Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Luisterboeke: Die toekoms of nog net te duur?
Luisterboeke is wel duur, maar dit word al meer gewild, veral in Brittanje. Foto: Pexels

Hoewel luisterboeke reeds ’n geruime tyd beskikbaar is, het dit nog nie werklik in Suid-Afrika posgevat nie, hoofsaaklik weens die hoë koste om dit te vervaardig en te koop.

Met die bekendstelling van verskeie Afrikaanse titels as oudioboeke, hoop NB-uitgewers om die ekonomiese vooruitsig van dié medium van lees gaandeweg te verander.

Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks is dit vir nou nog te duur om selfs net een titel in ’n luisterboek te omskep, maar danksy ruim befondsing van Media24 se sinergieprojek het NB bykans 36 titels geïdentifiseer wat in hierdie formaat omskep gaan word.

NB is nes Netwerk24 deel van Media24. Netwerk24 het reeds vandeesmaand die eerste van twee luisterboeke eksklusief aan sy intekenare beskikbaar gestel.

“Hierdie is ’n heerlike geleentheid vir Afrikaanse boekwurms wat intekenare van Netwerk24 is om gratis na van ons mees geliefde boeke te kan luister,” sê Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB.

Dana Snyman se Op pad is die eerste titel wat as deel van dié projek op Netwerk24 beskikbaar is.

Luister daarna hier

Moeilik om titels te kies

Volgens Nicky Stubbs, verkoops- en bemarkingsbestuurder, was dit ’n moeilike keuse oor watter boeke om in luisterboeke te omskep.

Die befondsing laat die ontwikkeling van ’n beperkte aantal titels toe.

Daarom het NB verskeie faktore in ag geneem om te kies van watter boeke om luisterboeke te maak.

Op pad deur Dana Snyman.
Op pad deur Dana Snyman.

Eerstens moes die boek in Afrikaans gepubliseer wees, ’n voorvereiste van die befondsing. Tweedens is daar gelet op die gewildheid van die skrywer se boeke in die gedrukte formaat.

Derhalwe word ’n skrywer soos Deon Meyer se boeke by die projek betrek.

Laastens het NB ook gekyk na die moontlikheid dat die boeke as voorgeskrewe werke in skole en universiteite kan dien, wat dit natuurlik aan ’n breër gehoor beskikbaar sal stel.

“Die seleksie moet so spesifiek wees dat jy weet dat enigiemand aanklank by minstens een van die beskikbare titels sal vind,” sê Stubbs.

Hoe maak mens ’n luisterboek?

   

Ilse Volschenk, produksiebestuurder by NB, sê daar gaan bykans netsoveel voorbereiding in die skep van ’n luisterboek as in die geval van ’n gedrukte boek.

Eerstens moet ’n stemkunstenaar gekies word wat die “gevoel” van die boek op ’n boeiende wyse aan die “leser” kan oordra. Die bekende radiopersoonlikheid Nic de Jager het met sy diep, dreunende stem al die verpersoonliking van die speurder Bennie Griessel geword en derhalwe gaan hy ook Meyer se Prooi voorlees.

NB beplan om nog voor die einde van die jaar 20 nuwe luisterboeke beskikbaar te maak. Die eerste tien titels sal reeds van Julie op Audible aangekoop kan word.

Audible, wat deur Amazon besit word, “huisves” as’t ware luisterboeke en laat gebruikers toe om dit van daar af te laai.

Hoekom is luisterboeke so duur?

   

Volschenk gee toe dat die prys van luisterboeke vir sommige Suid-Afrikaners as buitensporig duur beskou kan word.

Dit is dikwels heelwat duurder as die gedrukte weergawe van dieselfde titel.

Die rede hiervoor is veelvoudig: dit kos ongelooflik baie om ’n boek op te neem en die klankopname te redigeer en gereed te kry, en dan ook om dit op Audible te “huisves”. Dié platform neem natuurlik ook sy pond vleis uit elke boek wat verkoop word, boonop in dollar.

Op pad van Dana Snyman het ses dae geneem om voor te lees. Die stemkunstenaar moet deur sowat 40 bladsye ’n dag werk om die hele boek betyds klaar op te neem.

Die koste hieraan verbonde beloop minstens R50 000, sê Volchenk, bykans dieselfde wat dit sou kos om 3 000 kopieë van die boek te laat druk.

Die berging van die digitale lêers waaruit die luisterboeke bestaan, kos ook geld, wat koste verder opstoot.

Is luisterboeke elders baie gewild?

   

Stubbs sê daar is nog nie juis enige tasbare verkoopsyfers vir luisterboeke in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar nie, omdat die aanbod so klein is.

luisterboeke
Jy kan enige tyd van die dag na luisterboeke luister. Foto: Unsplash

Daar is 31 luisterboeke van Afrikaanse titels wat deur Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie en Kwêla uitgegee is, op Audible beskikaar.

In Brittanje het die verkoop van luisterboeke die afgelope jaar die hoogte ingeskiet, berig The Guardian. Verkope is 43% meer op ’n jaargrondslag met verreweg die meeste titels wat op Audible aangeskaf word.

Stephen Lotinga, uitvoerende hoof van die Britse uitgewersvereniging, sê hulle was ietwat onkant gevang deur die groei in belangstelling in luisterboeke.

Maar beteken dit gedrukte boeke is op pad uit?

   

Geensins, meen Stubbs. NB sien luisterboeke as net nog ’n geleentheid om sy titels aan so ’n breër mark as moontlik – en in soveel formate as moontlik – beskikbaar te stel.

“Nes e-boeke destyds beskou ons luisterboeke as ’n geleentheid,” sê sy.

Van die ander nuwe titels waarna luisterboek-entoesiaste kan uitsien, is Stormkind deur Riana Scheepers, Vlerke vir almal deur Marion Erskine, Is Sagie deur Jan van Tonder, Dubbelspel deur Wilna Adriaanse, Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck, Katryn van die Richtersveld deur Jan Huisamen, Voetpad na Vergelegen deur Chris Barnard en Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper.

  • Netwerk24 is nes NB-uitgewers deel van Media24. NB-uitgewers se luisterboek-projek word in oorleg met Netwerk24 aangebied.

Wil jy luisterboeke op Netwerk24 luister?

Klik hier om na Dana Snyman se reisjoernaal Op pad te luister.

En vir die kleinspan is daar ook 'n lekker luisterboek. Klik hier om na Fiona Moodie se Noko en die Koel Katte te luister.

Luisterboeke op Netwerk24

Netwerk24 en NB Uitgewers gaan vir die volgende jaar elke maand twee luisterboeke op Netwerk24 beskikbaar stel

  • Die boek is slegs beskikbaar vir Netwerk24-intekenare.
  • Die boek is tot 31 Julie op Netwerk24 beskikbaar en sal daarna met 'n ander luisterboek vervang word. Begin daarom sommer vandag nog luister!
  • Jy kan op jou rekenaar of binne ons app na die luisterboeke luister.
  • Maak seker jy het die jongste weergawe van die app as jy die boek op jou selfoon wil luister.
  • Maak seker jou wifi is aangeskakel as jy die boek begin luister.

Meer oor:  Nb-Uitgewers  |  Tegnologie  |  Luisterboeke  |  Vermaak  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.