Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Maerder Cell C glo hy is nou reg vir die toekoms

Cell C sê hy is goed op pad om teen 2024 die oorskakeling van ’n telekommunikasie- na ’n tegnologiemaatskappy te maak.

Cell C het nou 12,5 miljoen intekenare. Foto: Pixabay

Hy het Dinsdag sy resultate vir die jaar tot einde Desember bekend gemaak en sê die omkeerstrategie het ’n positiewe uitwerking op die stabilisering van die onderneming en dat daar ’n verbetering in die gehalte van sy verdienste is.

Cell C het in die jaar sy personeel van 2 600 mense tot 1 340 mense verminder, dus 1 260 minder werknemers. Die meeste daarvan was weens afleggings en kontrakte wat nie hernieu is nie.

Vir die volle 2020 het Cell C 1,9 miljoen intekenare, oftewel 13%, tot 12,5 miljoen gesak. Die maatskappy het egter wel in die ses maande van Junie tot Desember 1,5 miljoen intekenare gewen. 

Cell C sê sy strategie om op meer winsgewende klante te fokus, dra vrug aangesien die gemiddelde inkomste per voorafbetaalde kliënt met 28% gestyg het, ondanks ’n 15%-daling in sy voorafbetaalde intekenaars tot 9,2 miljoen.

“Cell C genereer nou kontant en dit wys die onderneming is nou sterker op bedryfsvlak,” sê Douglas Craigie Stevenson, uitvoerende hoof van Cell C.

In syfers
  • Die netto verlies was R5,5 miljard vir die volle jaar vergeleke met ’n verlies van R7,6 miljard in die eerste halfjaar.
  • Die genormaliseerde ebitda (inkomste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie) was 30% hoër op R4,1 miljard (2019: R3,2 miljard).
  • Die gemiddelde inkomste per intekenaar het met 28% vir voorafbetaalde kliënte toegeneem.
  • Positiewe kontantvloei soos weerspieël in die kontant-ebitda van R844 miljoen (2019: R240 miljoen).

“Ons omkeerstrategie het ons finansiële prestasie as ’n selfoonnetwerkoperateur verbeter en Cell C is bedryfsdoeltreffender. Oor die volgende drie jaar sal ons ten volle na vennootnetwerke oorskakel, alles met die doel om ’n gehaltenetwerk en innoverende waardeaanbod vir ons kliënte te bied en ’n winsgewende en volhoubare onderneming te verseker.”

Om mededingend te bly, moes Cell C ’n ander benadering volg as sy groter mededingers, wat almal swaar in kapitaalbehoeftige infrastruktuur belê is, sê Stevenson.

“Veelvuldige operateurs met grootskaalse infrastruktuur maak eenvoudig nie finansieel sin nie. Ons sal ten opsigte van infrastruktuur saamwerk, maar met produkte en dienste meeding.”

Die algehele inkomste in die jaar het met 8% gedaal tot R13,8 miljard (2019: R15,1 miljard), met die grootste deel van die inkomstebydrae van sy voorafbetaalde kliënte op R6,2 miljard (2019: R6,9 miljard).

Zaf Mahomed, finansiële hoof, sê hoewel die maatskappy ’n voljaarverlies gely het weens waardedalings en eenmalige koste, was die laaste ses maande van 2020 bemoedigend.

“Ons resultate weerspieël ’n onderneming in oorgang. Ons begin die impak van ons veranderinge sien, wat die fokus op winsgewender intekenare insluit en om deur die vermindering van die koste ’n verskuiwing na inkomstegenererende bedrywighede te maak.”

Meer oor:  Cell C  |  Data  |  Slimfone  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie  |  Internet  |  Telekommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.