Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kwotas dreig vir Netflix en kie

Suid-Afrikaners wat nie genoeg kan kry van reekse soos The Crown op Netflix nie, sal in die toekoms dalk heelwat minder buitelandse reekse en flieks op stromingsdienste kan kyk as die regering se plan slaag om ’n kwota vir plaaslike inhoud op stromingsdienste af te dwing.

Die vermindering in die buitelandse aanbod sal na verwagting vir talle internasionale dienste die enigste manier wees om te verseker dat 30% van hul tienduisende programme of flieks van Suid-Afrikaanse oorsprong is aangesien dit geweldig baie sal kos en lank sal duur om honderde of selfs duisende bykomende plaaslike produksies bloot by hul katalogusse te voeg.

Stromingsdienste, waaronder Netflix, kan gedwing word om al meer Suid-Afrikaans vervaardigde programme beskikbaar te stel. Foto: Getty Images

Die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë het in ’n witskrif oor uitsaaibeleid sy voorneme bekend gemaak vir kwotas wat sal bepaal dat Suid-Afrikaans vervaardigde inhoud minstens 30% moet uitmaak van alle inhoud wat beskikbaar is op stromingsdienste soos Netflix, Showmax, Amazon Prime en Apple TV.

Die departement beoog ook om stromingsdienste te onderwerp aan ’n gedragskode om verbruikers en kinders te “beskerm” en seker te maak dat hulle aan alle inhoudelike vereistes moet voldoen waaraan produksies moet voldoen wat vir beeldsending in Suid-Afrika vervaardig word.

As die gedragskode nié nagekom word nie, kan tugstappe volg, soos om die stromingsdiens te swartlys, te blokkeer en selfs banke opdrag te gee om intekenare se betalings te stop.

Phumzile van Damme, DA-woordvoerder oor kommunikasie, het gesê dit is eenvoudig nie moontlik om internasionale stromingsdienste aan ’n plaaslike gedragskode te onderwerp nie.

“Hierdie soort China-agtige sensuur is in elk geval ongrondwetlik,” het sy gesê.

Mish Molakeng, woordvoerder van die departement, het by navraag aan Rapport gesê stromingsdienste wat sukkel om dadelik aan die beplande vereistes vir plaaslike inhoud te voldoen, sal nie sonder meer gestraf word nie. Hy verwag ook nie teenstand nie.

“Hulle kom die soort vereistes in ander lande na en ons glo hulle sal dit ook in Suid-Afrika nakom. As daar uitdagings is, kan hulle met die reguleerder, die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa), skakel. Ons benadering is een van samewerking en begrip.”

Netflix wou nie by navraag kommentaar lewer nie.

Dié Amerikaanse stromingsdiens bied tans tientalle plaaslik vervaardigde programme aan Suid-Afrikaanse kykers. Dit sluit in meer as 40 rolprente, waaronder ouerige flieks soos Darrell Roodt se Seun (2014), Somer Son met onder meer Hanna Grobler en Bok van Blerk (2015), en die Oscar-wenner Tsotsi (2005), én meer as 20 dramas en ander reekse.

Hulle kom die soort vereistes in ander lande na en ons glo hulle sal dit ook in Suid-Afrika nakom.
Mish Molakeng van die departement van kommunikasie

Dié inhoud maak egter slegs ’n breukdeel van Netflix se totale katalogus uit.

Die Suid-Afrikaanse stromingsdiens Showmax het van meet af aan veel meer op plaaslike produksies gefokus, aangevul deur mega-reekse soos Game of Thrones.

’n Woordvoerder van MultiChoice, wat Showmax besit, het aan Rapport gesê dié groep oorskry op DStv en sy ander platforms die minimum vereiste vir plaaslike inhoud, wat meer as 59 000 uur se materiaal insluit.

In Desember alleen reik Showmax ses nuwe plaaslik vervaardigde rolprente uit, waaronder ’n riller en drie Kersfeesprente. Ook plaaslike dokumentêre rolprente op Showmax is volgens MultiChoice gewild.

Collin Mashile, hoofdirekteur van uitsaaibeleid in die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë, het vroeër aan die parlement gesê plaaslik vervaardigde programme is in elk geval die gewildste onder Suid-Afrikaners.

Die mees onlangse peiling deur die Uitsaainavorsingsraad toon die plaaslike sepies Uzalo, Gomora en Generations is die gewildste onder kykers oor alle platforms.

Die akteurs in Uzalo, Suid-Afrika se gewildste TV-sepie.

Die regering het geruime tyd reeds kwotas daargestel vir radio- en TV-stasies wat aan die SAUK behoort.

Okosa het in 2016 byvoorbeeld regulasies uitgereik vir die uitsaai van plaaslike programme. Minstens 55% van programme op SABC1 en SABC2 moet plaaslik wees en 35% op SABC3, wat ’n openbare kommersiële diens is.

Die departement hoop die voorgenome kwotas kan plaaslike produksiebesteding deur internasionale spelers aanhelp, tot wins van die plaaslike bedryf.

Frankryk het ook sulke planne, en skaaf tans aan wetgewing wat stromingsdienste sal dwing om minstens 25% van die inkomste wat hulle in die land verdien terug te ploeg deur plaaslike produksies te finansier, berig BusinessTech.

Benewens Suid-Afrika se beoogde kwotas wil die regering hê dat TV-lisensies na stromingsdienste uitgebrei word.

Suid-Afrikaners is tans wetlik verplig om TV-lisensiegeld te betaal – of hulle nou SAUK-kanale kyk of DStv. Kragtens die voorgenome nuwe reëls sal lisensiegeld gehef kan word op enige toestel wat video kan stroom. Dit sal skootrekenaars, tablette en selfone kan insluit.

Die departement se witskrif is nog onderhewig aan openbare kommentaar. Die spertyd vir insette is verleng tot 15 Februarie 2021.

Die finale weergawe sal aan die kabinet voorgelê word.

As die kabinet dit goedkeur, sal die departement ’n konsepwet opstel wat aan parlementêre prosesse onderwerp sal word.

Meer oor:  Netflix  |  Multichoice  |  Showmax  |  Media  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.