Larry Page en Sergey Brin, medestigters van Google, het albei hul uittrede aangekondig.
Page en Brin was tot nou toe onderskeidelik die uitvoerende hoof en president van Alphabet, die houermaatskappy van Google.
Sundar Pichai, Google se uitvoerende hoof, word nou ook die uitvoerende hoof van Alphabet.
Die rol van die president van die maatskappy val weg, het Google Dinsdag in ’n verklaring aangekondig.
Pichai is reeds sedert 2015 aan die stuur by Google.
“Alhoewel dit ’n geweldige voorreg was om so lank betrokke te wees by die daaglikse bestuur van die maatskappy, glo ons dit is tyd om die rol van trotse ouers in te neem en advies en liefde aan te bied,” sê Page en Brin in ’n verklaring.
Hulle het Google saam 21 jaar gelede begin. In 2015 is die maatskappy herstruktureer met Alphabet as die houermaatskappy van al Google se afsonderlike bedrywighede.

Larry Page (links) en Sergey Brin, medestigters van Google.Foto: Reuters
Page en Brin bly steeds Alphabet se grootste aandeelhouers en sal steeds in die direksie dien.
As sulks gaan hulle steeds ’n aktiewe bydrae lewer tot die maatskappy en dikwels met Pichai in gesprek wees.
Hulle gaan egter nie meer deel wees van die daaglikse bestuur van Alphabet of Google nie.
Beleggers het positief op die nuus gereageer en Alphabet se aandeelprys het byna met 1% tot $1 294,74 gestyg.
Google word toenemend aan regulatoriese ingryping onderwerp, veral weens die wyse waarop hy gebruikers se persoonlike inligting hanteer en verwerk.
Personeel by Google het ook in die onlangse verlede die maatskappy se topbestuur van boelietaktiek beskuldig en gesê daar is ’n kultuur van seksuele wangedrag wat Google ’n onsmaaklike plek maak om voor te werk.
Pichai werk reeds 15 jaar by Google en het onder meer die ontwikkeling van die Chrome-webblaaier hanteer.
Page en Brin het nie aangekondig wat hulle volgende gaan doen nie, buiten dat hulle steeds ’n “aktiewe rol” as direkteure op Alphabet se direksie gaan vervul.