Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Samsung gaan nou ook dié koel goed maak
Samsung het klomp nuwe produkte tydens die bekendstelling van die Galaxy Note 9 aangekondig. Foto: Twitter

Samsung is deeglik bewus daarvan dat slimfone reeds die middelpunt van ons bestaan geword het.

Nou sprei die maatskappy sy vlerke om ook ’n invloed binne gebruikers se huise uit te oefen.

Op die bekendstelling Donderdag van sy nuwe vlagskipfoon, die Galaxy Note 9, het Samsung ook ’n nuwe luidspreker en slimhorlosie aangekondig.

     

Die Galaxy Home

   

Die Galaxy Home gaan met Apple se HomePod, Google se Home en Amazon se Echo meeding. Dit is Samsung se eerste toetrede tot dié mark.

Hoewel sommige op die bekendstellingsgeleentheid in Johannesburg gespot het dat die Galaxy Home kompleet soos ’n potjie lyk, sê Samsung dit bied die perfekte kombinasie tussen “asemrowende klank en elegante ontwerp”.

Die maatskappy meen dis juis die punt dat die Galaxy Home soos ’n pot of standbeeld trots in die middel van ’n koffietafel kan staan sonder om afbreuk aan estetika van die vertrek te doen.

Dié slim luidspreker sal, sodra dit later vanjaar uitgereik word, ook soomloos met al jou Samsung-toestelle, insluitend jou slimtelevisie en -yskas, integreer.

Met die Galaxy Home betree Samsung nou ook die mark vir slim luidsprekers. Foto: Reuters

Een van Samsung se groot planne daarmee is om te help dat jy ononderbroke na jou musiek kan luister.

Die maatskappy het Donderdag ook ’n vennootskap met die musiekstromingsdiens Spotify aangekondig wat nou op al sy toestelle ingesluit gaan word.

Met ’n Galaxy Home sal gebruikers teoreties deur hul selfone na musiek in hul motors kan luister, by die huis aankom en dit sal sonder onderbreking na die luidspreker oorskuif.

   

’n Baie slim ‘horlosie’

      

Nóg ’n verrassende aankondiging op Donderdag se geleentheid was die Galaxy Watch, ’n slimhorlosie wat gaan meeding met Apple Watch en bestaande produkte van Fitbit, Polar en dies meer.

Twee weergawes van die Galaxy Watch is ontwerp, spesiaal vir mans en vroue. Dit lyk ook op ’n haar soos ’n “gewone” horlosie; ’n doelbewuste stap van Samsung sodat die horlosie ook aantreklik is vir diegene wat nie regtig van sport of oefen hou nie.

Die nuwe Galaxy Watch word na verwagting teen middel September in Suid-Afrika uitgereik.Foto: Samsung
Die Galaxy Watch het ook ’n ontwerp spesiaal vir vroue.Foto: Samsung

Dit meet wel steeds heeldag jou hartklop. Dit monitor ook jou stresvlakke sowel as jou slaappatrone. Samsung spog ook dat die horlosie se battery “minstens vyf dae” hou, selfs al oefen jy elke dag.

Die Galaxy Watch sal na verwagting teen middel September in Suid-Afrika teen ’n verwagte prys van R5 499 beskikbaar wees.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfoon  |  Luidspreker  |  Slimhorlosies  |  Tegnologie  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.