Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Laer datakoste: Nuwe reëls kan in hof gaan draai

As MTN en Vodacom aan die Mededingingskommissie se bevel moet voldoen om hul datatariewe met tussen 30% en 50% te verlaag, sal hulle dadelik verliesmakend wees.

Suid-Afrikaners smeek al lank vir goedkoper data.

Steven Ambrose, uitvoerende hoof van Strategy Worx, sê tans is data verantwoordelik vir tussen 40% en 50% van selfoonoperateurs se inkomste. As datakoste gehalveer word, sal dit hul inkomste met 20% tot 25% laat daal.

“Hul marges is nie eens dit nie en sal dus die operateurs onmiddellik in verliesmakende posisies plaas. Hulle móét dus hof toe gaan, want die kommissie probeer kommersiële bedrywighede vernietig en stel onpraktiese eise.”

Hy sê die grootste ironie is dat die regering se eie reguleerder (Okosa) vroeër bevind het die datatariewe sal tussen 40% en 50% val indien die regering beskikbare radiofrekwensiespektrum aan operateurs toestaan. Die regering verseg al vir ’n dekade om dit net te doen.

Verskeie kenners sê die Mededingingskommissie is potensieel skuldig aan massiewe oorskryding van sy magte én inmenging op ’n vlak wat hoogs waarskynlik in die howe sal eindig.

Dié hofgevegte sal jare duur terwyl verbruikers benadeel word.

Die kommissie se volledige verslag is nog nie beskikbaar nie, maar in die opsommende verslag het die kommissie bevind datakoste in Suid-Afrika is te hoog, dat Vodacom en MTN dominante markposisies het, dat datakoste teen arm verbruikers diskrimineer, daar ’n gebrek aan mededinging in die mobiele datamark is en ook ’n gebrek aan data-alternatiewe vir armes relatief tot rykes soos vesel na die huis en WiFi in die werkplek.

Vodacom en MTN het albei wal gegooi deur die gebrek aan voldoende spektrum om koste te verlaag uit te wys.

Nalo Gungubele, ’n prokureur van Adams & Adams, sê die kans is groot dat selfoonoperateurs die kommissie se aanbevelings op grond van redelikheid en uitvoerbaarheid in die hof kan uitdaag. Enige regsoptrede kan jare duur en die kommissie se aanbevelings en regstellings vertraag, sê sy.

MTN het reeds Woensdag in ’n verklaring gesê hy verskil met die kommissie se ontleding en aanbevelings en sal hom “met mening verdedig” teen indringende en verreikende aanbevelings.

Tembinkosi Bonakele, mededingingskommissaris, het Maandag gesê Vodacom en MTN moet binne twee maande ’n ooreenkoms met die kommissie bereik oor die verlaging van datatariewe, veral voorafbetaalde maandelikse bondels. Indien nie, sal die kommissie vervolging oorweeg, het hy gesê.

Ambrose sê die twee maande is onrealisties omdat dit boonop oor die feestyd strek en enige tariefveranderinge sowat ses weke neem om deur Okosa goedgekeur te word.

Arthur Goldstuck, ’n sosialemedia-ontleder van World Wide Worx, stem saam die kommissie het die impak onderskat van die regulatoriese voeteslepery met die lisensiëring van spektrum.

Die bestaande operateurs kon net 4G/LTE ontplooi deur op ’n manier spektrum wat vir 3G bedoel was in te span, maar dit is duur en ook ondoeltreffend, sê hy.

MTN sê Suid-Afrika het van die laagste spektrum-toewysing in al die markte waar hy sake doen.

Ambrose verduidelik die voordele van laer frekwensie is dat minder selfoontorings nodig is vir ’n groter reikwydte. Weens beperkte spektrum moet meer torings opgerig word om die aantal mense te bedien met die hoeveelheid data wat hulle wil hê. “Spektrum is soos ’n pyp, jy kan net soveel data dra. Hoe groter die pyp is, hoe meer mense kan jy be­dien of hoe beter die diens.”

As jy spektrum verdubbel, halveer jy die koste daarvan om data te voorsien. Oor tyd word dit ook al hoe goedkoper omdat volume en verbruikers toeneem, sê hy.

Verlede jaar was die gemiddelde maandelikse datagebruik per gebruiker op die Vodacom-netwerk 700 MB, teenoor 500 MB in 2017.

Nêrens anders in die wêreld lewer operateurs die diens aan die getal intekenare en volumevraag met die beperkte spektrum wat Vodacom en MTN het nie.

“Tans moet netwerke meer data lewer op dieselfde spektrum en hulle bestee miljarde aan tegnologie om dit steeds te kan regkry. Nou wil die kommissie hul inkomste halveer, maar verwag ook hulle moet groot bedrae opdok vir bykomende spektrum,” sê Ambrose.

Die kommissie wys in sy opsommende verslag na data tot die derde kwartaal van 2019 in 37 Afrikalande wat wys Suid-Afrika is veel duurder as ander lande op die vasteland.

Ambrose sê dit is verkeerd om 3G-datakoste wat in die meeste Afrikalande beskikbaar is, met Suid-Afrika se 4G-koste te vergelyk. Ander Afrikalande se gehalte van diens is ook veel swakker.

“Nêrens anders in die wêreld lewer operateurs die diens aan die getal intekenare en volumevraag met die beperkte spektrum wat Vodacom en MTN het nie.”

Die kommissie het ook aanbeveel dat alle selfoonoperateurs binne drie maande ’n soort lewenslyn-pakket van gratis daaglikse data aan alle voorafbetaalde intekenare moet gee.

Goldstuck sê dié aanbeveling gee vir die eerste keer erkenning dat die verskaffers van slimfone en dienste op dié fone ook ’n verantwoordelikheid het om die eienaars van die slimfone in staat te stel om dit te gebruik.

Met ander woorde, as hulle ’n slimfoon verkoop wat data nodig het om te funksioneer, is dit hul plig om minstens ’n basiese vlak van data te verskaf sodat die toestel kan werk.

Bloot om die Play Store op Android­fone in stand te hou, en om die basiese apps op datum te hou, het ’n sekere hoeveelheid data nodig wat vir sowat 33% van slimfoongebruikers onbekostigbaar is, sê hy.

Michael Treherne, ’n ontleder van Vestact, het aan Financial Mail gesê as die regering gratis data wil weggee, behoort hulle telekommunikasiemaatskappye te betaal vir daardie data.

Meer oor:  Vodacom  |  Mtn  |  Cell C  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Data  |  Slimfoon  |  Spektrum  |  Datakoste  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.