Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kuberkrakers dreig Apple

Kuberkrakers dreig om vertroulike planne van nuwe Apple-produkte uit te reik tensy die maatskappy teen 1 Mei ’n losprys betaal.

Apple word deur kubermisdadigers afgepers. Foto: Unsplash

Die sogenaamde Sodin-groep, wat ’n program genaamd REvil vervaardig en bestuur, sê hy het die planne gesteel van Quanta Computer, ’n Taiwannese maatskappy wat ’n aantal Apple-skootrekenaars saamstel.

The Guardian berig soos gewone afpers-programme kodeer REvil slagoffers se lêers en eis betaling vir die enkripsiesleutel om die data te herstel.

Sodin gaan egter ’n tree verder en probeer om die lêers te steel en betaling te eis van diegene wat rugsteunkopieë het deur te dreig om vertroulike inligting te publiseer.

Luidens ’n verklaring op “Happy Blog” – die skurke se webwerf op die sogenaamde “donker web” – het Quanta geweier om die losprys te betaal, waarop die kuberkrakers Quanta se kliënte begin dreig het.

Die losprys van Apple is aanvanklik geëis net ure voordat die maatskappy sy jongste produkte bekend gestel het.

“Ten einde nie te wag vir die komende Apple-aanbieding nie, sal ons, die REvil-groep, vandag data verskaf oor die komende nuwe produkte van die maatskappy wat so gelief is,” lui die blog.

“Tim Cook (uitvoerende hoof van Apple) kan sê ‘dankie, Quanta’. Van ons kant af het ons baie tyd daaraan gewy om ’n oplossing vir hierdie probleem te vind.”

Om te wys hulle is ernstig, het hulle skematiese voorstellings van sommige produkte gepubliseer, waaronder die nuwe iMacs wat die maatskappy Dinsdag bekend gestel het.

Sodin dreig om elke dag nog dokumente te publiseer en sê: “Ons beveel aan dat Apple die beskikbare data teen 1 Mei terugkoop.”

Presies hoeveel Sodin van Apple eis, is egter nie bekend nie.

In ’n soortgelyke afpersingspoging eis Sodin $50 miljoen van Acer in ruil daarvoor dat Sodin die lêers uitwis waarop hy sy hande gelê het.

Apple het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Grootste diefstal

Die twyfelagtige eer vir die grootste data-diefstal nóg behoort aan CAM4, ’n stromingsdiens vir volwasse inhoud.

Bykans 11 miljard datastukke is blootgestel.

Facebook het in 2019 deurgeloop toe meer as 500 miljoen gebruikers se data blootgestel is. Hy is sesde op die lys.

Sien die volledige lys hier.

Meer oor:  Apple  |  Kubermisdaad  |  Kuberkraker  |  Tegnologie  |  Internet  |  Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.