Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Android 11 beloof al dié nuwe funksies

Google het ’n eerste blik gegee op die nuwe weergawe van Android wat na verwagting in September uitgereik word.

Android 11 is die opvolger van Android 10 wat tans op die meeste nuwe Android-fone geïnstalleer is.

’n Weergawe van Android 11 is aan programmeerders beskikbaar gestel om dit te toets en terugvoering aan Google te gee.

Hoewel dié weergawe van Android 11 nog in sy babaskoene is, verklap dit reeds ’n rits nuwe funksies wat later vanjaar na Android-fone kom.

Hier is van die belangrikste nuwe funksies van Android 11:

   

Gesels makliker met klomp mense

   

Een van die grootste veranderinge in Android 11 is die vermoë om maklik vanaf jou foon se tuisskerm met ’n klomp mense op ’n slag te praat.

Facebook het reeds die konsep van “borrels” in sy Messenger-app bekend gestel. Elke “borrel” verteenwoordig ’n ander persoon waarmee jy ’n gesprek voer binne Messenger.

Die nuwe weergawe van Android gaan dié konsep uitbrei na alle gesprekvoering, hetsy in Messenger, WhatsApp of per SMS.

Dit beteken jy sal kan aangaan met ander dinge op jou slimfoon en ’n gesprek volhou deur net elke keer op die persoon se “borrel” te klik wat op jou foon se skerm ronddwaal.

   

Fone van verskillende groottes word ondersteun

   

Android 11 sal voorsiening maak vir slimfone met skerms wat nie noodwendig reghoekig is nie, of horisontaal eerder as vertikaal gebruik word.

Dit is veral handig gegewe al die voubare tegnologie wat deesdae hul opwagting maak.

Dit beteken dat Android sal aanpas by hierdie fone se skerms en dat programmeerders ook apps sal kan ontwikkel spesiaal vir horisontale fone of slimfone met skerms van verskillende groottes.

   

Groter fokus op privaatheid

   

Android-gebruikers is gereeld die harnas in oor al die inligting wat Google en ander apps oor hulle versamel.

Android 11 word na verwagting in September uitgereik.

Android het by Apple se iOS geleer en besluit om gebruikers groter beheer te gee oor watter van hul besonderhede deur die bedryfstelsel self, of deur apps, deur derdepartye versamel mag word.

Dit sluit in dat gebruikers apps deurlopend of net tydelik toegang kan gee tot die slimfoon se kamera, mikrofoon of ligging.

Afgesien daarvan beloof Android 11 ook beter integrasie met ontluikende 5G-netwerke en ’n outomatiese donker-modus wat die skerm van swart op wit na wit op swart omskakel.

Dit is nog nie bekend watter slimfone eerste toegang tot Android 11 gaan kry nie. Samsung reik gewoonlik rondom September ’n nuwe weergawe van sy Galaxy Note-reeks uit.

Android 11 kan vir nou net op een van Google se eie Pixel-fone getoets word. Pixels word nie in Suid-Afrika verkoop nie.

Meer oor:  Android  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.