
’n Nuwe Afrikaanse kanaal begin op 9 Maart op DStv.Foto: Unsplash
kykNET se groep van kanale raak op 9 Maart een meer met die bekendstelling van kykNET Lekker.
Dié splinternuwe kanaal gaan net beskikbaar wees op DStv Access, die betaaltelevisiediens se tweede goedkoopste pakket.
“kykNET Lekker sal kykers die geleentheid bied om ’n verskeidenheid van die beste kykNET-programme, van sepies, leefstyl- en kinderprogramme tot musiek te kan geniet,” sê dié kanaal Vrydag in ’n verklaring.
Al die inhoud is wel voorheen op van kykNET se ander kanale, insluitende sy vlagskipkanaal en kykNET & Kie, uitgesaai.
Volgens Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, maak kykNET Lekker nou Afrikaanse inhoud bekostigbaarder en toegankliker vir DStv-kykers.
kykNET is net beskikbaar op DStv se twee duurste pakkette, Premium en Compact Plus.
Dié pakkette kos van 1 April af onderskeidelik R819 en R529 per maand.
kykNET & Kie en kykNET Nou is op die Family- tot Premuim DStv-pakkette beskikbaar.
DStv Access kos van 1 April af R110 per maand, R5 meer as nou.
Geen van kykNET se nuwe inhoud, soos die jongste seisoen van Die Republiek van Zoid Afrika of die tweede seisoen van die talentkompetisie Maak my Famous sal op kykNET Lekker te sien wees nie. Kykers sal eerder toegang kry tot ouer reekse, soos die eerste seisoen van Jou Show met Emo en die fiksheidsprogram Kry daai lyf.
kykNET Lekker is van 9 Maart op DStv-kanaal 148.