SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tegnuus
KYK: Nuwe, beste, duurste iPhones bekend gestel

Ná maande van bespiegeling het Tim Cook, Apple se uitvoerende hoof, Woensdag bevestig dat drie nuwe iPhones voor die einde van die jaar uitgereik gaan word.

Die tegnologiereus se nuwe vlagskipfoon heet die iPhone XS en sy grootboet is die iPhone XS Max. Albei lyk op ’n haar soos verlede jaar se iPhone X, maar met heelwat verbeteringe in terme van spoed, verwerking en die gehalte van foto’s en video’s.

Die XS Max is ook by verre die grootste iPhone ooit met ’n skerm van 16,5 cm; beduidend groter as die reeds massiewe iPhone 8 Plus (14 cm) en die Samsung Galaxy Note 9 (16,2 cm).

Apple het ook sy jongste verwerker, en glo “die beste een ooit in ’n slimfoon”, aangekondig. Beide die XS en XS Max bevat ’n A12 Bionic-skyfie wat 5000 miljard berekeninge per sekonde kan uitvoer. Dis 50% vinniger as die X se A11-skyfie.

Die maatskappy het ook die nuwe iPhones se battery verbeter en beweer dit sal ’n uur en ’n half langer hou as ’n iPhone X.

Die prys van die XS begin by $999, dieselfde prys as die X verlede jaar. Hoe meer bergspasie jy soek, hoe duurder sal die foon wees.

Die groter XS Max se prys begin by $1 099. Albei toestelle sal van 28 September in Suid-Afrika beskikbaar wees, hoewel plaaslike pryse nog nie bekend is nie.

Die nuwe iPhone XS en XS Max is Woensdag bekend gestel.Foto: GETTY IMAGES

‘Goedkoop’ intree-foon

Hoewel dit reeds bekend was dat Apple ’n “goedkoper” iPhone vanjaar gaan bekend stel, is dié foon se naam seker die enigste verrassing daaroor. Pleks van die iPhone 9 soos aanvanklik bespiegel is, heet die foon nou die iPhone XR.

In kort is dit ’n kloning van die iPhone X, maar met goedkoper onderdele.

Dié foon se skerm is van goedkoper LCD-tegnologie pleks van die meer byderwetse, maar duurder, OLED-tegnologie wat die XS en XS Max gebruik.

Apple beskryf wel die LCD-tegnologie in die foon as die “beste nog” wat kleure “ongelooflik akkuraat” laat vertoon. Die skerm is ook betreklik groot (15,5 cm).

Die XR bevat wel ook die A12-skyfie en ’n uitstekende kamera. Dié foon se prys begin by $749, minder as die iPhone 8 Plus en X.

Dit is van 26 Oktober beskikbaar.

Cook het ook tydens die geleentheid in Cupertino, Kalifornië, aangekondig dat die jongste weergawe van Apple se bedryfstelsel vir die iPhone en iPad, iOS 12, op 17 September uitgereik word.

Meer oor:  Apple  |  Tim Cook  |  Iphone Xs Max  |  Slimfoon  |  Iphone Xs  |  Iphone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.