Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Uber span met Hyundai saam vir vlieënde taxi

Uber het kragte saamgesnoer met die motorvervaardiger Hyundai om ’n vlieënde, elektriese taxi te ontwikkel.

Ander maatskappye, soos Duitsland se Daimler, China se Geely en Japan se Toyota, het al soortgelyke planne vir vlieënde motors bekend gemaak.

Dié voertuie sal na verwagting vertikaal opstyg. Daar is tans nog heelwat tegnologiese en regulatoriese hindernisse wat die ondernemings se planne spreekwoordelik in die wiele ry.

Hoewel Uber en die Suid-Koreaanse Hyundai ’n vennootskap aangegaan het om vlieënde taxi’s te ontwikkel, verskil die ondernemings hemelsbreed oor wanneer hulle hoop om die eerste voertuie in die lug te sien.

Eric Allison, hoof van Uber Elevate, die filiaal wat die taxi ontwikkel, het op die gesogte CES-tegnologiekonferensie in Las Vegas gesê die maatskappy hoop om mense teen 2023 rond te vlieg.

Eusin Chung, uitvoerende voorsitter van Hyundai, is egter meer beskeie in sy vooruitsig en verwag dat vlieënde taxi’s eers teen 2028 sal kan opstyg.

Volgens Chung sal dit broekskeur gaan vir lande om voor dan nuwe wetgewing in plek te kry om dié soort voertuie te reguleer.

Hyundai is wel die eerste motorvervaardiger wat by Uber se vlieëndetaxiprojek betrokke raak. Agt ander ondernemings het al die voorneme gegee om met Uber saam te werk, maar Hyundai is die eerste een met kennis van die vervaardiging van motors.

“Ons plan om beperkte kommersiële bedrywighede in 2023 te begin, sal waarskynlik die betrokkenheid van ander vennote vereis,” sê Sarah Abboud, kommunikasiebestuurder van Uber.

’n Voorstelling van Hyundai en Uber se vlieënde taxi wat vier passasiers en ’n vlieënier 100 km ver sal kan vervoer.

Uber en Hyundai gaan ’n prototipe van ’n vlieënde motor op die internasionale CES-konferensie, wat tans aan die gang is, bekend stel. Dié vlieënde motor kan tot vier passasiers en ’n vlieënier 100 km ver vervoer.

“Die totale koste om passasiers te vervoer, moet regtig laag wees sodat almal dit kan geniet,” sê Shin Jai-won, hoof van die lugvaartafdeling van Hyundai.

Daar is verskeie soorte vlieënde taxi’s wat tans ontwikkel word. In sommige gevalle word ’n elektriese enjin met ’n straalenjin vervang en in ander word die motor met roterende “vlerke” toegerus of selfs met rotors in plaas van skroewe.

Daar word verwag dat daar eendag meer vlieënde motors as kommersiële vliegtuie gaan wees, sê Shin.

Hy glo dat daar eendag tot 25 000 sulke vlieënde motors oor die wêreld heen gaan rondvlieg.

Hyundai het verlede jaar belowe om teen 2025 $1,5 miljard in die ontwikkeling van vlieënde motors te belê.

Boeing het ook reeds sy voorneme aangekondig om saam met Porsche aan ’n soortgelyke voertuig te werk.

Meer oor:  Uber  |  Hyundai  |  Taxidiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.