Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Brickit help jou Lego bou

Om Lego op te gaar, is lekker, want jy kan vir ure sit en bou. Maar wat as al jou Lego-blokkies in ’n boks deurmekaar geraak het en jy of jou kinders net nie kan dink aan wat om te bou nie?

Foto: Grafika24

Lego is iets waarmee baie van ons as kinders speel, maar sommige mense hou aan daarmee – dit lei soms tot wonderlike skeppings.

Lego as ’n maatskappy weet ook hoe baie mense daarvan hou en maak amper enigiets onder die son vir jou om te bou uit Lego. Of dit nou die Death Star van Star Wars is of James Bond se Aston Martin DB5, daar is amper geen einde nie.

Kyk gerus na die volgende video oor wat mense deesdae met hul Lego bou.

Wat jy kan bou, gaan regtig eintlik net oor hoe ver jy jou verbeelding kan strek.

Daar is soms egter kere dat jy dink jy het miskien nie genoeg of die regte Lego vir iets nie.

Die app van die week, Brickit, sal help as jy ’n bietjie vasbrand of net nuwe idees soek.

Nog ’n lekker ding van die app is dat dit doodeenvoudig is om te gebruik. Die enigste nadeel tot dusver met die app is dat dit ongelukkig nog net beskikbaar is vir iOS-toestelle in die Apple Store.

So hoe werk dit?

Gewoonlik gooi jy jou Lego op die vloer en dan begin jy heel lukraak net soms bou totdat jy ’n idee kry. Met Brickit gooi jy steeds jou Lego op die vloer, maak dié keer net seker die vloer is mooi skoon.

Brickit help jou met Lego-idees. Foto: Apple Store

Sprei die Lego uit soveel as wat jy kan. Moet dit nie net op een hoop los nie.

Die rede hiervoor is dat die app jou kamera gebruik om die Lego te skandeer, daarom sal dit help as die Lego plat lê en soveel moontlik onderskeibaar is.

As jy die app oopmaak, sal dit natuurlik vra vir toestemming om jou kamera te gebruik. Sodra jy ingestem het, sal die app oopmaak en dan druk jy die “Scan”-knoppie.

Ná ’n paar sekondes sal die app al die Lego skandeer en vir jou kan sê hoeveel Lego jy het.

Dit werk nie 100% nie, maar dit werk goed genoeg en hang ook af van hoe jy die Lego op die vloer uitgegooi het.

Sodra dit die Lego geskandeer het en jou gesê het hoeveel jy het, sal die app daarna vir jou ’n heel paar idees uitskop van wat jy kan bou met die spesifieke blokkies op die vloer.

Jy sal nie altyd die regte kleur hê wat in die idee voorgestel word nie, maar jy sal dit steeds kan bou.

As die draak byvoorbeeld groen vertoon, gaan jy dalk net jou draak rooi moet maak om dit te voltooi. En siedaar! Nou kan jy jou vriende gaan beïndruk met jou wonderlike idees of net die app met hulle deel en nog groter skeppings probeer bou.

Meer oor:  Apps  |  Lego  |  Werner Se App Van Die Week  |  App Van Die Week  |  Speelgoed  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.