Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Laer datakoste: MTN, Vodacom nie beïndruk
 selfoontoring
MTN en Vodacom het Maandag gehoor hulle moet binne die volgende paar maande die koste van data met tot 50% sny. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners het ’n vroeë Kersgeskenk ontvang noudat die Mededingingskommissie gelas het Vodacom en MTN moet die prys van data met tot die helfte sny en dit binne die volgende twee maande doen.

Die kommissie het Maandag sy jare lange markondersoek na die “buitensporig hoë prys van data” in Suid-Afrika afgehandel.

In die verslag van meer as 370 bladsye bevind die kommissie onder meer dat Vodacom en MTN ’n duopolie het in die Suid-Afrikaanse mark en dat kleiner rolspelers soos Cell C en Telkom nie ’n geleentheid het om teen hulle mee te ding om data teen ’n bekostigbare prys aan verbruikers te bied nie.

Daarom het die kommissie besluit “drastiese ingryping” in die bedryf word genoodsaak om veral armer Suid-Afrikaners teen hoë datapryse te beskerm.

Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die kommissie, het Maandag etlike stappe aangekondig waaraan diensverskaffers, maar veral Vodacom en MTN as die twee grootste rolspelers, oor die komende maande aan sal moet voldoen, of hulle word deur moontlike vervolging in die gesig gestaar.

Dit sluit in dat Vodacom en MTN binne net twee maande ’n ooreenkoms met die kommissie moet aangaan waarvolgens hulle die prys van data drasties sny. Gegrond op “beskikbare bewyse” beveel die kommissie aan dat die prys van data met enigiets tussen 30% en 50% verlaag word.

Dit is nie duidelik of die kommissie bedoel die diensverskaffers moet die huidige prys van hul data verder verlaag nie, want hul markondersoek was geskoei op verouderde pryse van ’n paar jaar gelede.

Vodacom het juis by navraag benadruk dat hy reeds die prys van sy data sedert Maart 2016 effektief met 50% verlaag het.

Die kommissie het diensverskaffers ook oor die kole gehaal vir die groot verskil in die prys per megagreep data tussen vooruitbetaalde kliënte en diegene op kontrak.

Daarom moet MTN en Vodacom die prys per megagreep van 500 megagreep data wat geldig is vir 30 dae oor die volgende paar maande dieselfde maak vir albei kategorieë van sy gebruikers.

Die kommissie beskou die prysverskil en dat diensverskaffers soveel meer per megagreep data vra vir kleiner bondels data as die “blatante uitbuiting van armes” en Vodacom en MTN aangeraai om dit onmiddellik te stop.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, en ook een van die ministers wat oorspronklik die markondersoek aangevra het, het die bevindinge daarin vervat verwelkom.

Volgens Patel is daar duidelik ’n “gebrek aan mededinging” in die selfoonmark in Suid-Afrika.

Hy het ook gewaarsku dat diensverskaffers se diskriminasie teen armer Suid-Afrikaners strydig is met die regering se beleid oor inklusiwiteit.

“Die 21ste eeu word deur data geken. Ons moet nie ’n digitale gaping in die samelewing skep nie.”

Die kommissie het Vodacom en MTN ook daarvan beskuldig dat hulle Telkom en Cell C uitbuit omdat daardie diensverskaffers nie dienste teen kosprys by hulle kan koop nie.

Telkom en Cell C is albei afhanklik van onderskeidelik Vodacom en MTN se netwerkinfrastruktuur. Maar Vodacom en MTN vra volgens die kommissie ’n hoër bedrag om dienste aan Telkom en Cell C te lewer as wat hy self betaal, en derhalwe kan die kleiner diensverskaffers nie goedkoper pryse aan hul gebruikers bied nie.

MTN en Vodacom se argument dat hoë datapryse deur ’n gebrek aan beskikbare hoëfrekwensiespektrum veroorsaak word, hou ook nie water nie, sê Bonakele.

MTN en Vodacom se argument dat hoë datapryse deur ’n gebrek aan beskikbare hoëfrekwensiespektrum veroorsaak word, hou ook nie water nie.

Ook nie die argument dat data in Suid-Afrika soveel duurder is omdat die netwerk hier soveel beter is nie.

Volgens Bonakele bestee Vodacom en MTN minder as 5% van hul bedryfsuitgawes per jaar aan die lisensiëring van spektrum.

Daarteenoor word die prys van data in sommige gevalle met tot 20% verhoog.

In reaksie sê MTN Maandag hy moes net in die laaste vyf jaar R50 miljard aan die uitbreiding van sy netwerkinfrastruktuur bestee om te vergoed vir die gebrek aan bykomende spektrum.

Vodacom sê op sy beurt dis verregaande dat die kommissie nie die invloed van gebrek aan spektrum in sy bevindinge verreken het nie veral omdat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid self al aangedui het die toekenning van meer spektrum is “noodsaaklik” ten einde die prys van data te verlaag.

MTN en Vodacom het ook aangedui hulle benodig meer tyd om die kommissie se verslag deeglik te bestudeer alvorens hulle meer kommentaar oor die bevindinge daarin gaan lewer.

Bonakele het Maandag ook gewaarsku dat enige diensverskaffer wat nie gehoor gee aan die kommissie se vereistes nie, ingevolge die Mededingingswet vervolg kan word.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.