Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Tegnologie-reuse se base oor gedrag gekap

Demokratiese sowel as Republikeinse wetgewers in Amerika het Google en Facebook Woensdag oor hul beweerde onmededingende gedrag en die misbruik van mag oor die kole gehaal.

Die maatskappye se onderskeie hoofde, Sundar Pichai van Google en Mark Zuckerberg van Facebook, het saam met hul eweknieë van Amazon en Apple voor die Amerikaanse huis van verteenwoordigers getuig.

Die voorsitter van die huis se paneel oor onmededingende gedrag, wat die verhoor gelei het, sê al vier die hoofde het erken dat hul optrede tot dusver kommerwekkend is.

“Wat ons in die verhoor gehoor het, bevestig die bewyse wat ons in die afgelope jaar ingesamel het,” het David Cicilline, ’n Demokraat, aan Reuters gesê.

Zuckerberg, Pichai, Jeff Bezos van Amazon en Tim Cook van Apple is behoorlik gepak oor bewerings dat hulle kleiner teenstanders verlam sodat hulle die markleiers in hul onderskeie velde kan bly.

Google, Facebook, Amazon en Apple se gesamentlike markwaarde beloop meer as $5 000 miljard.

Weens die Covid-19-pandemie het die verhoor per video plaasgevind. Dit was die eerste keer dat die vier hoofde saam voor die wetgewers verskyn.

Hoewel dit Bezos se eerste verskyning voor die huis was, het hy die kalmste voorgekom.

Cook is met minder moeilike vrae gepeper en het dit ook deegliker beantwoord as sy eweknieë in die bedryf.

Zuckerberg kon skaars kop bo water hou en het gesukkel om spesifieke vrae oor sy maatskappy se praktyke te beantwoord.

Pichai was die slaansak van die konserwatiewe lede van die paneel wat herhaaldelik wou weet of Google doelbewus konserwatiewe menings en stemme probeer keer.

Die hoofde van Amazon, Facebook, Google en Apple het Woensdag voor lede van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers verskyn. Foto: Reuters

Die verhoor is wel nie baie goed deur lede van die publiek ontvang nie. Dit is regstreeks op verskeie platforms uitgesaai. Die hoofklagte is dat dit onsamehangend was omdat die videoverbinding met die onderskeie hoofde gereeld onderbreek is.

Cicilline het die verrigtinge begin en Google daarvan beskuldig dat hy “die inhoud van kleiner, opregte ondernemings steel”. Hy beweer dat Google onder meer die resensies steel van ondernemings soos Yelp (waarop klante restaurante beoordeel) en dan Yelp se eie resensies uit soekresultate verwyder.

Pichai het kalm gereageer en gesê hy het inligting oor spesifieke gevalle nodig om op die bewerings te antwoord.

“Ons maak seker ons voldoen aan die hoogste standaarde,” het hy gesê en bygevoeg hy stem nie saam daarmee dat Google ’n dief is nie.

Zuckerberg is op sy beurt gekap oor Facebook se oorname van Instagram in 2012, en oor of die oorname bloot daaroor gegaan het dat Instagram een van sy grootste mededingers was.

Volgens Zuckerberg was Instagram egter met die oorname net ’n “klein platform vir die deel van foto’s” eerder as die fenomeen wat dit vandag is.

Hy moes egter wel toegee dat Facebook al die funksionaliteite van ander sosialemediaplatforms geneem en “aangepas” het.

Op die vraag van Pramila Jayapal, ’n Demokraat, oor hoeveel maatskappye se intellektuele eiendom Facebook “net so gekopieer het”, kon Zuckerberg geen antwoord verskaf nie.

Bezos is weer vasgevat oor Amazon se beweerde gebruik van die data van derdepartyverkopers op sy platform om sy eie produkte te bemark. Amazon weet hoeveel van sekere produkte derde partye verkoop en sal derhalwe daardie produkte in sy eie winkel begin bemark.

Bezos het gesê dit is teen Amazon se beleid en die maatskappy sal optree teen enigiemand wat hierdie reëls oortree.

Op ’n vraag het Cook ontken dat Apple sonder meer die kommissie kan verhoog wat hy vra van die skeppers van apps om dit in sy app-winkel te verkoop.

Hy beskryf die bedryf om apps te ontwikkel as “ongelooflik mededingend” en sê programmeerders kan ook apps vir Android- en Microsoft-toestelle skryf.

’n Volledige verslag oor die beweerde onmededingende gedrag deur die onderskeie tegnologiereuse word later vanjaar verwag.

Dit kan ook voorstelle behels oor watter praktyke die maatskappye moet wysig, hoewel die wetgewers nie by magte sal wees om enige daarvan af te dwing nie.

Meer oor:  Google  |  Amazon  |  Apple  |  Facebook  |  Tegnologiemaatskappy  |  Tegnologie  |  Mededinging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.