Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Mastercard kry blokketting, sê steeds nee vir bitcoin
Mastercard het sy eie blokketting ontwikkel, maar dit het niks met Bitcoin uit te waai nie. Foto: Mastercard

Mastercard hou dalk nie van bitcoin nie, maar hy het tog nou sy eie blokketting ontwikkel.

Dié internasionale verskaffer van kredietdienste sê sy blokketting is spesifiek ontwikkel vir betalings tussen sakeondernemings.

“Deur Mastercard se blokkettingtegnologie met ons betaalnetwerk en verwante netwerkreëls te kombineer, het ons ’n oplossing ontwikkel wat veilig is, geoudit kan word en wat maklik is om uit te brei,” sê Ken Moore, visepresident van Mastercard Labs.

“Ons wil keuse en buigsaamheid aan ons kliënte bied waar dit by betalings kom. Hulle moet sonder enige probleme enige van ons twee betaalmetodes kan gebruik,” sê hy.

Ricardo Sota, bestuurder van betaalinnovering by Mastercard Labs, sê die maatskappy het juis sy eie tegnologie ontwikkel om te sien hoe blokkettings die manier hoe bedrae tussen maatskappye oorgedra word, gaan beïnvloed.

Theo Bohnen, blokkettingontwikkelaar by The Foundry, ’n afdeling van Rand Merchant Bank, het onlangs verduidelik blokkettings word vir verskillende toepassings soos geldeenhede, aandele en slimkontrakte ontwerp.

Elke toepassing het sy eie blokketting.

Hoewel Mastercard dus nou sy eie blokketting ontwikkel, vertrou hy steeds nie dié van Bitcoin nie.

Sarah Quinlan, hoof van markinsigte by die kredietkaartmaatskappy, het in September gesê hulle wil eers die kat goed uit die boom kyk voordat hulle virtuele geldeenhede soos bitcoin op hul platform as betaalmiddel sal toelaat.

“Ons is nie bereid om een tree vorentoe en drie tree agteruit te gee waar dit by ons geloofwaardigheid kom nie,” het sy toe gesê.

Sy het juis gesê dit gaan nie soseer spesifiek oor die gebruik van bitcoin nie, maar wel oor blokkettingtegnologie.

“Ons moet die tegnologie verstaan en sien waar dit inpas. Die verbruiker bly altyd in beheer, so as daar ’n vraag daarvoor is om virtuele geldeenhede in te sluit, moet ons daarna kyk.”

Mastercard se blokketting is nie ’n geldeenheid nie. Kliënte wat dit wil gebruik, moet toegang daartoe gegee word. Net mense wat betrokke is by ’n spesifieke transaksie sal die besonderhede daarvan kan sien.

“Ons blokkettingtegnologie kan gebruik word om kredietkaarttransaksies bykans onmiddellik goed te keur,” sê Sota.

Meer oor:  Mastercard  |  Blokketting  |  Bitcoin  |  Virtuele Geld  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.