Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Nuwe Samsungs oortref alle verwagtinge

Samsung het Dinsdagaand op ’n geselligheid in Johannesburg drie nuwe modelle in sy gewilde S-reeks, sowel as ’n nuwe voubare foon aangekondig.

Die gerugte oor die nuwe Samsung Galaxy S20 (en die variante daarvan) is grootliks bevestig, hoewel die aand tog ’n paar verrassings ingehou het.

Drie nuwe Galaxy S20-modelle word vroeg in Maart uitgereik. Dit is die “gewone” Galaxy S20, die S20+ en dan ook die Galaxy S20 Ultra.

Die pryse van die modelle wissel tussen R18 999 vir die S20 tot R26 999 vir die Ultra. Die S20+ gaan R20 999 kos.

Al die toestelle is reeds op voorafbestelling beskikbaar. Diensverskaffers het nog nie kontrakpryse bekend gemaak nie.

Die nuwe Samsung Galaxy S20 Ultra en S20+.
Die nuwe S20 kom in allerhande spoggerige kleure. Foto: Petrus Malherbe

Beste kamera nóg

Samsung kon met die aankondiging van die Galaxy S20-reeks nie uitgepraat raak oor die feit dat dié fone die mees gevorderde kamerategnologie tot nog toe in ’n slimfoon bevat nie.

Op die oog af wil dit voorkom asof Samsung sy grootste mededinger, Huawei, ore aangesit het deur ’n foon te ontwerp wat selfs Huawei se beste modelle oortref wat kamerategnologie betref. Hoeveel daarvan die gewone man op straat gaan gebruik, is egter debatteerbaar.

Die S20 Ultra beskik byvoorbeeld oor ’n hooflens wat foto’s teen ’n ongelooflike resolusie van 108 MP neem.

As vergelyking: Die iPhone 11 neem foto’s teen 12 MP en die Huawei P30 Pro teen 40 MP.

Die S20 Ultra se kamera beskik ook oor die revolusionêre vermoë om 100 keer op ’n voorwerp te kan inzoem. Dit is dubbeld so ver as die P30 Pro. Die S20 en S20+ kan ’n voorwerp 30 keer vergroot.

Nog ’n lekker funksie van al drie modelle is Single Take.

Dié funksie kom ingebou in die nuwe Samsungs en laat die gebruiker toe om ’n reeks foto’s en kort video’s eensklaps te neem. Dit is veral handig as jy ’n bewegende voorwerp wil afneem, soos kinders wat rondhardloop of iemand wat in ’n swembad spring.

Kunsmatige intelligensie sal die beste foto uit die groep kies en selfs ’n kort video’tjie saamstel wat jy dadelik op Instagram kan deel.

Die Galaxy Z Flip se skerm vou in twee soos ’n stuk papier. Foto: Petrus Malherbe
Oopgevou beskik die Galaxy Z Flip oor ’n ruim skerm van 6,7 duim. Foto: Petrus Malherbe
Toegevou is die Galaxy Z Flip omtrent so groot soos ’n klein handspieëltjie. Foto: Petrus Malherbe
Jy kan die Galaxy Z Flip se skerm ook effens buig om gemaklik video’s te kyk. Foto: Petrus Malherbe

Die Galaxy Z Flip

Samsung het Sondagaand die eerste kykie na sy tweede voubare slimfoon gegee tydens die Oscars.

Die nuwe Galaxy Z Flip is ook Dinsdagaand saam met die nuwe Galaxy S20’s bekend gestel. Die Z Flip vou kleiner op as verlede jaar se Galaxy Fold.

Die ontwerp van die Z Flip herinner sterk aan ’n klein spieëltjie wat ’n vrou in haar handsak sal ronddra. Dit skep die indruk dat die Z Flip hoofsaaklik op ’n vroulike teikenmark gemik is.

Jy kan dit onder meer halfpad oopvou sodat dit gemaklik regop staan om die selfiekamera as ’n spieël te gebruik of om video-oproepe te maak sonder dat jy die foon hoef vas te hou. Die televisiepersoonlikheid Bonang Matheba is juis ook Dinsdagaand in Johannesburg as die amptelike Suid-Afrikaanse ambassadeur van die Z Flip aangekondig.

Voubare tegnologie bly egter nog peperduur en die Z Flip is geen uitsondering nie. Teen R29 999 is dit die duurste foon wat Samsung op die geleentheid bekendgestel het.

Die kamera van die Z Flip is egter nie naastenby so goed soos die van die S20 Ultra nie.

Hoewel die tegnologie van ’n voubare skerm indrukwekkend is, voel die Z Flip steeds soos ’n foefie eerder as die moet-hê-slimfoon van die jaar.

Gretige Suid-Afrikaners sal wel vanaf 22 Februarie al die kans hê om die Z Flip aan te skaf. Suid-Afrika is een van die eerste lande waar dié foon uitgereik word.

Verlede jaar se Galaxy Fold was, ondanks sy hemelhoë prys van meer as R40 000, ’n plaaslike topverkoper.

Die Z Flip is beskikbaar in swart en pers terwyl die S20-reeks in onder meer grys, blou en pienk uitgereik word.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.