Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Man wou glo landuit met Apple se geheime

Apple is boos nadat ’n werknemer wat bedank het afdrukke van die maatskappy se geheime ontwerp vir ’n nuwe selfbestuurmotor op sy skootrekenaar afgelaai het en daarmee na China wou vlug.

Apple sleep ’n voormalige werknemer hof toe wat landuit wou vlug met die maatskappy se geheime planne vir ’n selfbestuurmotor.Foto: Reuters

Die Amerikaanse tegnologiereus gaan Xiaolang Zhang nou strafregtelik vervolg vir die beweerde steel van handelsgeheime.

Na wat berig word, het Zhang skielik by Apple bedank ná ’n besoek aan China waar hy ’n nuwe pos by ’n aanvangsonderneming aanvaar het wat self werk aan ’n nuwe selfbestuurmotor.

Die owerhede het Zhang op 7 Julie op San José se lughawe voorgekeer net voordat hy ’n vlug sou haal met ’n skootrekenaar vol geheime afdrukke van Apple se motorplanne.

“Ons werk met die owerhede saam in hierdie saak en sal alles moontlik doen om te verseker dat hierdie individu en enige van sy makkers aanspreeklik gehou word vir hul optrede,” het Apple in ’n verklaring gesê.

Die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) is ook by die ondersoek betrek.

Zhang se prokureur, Tamara Crepet, het nog nie kommentaar gelewer oor die klagte teen haar kliënt nie.

Volgens die klagstaat is Zhang aangestel om hardeware en programmatuur vir Apple se elektriese motors te ontwikkel. Hy het spesifiek elektriese stroombane getoets en sensoriese data nagegaan.

In April het Zhang op vaderskapverlof saam met sy vrou en pasgebore baba na China gereis. Met sy terugkoms by die werk het hy sy toesighouer ingelig hy bedank en dat hy vir Xiaopeng Motors, ’n Chinese voertuigvervaardiger, gaan werk.

Dié maatskappy, wat ook ’n elektriese selfbestuurmotor wil ontwikkel, se Amerikaanse kantore is ’n klipgooi van die Apple-kampus in Silicon Valley af. Zhang het kort ná sy bedanking by Apple daar begin werk.

Die klagstaat lui verder dat Zhang se toesighouer snuf in die neus gekry het toe hy ontdek het dat Zhang verskeie soektogte op Apple se geheime databasis uitgevoer het terwyl hy veronderstel was om op vaderskapverlof te wees.

Die maatskappy hou vol Zhang het nooit enige “sensitiewe inligting” van Apple aan hulle gegee nie en dat hulle “diep ontsteld” oor die beweringe is.

Terwyl Zhang skynbaar in die geheim op Apple se kampus rondgesluip het tydens sy verlof, het hy glo ook ’n rekenaarbediener uit ’n laboratorium en ’n elektriese stroombaan gegaps.

Nadat die beweringe aan die groot klok gehang is, het Xiaopeng Motors Zhang se kontrak beëindig en hul samewerking aan die Amerikaanse owerhede toegesê.

Die maatskappy hou vol Zhang het nooit enige “sensitiewe inligting” van Apple aan hulle gegee nie en dat hulle “diep ontsteld” oor die beweringe is.

Zhang was een van sowat 2 700 Apple-werknemers wat toegang gehad het tot die geheime databasis waarin hy rondgekrap het.

FBI-agente het Zhang ondervra en ’n lasbrief bekom om sy huis te deursoek. Daar het hulle afgekom op ’n rekenaar met sensitiewe inligting van Apple daarop. Volgens Zhang het hy die inligting en die hardeware uit die laboratorium geneem omdat hy graag na ’n nuwe posisie binne Apple verplaas wou word en geglo het dit sal hom help.

Dis was toe dat Zhang inderhaas ’n vliegtuigkaartjie China toe gekoop het, kwansuis in ’n poging om te vlug. Dit is ook toe hy op die lughawe aangekeer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.