Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kry nou ADSL-lyn sonder om Telkom te betaal
Jy kan nou breëbandinternet kry sonder dat jy ’n afsonderlike lyn van Telkom hoef te huur. Foto: Unsplash

Dit is nou moontlik om breëbandinternet te laat installeer sonder dat jy oor ’n Telkom-landlyn hoef te beskik.

Tot nou moes gebruikers van ADSL-breëbandinternet ’n Telkom-landlyn hê, ongeag wie hul internetdiensverskaffer is.

Openserve, Telkom se afdeling vir groothandel, het Woensdag aangekondig nuwe ADSL-breëbandinternetkliënte kan nou die diens regstreeks van internetdiensverskaffers bekom en sal nie nog ’n koperlyn by Telkom ook hoef te huur nie.

Dit geld net nuwe kliënte wat Openserve se nuwe Pure Connect-produk gebruik.

Pure Connect gee kliënte toegang tot breëbandinternet wat steeds gaan werk op Telkom se bestaande koperdrade, maar jy sal nie soos voorheen Telkom vir die gebruik daarvan hoef te betaal nie.

Die motivering vir die skielike ommeswaai in Telkom se strategie is onduidelik.

Gebruikers vra reeds jare lank dat Telkom die vereiste afskaf dat ’n landlyn gehuur moet word ten einde ADSL by enige ander diensverskaffer te bekom.

Sipho Maseko, Telkom se uitvoerende hoof, het in 2016 belowe die maatskappy gaan die vereiste afskaf, maar dit het nou eers gebeur.

Intussen het Telkom se getal breëbandinternetgebruikers in die jaar van September 2018 tot September 2019 met byna 20% gedaal.

Volgens Telkom se jongste beskikbare syfers het hy nou minder as 800 000 ADSL-gebruikers.

Dié syfer sluit wel nie gebruikers in wat gedwing word om ’n Telkom-landlyn te behou net sodat hulle breëbandinternettoegang van ’n ander diensverskaffer soos Mweb kan bekom nie.

Telkom het teen einde September 2019 nog 1,9 miljoen landlyngebruikers gehad. Dit is 23% minder as dieselfde tydstip in 2018.

Inkomste verdien uit stemoproepe was ook 21,3% laer.

Baie Suid-Afrikaners doen weg met tradisionele landlyndienste weens die maklike bekombaarheid van selfoonkommunikasie.

Telkom het ook onlangs ’n ooreenkoms met die Mededingingskommissie bereik oor die prys van internettoegang wat hy op grootmaat aan internetdiensverskaffers verkoop.

Dit beteken vesel- en breëbandinternettoegang wat deur Openserve gelewer word, kan eersdaags aansienlik goedkoper word.

Telkom reik sy resultate vir die jaar tot einde Maart oor ’n maand uit.

Sy aandeelprys was Woensdag byna 4% hoër op R20,60.

Hy het wel aan die begin van die jaar nog teen meer as R35 per aandeel verhandel; en in Junie verlede jaar was een aandeel byna R100 werd.

Meer oor:  Openserve  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.