Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Samsung bring 6 goedkoper fone na SA
Die Samsung Galaxy A51 en A71 is vandeesweek in Sandton bekend gestel. Foto: Petrus Malherbe

Samsung laat nie gras onder sy voete groei nie. Hy het Donderdag op ’n geleentheid in Johannesburg die koms van vyf nuwe fone in sy gewilde Galaxy A-reeks aangekondig en die goedkoper Note 10 Lite.

Dit sluit in die Galaxy A51 en A71 wat eersdaags beskikbaar sal wees.

Samsung het voorheen reeds sy meer bekostigbare fone in twee afsonderlike reekse uitgereik, naamlik die J- en A-reeks. Hierdie reekse is in 2019 as die Galaxy A-reeks herdoop en het gou aftrek gekry.

Die reeks sluit reeds in die Galaxy A10, A20, A30, A50, A70 en A80 wat almal deur die loop van verlede jaar uitgereik is.

Vir 2020 beplan Samsung nuwe weergawes van bykans al dié fone en het Donderdag die koms van die Galaxy A11, A21, A31, A51 en A71 aangekondig.

Dié fone sal wissel van sowat R3 000 vir die A11, tot R9 000 vir die A71.

Die A51 en A71 sal vroeg in Februarie beskikbaar wees, die A11 in Julie, die A21 in Junie en die A31 kan in Mei verwag word.

Wat kan jy verwag?

Selfs die heel goedkoopste foon in die reeks, die Galaxy A11, spog met ’n goeie kamera en ’n besonder groot battery inaggenome die foon se prys.

Samsung het Donderdag benadruk sy fokus met die Galaxy A-reeks is op bekostigbaarheid, maar nie ten koste van gehalte nie.

Hoewel dié fone heelwat goedkoper is as sy Galaxy S- en Note-reeks, bied dit steeds uitstekende funksionaliteit.

Die A11, A21 en A31 beskik al drie oor ’n drieledige kamerastelsel sowel as ’n afsonderlike selfiekamera.

Die A21 is teen R3 500 net R500 duurder as die A11, maar spog met ’n massiewe skerm van 6,5 duim (16,51 cm) en ’n groot battery van 4 000 mAh.

Die Note 10, wat van R17 000 tot R20 000 kan kos, het byvoorbeeld ’n battery van 4 300 mAh.

samsung

Die A51 en A71

Samsung het die nuwe A51 en A71 vandeesweek reeds aan die media gewys. Dit is sy eerste twee toestelle in die Galaxy A-reeks vir 2020.

Die A51 se ontwerp herinner sterk aan die Note 10 s’n, insluitende ’n skerm wat tot aan die uithoeke van die raam strek. Die foon bied ook uitstekende funksies teen ’n fraksie van die Note 10 se prys.

Die kamera is ook ’n merkbare verbetering op verlede jaar se A50. Die A51 het nou ’n hooflens van 48MP sowel as ’n 12MP-wyehoeklens, ’n 5MP-telefotolens en ’n 5MP-dieptelens.

Die A50 het net drie lense gehad van onderskeidelik 32MP, 8MP en 5MP.

Die A51 is vroeg in Februarie beskikbaar en kos R7 000.

Die A71 verruil ook die A70 se 32MP hooflens vir een van 68MP. Hy beskik ook oor die blitsvinnige nuwe Snapdragon 730-verwerker, teenoor die A70 se verouderde Snapdragon 675.

Die A71 is wel R1 000 duurder as sy voorganger teen R9 000.

Trouens, byna al die nuwe A-modelle is R1 000 duurder as hul voorgangers, behalwe die A51 wat dieselfde kos as wat die A50 gekos het.

Samsung het nooit die A40 in Suid-Afrika uitgereik nie, en volgens alle aanduidings gaan sy opvolger, die A41, ook nie hier beskikbaar wees nie.

Die nuwe Samsung Galaxy Note 10 Lite.Foto: Petrus Malherbe

Nuwe, goedkoper Note 10 ook bekend gestel

Afgesien van al die nuwe fone in sy Galaxy A-reeks het Samsung Donderdag in Johannesburg ook sy nuwe Note 10 Lite bekend gestel.

Dié foon spog met baie van die Note 10 se funksies, maar teen ’n bekostigbaarder prys.

Dit beskik ook oor die S Pen waarmee verskeie funksies uitgevoer kan word en waarmee daar selfs op die foon se skerm geskryf word soos in ’n boek.

Die Note 10 Lite is in twee kleure beskikbaar, Aura Glow en Aura Black. Dit is eersdaags beskikbaar teen R13 000.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Galaxy A-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.