wel moontlik word.
Adv. Anton Alberts van die VF Plus

Gigaba sê ook mense moet omsigtig wees as hulle dit gebruik of daarin belê.

Kriptogeld, oftewel virtuele geld, word as rekenaarkodes bekend as blokkettings geskep en bestaan slegs in die kuberruim.

Die bekendste kriptogeldeenheid is bitcoin en, hoewel die gebruik daarvan nog betreklik beperk is, beskou baie mense dit as ’n belegging. Die prys van ’n bitcoin het die afgelope jaar tot meer as $3 018 gestyg, maar het sedertdien weer tot nagenoeg $2 777 gesak, volgens die verhandelingsplatform CoinDesk.

Beleggings in bitcoin en ander kriptogeldeenhede, onder meer ethereum en monero, word as hoogs spekulatief beskou. Indien ander kriptogeld na vore tree, kan die waarde van die bitcoin in duie stort juis omdat dit nie ’n inherente waarde het nie en nie gereguleer word nie.

Dit het in Suid-Afrika reeds gelei tot ’n uiters verdagte Pipcoin-skema deur ene Refiloe (Ref) Wayne wat aan beleggers opbrengs van 35% per maand belowe het. Ontleders soos Simon Brown van JustOneLap beskou dit as ’n bedrogspul omdat dit nie werklik ’n virtuele geldeenheid is wat deur blokkettingtegnologie “gemyn” kan word nie. 

Lees ook: Pipcoin? Picon sou ’n beter naam gewees het

Intussen is Suid-Afrikaanse banke, soos die finansiëledienstebedryf wêreldwyd, besig om self in blokkettingtegnologie te belê; ’n konferensie oor die onderwerp word volgende week in Johannesburg gehou. Die South African Financial Blockchain Consortium verteenwoordig die meeste van die groot banke.

Die ekonoom Dawie Roodt van Efficient Group beskryf kriptogeld as potensieel die “einde van banke” en beslis die einde van sentrale banke se beheer oor baie aspekte van mense se geldsake danksy die anonimiteit wat dit bied.

Lees ook: Die einde van banke

Roodt is besig met doktorale navorsing in Orania wat hy voorsien moontlik tot Suid-Afrika se eerste kriptogeldeenheid kan lei. Vir eers is die doelwit egter net om die Afrikaner-“tuisland” se koopbewyse, die Ora, te digitaliseer, dus in wese die gebruik daarvan op ’n app moontlik te maak.

Lees ook: Dawie Roodt se Orania-app lei dalk tot nuwe geld

Adv. Anton Alberts, VF Plus-LP. Foto: Gallo Images

Alberts sê dis belangrik dat daar ’n “balans moet wees tussen innovasie en die beskerming van verbruikers en beleggers”.

“Die fenomeen van finansiële tegnologie is nou eers in sy kinderskoene en gaan tans deur wispelturige ontwikkelingsfases soortgelyk aan die internet in sy beginfase. Uiteindelik sal daar waarskynlik ’n stabiele fase intree waar van die suksesvolle virtuele geldeenhede naas nasionale fiat-geldeenhede sal bestaan.

“Daar is ook baie potensiaal in die gebruik van die onderliggende blokkettingtegnologie vir doeleindes anders as die skep van virtuele geld. Blokkettingtegnologie is ’n goedkoop, effektiewe en toenemend veilige manier om transaksies te doen en om geld van een persoon of instansie na ’n ander oor te plaas.”

Alberts sê hulle neem kennis van Roodt se Orania-inisiatief en sê die projek “sal ’n goeie toets wees vir die gebruik van plaaslike virtuele geld”.

Albert sê selfs al probeer die ANC-ministers kriptogeld met wetgewing reguleer, gaan dit straks “kragtelose wetgewing” oplewer “omdat geen wet die virtuele stelsel wat globaal en anoniem is, sal kan beheer nie.

“Daarom, indien die tegnologie wel sy potensiaal verwesenlik, sal dit nie net banke oorbodig maak nie. Dit kan ook regerings tot ’n val bring.”

Meer oor:  Anc  |  Vf Plus  |  Anton Alberts  |  Virtuele Geld  |  Reserwebank  |  Finansiëledienstesektor  |  Bankbedryf  |  Bitcoin  |  Ethereum  |  Tesourie  |  Fintech  |  Kriptogeld  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.