Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Samsung se voufoon van R45 000 breek klaar

Dit is seker enige tegnologiemaatskappy se grootste nagmerrie: jou splinternuwe – en ongelooflik duur – voubare slimfoon breek in die hande van tegnologieskrywers van oraloor.

Dit is ongelukkig die presiese nagmerrie waarmee Samsung die afgelope dag of wat worstel nadat etlike prominente tegnologieskrywers van gesogte publikasies soos CNBC, The Verge en Bloomberg video’s en foto’s gedeel het van ’n gebreekte Samsung Galaxy Fold.

Die Galaxy Fold is Samsung se eerste voubare foon. Dit is aanvanklik in Februarie met die bekendstelling van die Galaxy S10 aan joernaliste gewys.

Maar Samsung was baie geheimsinnig daaroor en niemand was toegelaat om die foon af te neem of daaroor te skryf nie.

Die Galaxy Fold word Dinsdag amptelik op ’n geselligheid in Melrose Arch, Johannesburg bekend gestel.

Suid-Afrika is een van die eerste lande waar dié peperduur foon beskikbaar gaan wees.

Luidens bronne gaan die Galaxy Fold meer as R45 000 kos, hoewel die plaaslike prys nog nie bevestig is nie.

Planne vir Dinsdag se bekendstelling mag straks nou verander nadat foto’s en video’s van gebreekte Galaxy Folds die wêreld ingestuur is.

Mark Gurman, tegnologieskrywer by Bloomberg, het Woensdag getwiet sy Galaxy Fold is na net twee dae “heeltemal gebreek” en “onbruikbaar”.

In ’n foto kan gesien word hoe die een kant van die Fold se skerm net swart is.

Die Fold is as’t ware twee fone wat deur ’n enkele skerm aanmekaar verbind is. As die toestel oopgevou is, vertoon dit soos ’n tablet. Toegevou is dit nogal ’n bonkige toestel byna so groot soos ’n televisie se afstandbeheerder.

Die skerm van Dieter Bohn van The Verge se Fold het begin oplig na net ’n paar dae se gebruik.

“Dit is ontstellend om na net twee dae ’n knop op my toestel te sien,” skryf hy.

“Selfs meer ontstellend is dat die knop later so hard op die skerm gedruk het dat dit gebreek het.”

Bohn sê hy het glad nie die foon “sleg behandel” nie, en bloot “normale foon-dinge” daarop gedoen, soos om dit oop en toe te vou en in sy broeksak rond te dra.

Hy sê hy het na Samsung uitgereik om te hoor wat moontlik die oorsaak kon wees.

Steve Kovach van CNBC het ’n video op Twitter gedeel waarin sy Galaxy Fold se een skerm ook probleme gee.

Die linkerkantste skerm flikker en gaan uiteindelik dood.

Kovach se video is al byna 2 miljoen keer gekyk.

Die toestelle wat die joernaliste ontvang het, was die ware Jakob en die einste produkte wat gebruikers vanaf aanstaande week sal kan aanskaf.

In ’n verklaring sê Samsung hy is bewus van ’n “handjievol klagtes” oor skade aan die skerms van sy nuwe vlagskipfoon. Die tegnologiereus gee die versekering dat hy “persoonlik” elkeen van dié toestelle gaan ondersoek om te probeer uitpluis wat fout gegaan het.

In sommige gevalle het joernaliste ’n beskermende lagie wat oor die skerm geplak is, probeer afhaal wat moontlik tot die gebreekte skerms kon lei.

Kovach het egter nie sy foon se skermlagie probeer afhaal nie, en dit het nietemin gebreek.

Skeptici het vroeër ook die duursaamheid van die Fold se skarniere betwyfel en vrese bestaan dat die skerm uiteindelik in twee gaan breek as dit gereeld oop- en toegevou word.

Samsung het ’n paar weke gelede ’n hipnotiese video uitgereik wat wys hoe ’n ry robot-arms ’n Galaxy Fold herhaaldelik oop- en toevou.

Samsung sê hy beskou só ’n toets as “noodsaaklik”.

Dit blyk dat selfs hierdie poging om vrese te besweer ongedaan gemaak is deur al die fone wat reeds gebreek het nog voordat die foon amptelik beskikbaar is.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfoon  |  Galaxy Fold  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.