Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Eers vou fone, nou vou rekenaars
Lenovo se eerste voubare skootrekenaar wat na verwagting in 2020 beskikbaar sal wees. Foto: Lenovo

Die onafwendbare het gebeur. Eers was daar voubare slimfone, en nou het Lenovo die wêreld se eerste voubare skootrekenaar bekend gestel.

Maatskappye soos Samsung, Huawei, LG en nou ook Lenovo is vol hoop dat voubare skerms die toekoms van die tegnologiebedryf is.

Die haalbaarheid van dié droom is egter nog in die weegskaal ná Samsung se flater met sy eerste voubare foon, en Huawei wat nog sukkel om syne gereed te kry voordat dit amptelik oor ’n paar maande bekend gestel word.

Lenovo hy werk reeds die afgelope drie jaar aan sy eerste toestel met ’n voubare skerm. Maar anders as Samsung en Huawei is sy toestel nie ’n slimfoon nie, maar ’n volwaardige skootrekenaar.

Die maatskappy beplan om sy voubare skootrekenaar in 2020 bekend te stel, berig The Verge.

Waar Samsung en Huawei se toestelle as bykomstighede gesien word – basies ’n selfoon maar met die skerm van ’n tablet – beskou Lenovo sy toestel as ’n volwaardige skootrekenaar nes enige ander.

Die enigste verskil is die rekenaar se skerm kan in twee gevou word soos ’n boek.

As jy kopkrap oor waarom dit enigsins nodig is, toemaar, ons ook!

Per definisie kan ’n skootrekenaar immers reeds in twee vou.

Lenovo meen egter sy voubare skootrekenaar sal ligter en meer draagbaar wees as bestaande modelle.

Toegevou lyk die nuwe Lenovo soos ’n boek en is basies die helfte so groot soos ’n gewone skootrekenaar.

Daar is geen sleutelbord nie, wat beteken dié byderwetse voubare skootrekenaar is eintlik maar net ’n ekstra groot tabletrekenaar waarvan die skerm in twee kan vou.

Lenovo het wel reeds skootrekenaars in die mark sonder ’n sleutelbord, so dit is nie ’n totale nuutjie nie.

Die maatskappy het ook genoem dat ’n draadlose sleutelbord en muis by die skootrekenaar ingesluit sal word.

Verdere besonderhede is in hierdie stadium nog vaag. Lenovo wil byvoorbeeld nie verklap hoeveel ingeboude geheue die toestel gaan hê, of hoe lank die batterylewe gaan wees nie.

Joernaliste wat ook die kans gegun is om die rekenaar vas te hou, sê die prototipe is nog ver van klaar en dat die skarnier en skerm nog baie skaafwerk nodig het.

Die voubare skerm is juis die grootste kopseer vir die vervaardigers van hierdie tipe toestelle. Samsung se Galaxy Fold het na enkele dae in die hande van verskeie joernaliste gebreek, meestal omdat daar iets fout gegaan het met die skerm.

Huawei het onlangs aan Netwerk24 gesê hy sukkel ook nog om ’n manier te vind om sy voubare foon, die Mate X, se skerm voldoende te beskerm.

Samsung het onlangs voorafbestellings van die Galaxy Fold gekanselleer. Daar is nog geen aanduiding wanneer die toestel uiteindelik uitgereik gaan word nie.

Die maatskappy werk aan ’n oplossing vir die verskeie probleme wat met die Fold ervaar word.

Meer oor:  Samsung  |  Huawei  |  Lenovo  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.