Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Nuwe peperduur iPhones gee reeds probleme

Berigte stroom in van probleme met die nuwe iPhone Xs en Xs Max wat Vrydag in Suid-Afrika bekend gestel is.

Volgens navorsing deur die bekende YouTuber Unbox Therapy gee verskeie nuwe iPhones probleme met die herlaai van die battery.

Dit volg op talle klagtes op die sosiale netwerk Reddit en op Apple se hulpblad waar mense sê hul splinternuwe fone wil nie behoorlik herlaai nie.

Die probleem blyk te wees dat die fone nie outomaties wil begin herlaai sodra ’n gebruiker sy herlaaier koppel nie.

In stede daarvan moet die gebruiker eers die foon se skerm aktiveer, waarna die toestel begin laai.

Slimfone herlaai as ’n reël outomaties sodra die herlaaikabel gekoppel word, ongeag of die foon aangeskakel of in bystandmodus is.

Unbox Therapy het self ondersoek na die probleem ingestel en agt Xs- en Xs Max-modelle getoets.

Van die agt het net een iPhone Xs en een iPhone Xs Max reg gewerk en van bystandmodus af gelaai.

Vyf van die ander toestelle het eers begin herlaai toe die foon se skerm geaktiveer is. Die ander een, ’n Xs Max, het vir etlike minute gevries toe die herlaaier gekoppel word.

Die video wat Unbox Therapy van sy eksperiment op YouTube gelaai het, is reeds byna vyf miljoen keer gekyk.

Forbes wys daarop dat Apple waarskynlik reeds miljoene nuwe iPhones in die laaste paar weke verkoop het, derhalwe is dit nog onmoontlik om die volle omvang van die probleem te bepaal.

Maar as die honderde kommentare op sosiale media ’n aanduiding daarvan is, sit Apple met ’n groot probleem.

Is daar ’n oplossing?

Sover bekend is daar nog nie ’n oplossing nie, aangesien die presiese oorsaak van die probleem ook nog nie bekend is nie.

Apple het ook nog nie amptelik op die probleme reageer nie.

Sommige gebruikers het wel daarop gewys dat dit soms help om die herlaaikabel andersom in te druk (wat moontlik op ’n probleem met die foon se harde- eerder as sagteware dui), terwyl ander weer ’n koordlose herlaaier as oplossing bied.

Indien die probleem wel in die fone se programmatuur lê, sal Apple dit waarskynlik in die komende dae met ’n bywerking van sy iOS-bedryfstelsel kan regmaak.

Tot dan word diegene met ’n iPhone Xs of Xs Max aangeraai om seker te maak die foon se skerm is aan die oomblik dat die herlaaikabel ingeprop word.

Meer oor:  Apple
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.