Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Maak só ’n video-oproep sonder data
Veedo kan gebruik word sonder ’n aktiewe databondel.

Werknemers wat noodgedwonge aan videokonferensies en -vergaderings moet deelneem, moet in baie gevalle self opdok vir die data wat daarvoor nodig is.

Daarom het ’n paar Suid-Afrikaners koppe bymekaargesit en ’n nuwe platform vir video-oproepe geskep wat geen data van die eindverbruiker benodig nie, mits hy die oproep vanaf sy selfoon se Chrome-webblaaier maak.

Veedo is deel van die sogenaamde #datafree-beweging en kan gebruik word selfs al het jy geen beskikbare data of lugtyd nie.

In plaas daarvan betaal die eienaar van die Veedo-rekening vir die data wat elke gebruiker tydens die oproepe gebruik.

Elke onderneming met ’n Veedo-rekening word voorsien van sy eie bediener. Dit beteken Veedo sal kan bepaal presies hoeveel data almal vir die oproepe gebruik het. Die rekening word uiteindelik deur die onderneming – en nie die gebruikers nie – vereffen.

As jy dus op jou selfoon aan ’n video-oproep op Veedo deelneem, sal dit niks van jou data gebruik nie. Selfs sonder enige data sal jy die oproep kan maak.

Oproepe kan op enige netwerk gemaak word, maar die beginsel van “geen data benodig” geld net vir oproepe wat oor ’n mobiele netwerk gemaak word, en dus nie vir oproepe oor WiFi nie.

Waar is die vangplek?

Veedo is buitengewoon duur, maar word meer bekostigbaar as ondernemings meer gebruikers het.

Die diens kos ’n minimum van R10 000 per maand vir tot tien deelnemers per vergadering.

Daarbenewens moet elke onderneming ook eers R25 000 neersit vir sy eie, toegewyde bediener.

Vir 50 deelnemers kos die diens R30 000 per maand.

Dit kom neer op R600 per gebruiker per maand; heelwat duurder as soortgelyke dienste soos Zoom of Webex.

Gour Lentell, uitvoerende hoof van biNu, ’n onderneming wat navorsing gedoen het oor die hoë pryse van data in Suid-Afrika, en Mignon Hardie, medestigter van Veedo, het aan Netwerk24 gesê die diens is spesifiek op groter ondernemings gemik wat koste kan spaar deurdat hulle nie hul individuele werknemers van die nodige data hoef te voorsien om virtuele vergaderings by te woon nie.

“Daar is baie praktiese redes oor waarom dit moeilik is vir organisasies om vir werknemers se data te betaal,” verduidelik Lentell en Hardie.

Die Johannesburg-metro het byvoorbeeld reeds vir Veedo genader sodat formele raadsvergadering daarop kan plaasvind. Sommige raadslede wou in die verlede nie aan die vergaderings deelneem nie omdat hulle onwillig was om hul mobiele data daarvoor te gebruik.

“Selfs al kan net twee mense uit ’n groep van tien nie aan ’n videokonferensie deelneem nie omdat mobiele data te duur is, kan dit die waarde van die hele vergadering ondermyn.”

Werkgewers wat werknemers van data voorsien, kan ook nie met sekerheid weet waarvoor die data gebruik word nie, wat tot onnodige uitgawes kan lei.

Lentell en Hardie gebruik ook die voorbeeld van die Universiteit van die Witwatersrand wat Veedo vir sy 45 000 studente gebruik om aanlyn klas te gaan.

In so ’n geval kan die uiteindelike prys per student per maand betreklik laag wees.

Veedo se diensfooi sluit egter nie die koste van die data in nie. Daarvoor sal die eienaar van die rekening, hetsy ’n onderneming of ’n opvoedkundige instansie, self moet betaal.

Volgens Lentell en Hardie werk hulle aan ’n weergawe van Veedo spesifiek vir opvoedkundige instellings soos skole en universiteite.

Mahalatime is nog ’n plaaslike onderneming wat kommunikasie tussen werkgewers en werknemers vergemaklik.

Netwerk24 het onlangs oor Mahalatime berig wat gebruikers toelaat om oproepe met iemand anders se lugtyd te maak.

LEES OOK: Bel só met ’n ander se lugtyd

Meer oor:  Internet  |  Video  |  Data  |  Datapryse  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.