Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Nuwe Apple Watch sal jou hart laat warm klop

Apple het Woensdag met groot fanfare sy jongste fiksheidstoestel bekend gestel. Die Apple Watch Series 4 is die tegnologievervaardiger se eerste slimhorlosie wat beduidend anders as enige van sy voorgangers lyk en funksioneer.

Hoewel die Series 4 steeds die kenmerkende afgeronde vorm van ouer Apple-horlosies behou, strek die skerm nou tot in die uithoeke van die raam, wat dit 30% groter as voorheen maak.

Danksy die skerm se gevorderde OLED-tegnologie vertoon kleure helderder en is die raakskerm meer sensitief.

“Fiksheid en oefening bly die hart van die Apple Watch,” het Jeff Williams, die maatskappy se bedryfshoof, op die bekendstellingsgeleentheid in Cupertino, Kalifornië, gesê. “Dit moedig jou aan om meer aktief te wees.”

Buiten dat die Apple Watch jou aanmoedig om meer te oefen, bevat die Series 4 ook heelparty nuwe funksies wat nog nooit in enige slimhorlosie gesien is nie.

Die nuwe Apple Watch Series 4 spog met die grootste skerm nóg op 'n slimhorlosie. Foto: Getty Images

’n Eerste vir ’n fiksheidstoestel

Williams se aankondiging dat die nuwe Apple Watch ’n elektrokardiogram kan neem, het die gehoor na hul asem laat snak.

“Die Series 4 is die eerste kommersieel beskikbare toestel wat dit kan doen,” het Williams trots bygevoeg. ’n Elektrokardiogram, oftewel ’n EKG, is ’n grafiese voorstelling van die hart se elektriese aktiwiteit en kan dokters bystaan om hartprobleme vroeg op te tel.

Die Series 4 sal ’n EKG kan neem bloot deur middel van ’n ingeboude app en bykomende sensors.

Die maatskappy het selfs goedkeuring van die FDA, die Amerikaanse waghond vir standaarde van gesondheidsprodukte, kos en medisyne, gekry.

Behalwe ’n EKG sal die Series 4 jou ook inlig as jou hartklop te laag raak of as hy onreëlmatighede optel.

Hulp as jy val

Hoewel die Series 4 hoofsaaklik wil help om jou gesond te hou, is dit ook ’n hulpmiddel in geval van nood.

Nog ’n nuwe funksie is die vermoë om waar te neem as jy val.

Die Apple Watch Series 4 kan optel as jy val en sal die nooddienste namens jou kontak. Foto: Getty Images

“Dit hou verband met die beweging van jou arms,” verduidelik Williams.

As jy op jou sitvlak (of gesig) beland, sal die horlosie jou vra of alles reg is en indien jy nie binne ’n sekere tyd antwoord nie, sal hy outomaties die nooddienste kontak en jou ligging aan hulle deurgee.

Kontak selfs sonder ’n slimfoon

Die Series 3 kon reeds oproepe maak en boodskappe ontvang selfs al was jou foon nie naby nie, maar die Series 4 neem dit ’n stappie verder.

Eerstens het Apple die materiaal waaruit die horlosie bestaan meer deurdringbaar gemaak vir radioseine, wat beteken dat die toestel op meer plekke sal opvang.

Dit beteken jy sal selfs bo-op ’n berg of terwyl jy in die see swem of branderplankry ’n oproep kan beantwoord, solank daar selfoonsein is.

Die horlosie se ingeboude luidspreker is ook 50% harder as sy voorgangers, wat gesprekke sal vergemaklik, sê Williams.

Daar word twee weergawes van die Series 4 uitgereik: Een met die vermoë om te bel en boodskappe te stuur sonder ’n selfoon en een wat net jou ligging danksy GPS kan optel sonder ’n selfoon.

Die nuwe Apple Watch Series 4 kom met Apple se jongste bedryfstelsel vir sy slimhorlosies, WatchOS 5. Foto: Getty Images

Weens regulatoriese beperkings in Suid-Afrika is dit nog nie duidelik of ons uiteindelik ook die horlosie gaan kry wat orals kan bel nie.

Natuurlik is dit peperduur

Soos verwag gaan die Series 4 glad nie goedkoop wees nie.

In Amerika begin die prys daarvan by $399 (sowat R6 000) terwyl die duurder weergawe wat kan bel $499 (sowat R7 500) kos, uitgesluit invoerkoste na Suid-Afrika.

Sover bekend gaan net die goedkoper weergawe wat nie kan bel nie in Suid-Afrika beskikbaar wees vanaf 28 September.

Meer oor:  Apple  |  Apple Watch  |  Tegnologie  |  Fiksheidsbandjies  |  Gesondheid  |  Apple Watch Series 4
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.