
Kredietkaartbedrog bly algemeen. Foto: Getty Images
FNB ondersoek tans ’n geval van identiteitsbedrog wat ’n kliënt byna R160 000 uit die sak gejaag het.
’n Skelm het aansoek gedoen om ’n kredietkaart by Discovery in Ivan Kistnasami se naam, berig TimesLive.
Discovery se kredietkaarte word tans nog deur FNB bestuur, maar sal waarskynlik na Discovery Bank oorskuif sodra dit sy virtuele deure in Maart open.
Aansoeke vir ’n Discovery-kredietkaart geskied aanlyn of telefonies en die kaart word by die kliënt se gekose adres afgelaai.
Voordat die kaart egter geaktiveer word, moet die kliënt stawende dokumente, insluitend ’n afdruk van sy identiteitsdokument en ’n bewys van sy adres, aan die koerier verskaf wat dit aan Discovery (en uiteindelik aan FNB) deurgee.
Kistnasami, ’n inwoner van Pietermaritzburg, het nie aansoek gedoen om ’n kredietkaart by Discovery nie.
Nietemin is daar einde verlede jaar vir “hom” ’n blinknuwe kredietkaart afgelaai, maar by ’n adres in Howick.
Met sy nuwe kredietkaart en geheime nommer, en ’n yslike kredietlimiet van R102 000, het die bedrieër toegang gehad tot my tjek- en ander kredietrekeninge.
Die skelm het boonop ’n vervalste afskrif van Kistnasami se identiteitsdokument verskaf met ’n verkeerde foto en ’n bewys van adres waarmee daar duidelik gepeuter is.
Die koerier het skynbaar nie onraad vermoed nie en die kaart en geheime nommer aan die boef voorsien.
“Met sy nuwe kredietkaart en geheime nommer, en ’n yslike kredietlimiet van R102 000, het die bedrieër toegang gehad tot my tjek- en ander kredietrekeninge. Binne twee dae het hy al die beskikbare fondse oorbetaal tot by my limiete,” het Kistnasami aan TimesLive gesê.
Die skelm het uiteindelik R157 000 uit Kistnasami se rekeninge oorbetaal.
Hoewel FNB sy geld teruggegee het, hou hy steeds die bank verantwoordelik vir die bedrog.
Hy sê dit is verregaande dat die bank die aflewering van kredietkaarte toelaat in stede daarvan dat kliënte dit persoonlik by ’n tak moet gaan afhaal.
FNB laat egter die afhaal van kaarte toe, maar ontmoedig kliënte om dit te doen deur ’n heffing van R200 daarvoor te vra.
Daarteenoor is aflewering van die kaart na enige adres landwyd gratis.
Dit word glo gedoen om te verhoed dat onnodig baie mense op die bank se takke toesak, sê FNB.
Volgens die bank word daar steeds ondersoek ingestel na presies hoe die bedrieër met die hele bedrogspul weggekom het.
Discovery sê op sy beurt hy kan nie kommentaar lewer nie aangesien sy kredietkaartdiens steeds deur FNB geadministreer word.