Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Dis maklik om te vas met Simple

Daar is ’n app vir alles, so hoekom nie een wat jou help met jou dieet en leefstyl nie?

Diëte of eetplanne is niks nuuts nie, maar met tegnologie is daar nou die kans om beter tred te hou van wat jy eet of nie moet eet nie – of wanneer.

Tegnologie en leefstyl

Slimfone en slimhorlosies het die fiksheidswêreld ’n tweede asem gegee. Benewens om net na die gimnasium te gaan, kan jy nou al jou aktiwiteite beplan en die data daarvan gebruik om jou ’n beter kans te gee om jou doelwitte vinniger te bereik.

Ten spyte van die Covid-19-pandemie was 2020 volgens die webwerf Glofox een van die beste jare vir fiksheidstegnologie.

Fiksheidsprogramme was nog nooit van so ’n kritieke belang soos nou nie. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum het die aflaai van fiksheid-app’s in die eerste helfte van 2020 met byna 50% gestyg. Dis ’n beduidende toename wat wys hoe gewild tuisfiksheid geword het, en honderde intekenaar-gegronde opsies is nou te kry.

Die app Simple is een wat jou kan help om jou dieet en gesondheid te beheer. Die app is op ’n onderbroke-vas-dieet gegrond.

Eerstens, wat is onderbroke vas?

Dit is ’n eetplan wat wissel tussen tye waarin jy moet vas en tye waarin jy mag eet. Dit gaan nie soseer oor wát jy eet nie, maar wanneer. Dis dalk net waarom dit so gewild is.

Volgens die internasionale kosinligtingskomitee (IFC) se onlangse Food and Health-ondersoek is 43% van Amerikaners nou besig om ’n tipe vaspatroon te volg. Dit maak onderbroke vas nou die grootste tipe dieetplan ter wêreld.

Daar is verskillende metodes van onderbroke vas en dit word alles deur middel van die Simple-app verduidelik. Jy kan dus kies watter een by jou leefstyl pas.

So hoe werk die app?

Laai natuurlik eers die Simple-app af op die Google Play of Apple Store.

Jy begin dan deur van jou persoonlike inligting in te vul, soos jou geslag, ouderdom, lengte en natuurlik jou gewig. Dit help die app om ’n profiel op te stel oor wat jy benodig om jou doel te bereik.

Die Simple-app wys jou hoe om met onderbroke vas te begin. Foto: Verskaf

Die app sal ook vra wat jou doelwit is: gewig verloor, meer energie en of jy net gesonder wil leef.

Die onderskeie onderbroke-vas-dieetplanne sal ook aan jou verduidelik word.

Jy kan kies sodat dit aanpas by wat jy gedurende die dag doen. Jy kan ook jou tye self invul as jy wil.

Byvoorbeeld, ek het die sirkadiese-ritme-plan gevolg. Dit is van die eenvoudigste planne, maar ook baie gewild.

Dit beteken ek kan eet vandat die son opkom totdat dit ondergaan, maar daarna mag ek niks eet nie.

Natuurlik gaan die app jou aan jou spesifieke tye herinner sodat jy nie vergeet nie.

Jy word ook aanbeveel om die tipe kos wat jy eet in te vul. Met hierdie inligting sal die app jou nóg meer deur die dag kan help deur jou te laat weet wanneer jou suiker miskien laag sal wees en wanneer jy water moet drink.

Dit gee jou ook ’n joernaal om die proses te monitor.

Gratis, maar daar is ’n betaalweergawe

Die app is gratis om af te laai en het genoeg om mee te werk op die gratis weergawe. Daar is wel ’n weergawe waarvoor jy kan betaal. Dit laat jou toe om jou plan verder met meer persoonlike inligting aan te pas en gee jou ook toegang tot kenners.

Die betaalweergawe kos jaarliks R499,99 of R259,99 per maand.

Meer oor:  Simple  |  Apps  |  Werner Se App Van Die Week  |  App Van Die Week  |  App  |  Vas  |  Tegnologie  |  Dieet  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.