SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kuberkrakers teiken verskeie SA banke
Banke in Suid-Afrika is vandeesweek deur kuberkrakers geteiken. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaanse banke was die afgelope paar dae onder beleg van ’n gekoördineerde kuberaanval, skynbaar deur dieselfde persoon of groep wat Johannesburg se stelsels dié week lamgelê het.

Geen bank het al bevestig dat hy die slagoffer van ’n kuberaanval was nie, maar die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het Vrydag ’n waarskuwing daaroor uitgereik.

Die feit dat Absa, Standard Bank én Capitec se internetbankdienste oor die laaste drie dae gelol het, blyk nie blote toeval te wees nie.

“Ons kan bevestig dat die bankbedryf sedert Woensdag 23 Oktober deur ’n vlaag kuberaanvalle getref is wat verskeie dienste by verskeie banke geraak het,” sê die sentrum in ’n verklaring Vrydag.

Die soort aanval blyk ’n sogenaamde Distributed Denial of Services (DDoS)-aanval te wees.

Volgens Sabric het die aanvallers ’n dreigbrief aan personeel by die verskillende banke gestuur voor die aanval gedoen is.

Geen kliënte se geld of persoonlike inligting was vir enige oomblik in gevaar nie, benadruk Sabric.

Tydens ’n DDoS-aanval word ’n instelling, soos ’n bank, se webwerf en ander aanlyn dienste oorval deur versoeke wat uiteindelik veroorsaak dat die webblad vou.

Die hoop is dat die aanval genoeg van ’n irritasie vir dié instansies sal wees dat hulle bereid is om die losprys wat die aanvallers eis, te betaal.

Absa se stelsels was Woensdag van lyn af, terwyl Standard Bank s’n Donderdag probleme gegee het. Capitec s’n was weer Vrydag vol draadwerk.

Al drie banke het afsonderlik bevestig daar was fout met hul stelsels, maar geen melding van ’n DDoS-aanval is ooit gemaak nie.

Standard Bank het bloot gesê hy ervaar probleme met sy toerusting en Absa het melding gemaak van bywerkings aan sy stelsels wat te make het met die laai van begunstigdes.

Volgens Sabric is banke en ander finansiële instansies die wêreld oor gelyktydig aangeval en was Suid-Afrikaanse banke nie ’n uitsondering nie.

Is daar rede tot paniek?

Hoewel enige kuberaanval in ’n ernstige lig beskou moet word, is daar vir eers geen rede tot kommer dat kuberkrakers toegang tot enigiemand se geld kan kry nie.

’n DDoS-aanval is soos ’n keffende brak wat aan jou hakskene byt, maar wat geen werklike gevaar inhou nie.

Dit is wel onwettig in die meeste jurisdiksies.

Suid-Afrikaanse banke maak wel, minstens teoreties, van gevorderde programmatuur gebruik om sulke soort aanvalle te keer.

Kubermisdaad is deesdae ook ’n bedryf op sy eie, waarsku Nathalie Schooling, hoof van Nlighten, ’n onderneming wat kliëntetevredenheid aanhelp.

Johannesburg se stelsels is lamgelê deur ’n kuberaanval wat na bewering deur dieselfde groep gepleeg is wat die banke teiken.

Die stad het bevestig hy het as “voorsorgmaatreël” sy webwerf en rekeningstelsels afgeskakel.

Volgens Schooling was die stad waarskynlik nie voorbereid om ’n kuberaanval te keer nie omdat dit van oudtydse bedryfstelsels gebruik maak.

Die groep kuberaanvallers, wat hulself die Shadow Kill Hackers noem, eis 4 bitcoin (nagenoeg R480 000) van die stad om sy aanval op sy stelsels te lig.

As die stad nie daaraan gehoor gee nie, dreig die groep om inwoners se data aanlyn te versprei.

Dit sluit glo wagwoorde en ander persoonlike inligting in.

“Ons het beheer oor alles,” het die aanvallers glo gespog in ’n dreigbrief aan werknemers.

Volgens Schooling is dit baie belangrik dat diegene in beheer van Johannesburg se stelsels koelkop bly en breedvoerig met die publiek kommunikeer oor die stand van sake.

“Dit is die slegste moontlike tyd om niks te sê nie. Kliënte is waarskynlik baie bekommerd, maar ek sou hulle aanraai om vir eers nie paniekerig te raak totdat al die feite bekend word nie.”

FNB en Nedbank se stelsels het sover bekend nog nie vandeesweek soortgelyke probleme ervaar nie.

Meer oor:  Absa  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Nedbank  |  Fnb  |  Kuberaanval  |  Kuberkrakers  |  Bitcoin  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.