Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Kinders op Pornhub: Mastercard, Visa gekap

Kredietkaartmaatskappye is in die spervuur omdat hulle gebruik word op pornografiewebwerwe wat benewens konsensuele seks ook video’s bevat met kinders in of wat die verkragting van vroue uitbeeld.

Suid-Afrikaners bestee gemiddeld byna 11 minute op ’n slag op die pornografiese webwerf Pornhub, is in vorige navorsing bevind. Foto: Unsplash

Mastercard “heroorweeg” sy dienste aan MindGeek ná ’n rubriek in The New York Times wat Pornhub blootlê as laks oor die bekamping van onwettige materiaal wat deur lesers opgelaai word. Pornhub het wel ’n stelsel van moderators wat veronderstel is om onwettige materiaal te verwyder, maar daar is klagtes dat te veel daarvan die stelsel ontglip.

MindGeek is die eienaar van Pornhub, ’n webwerf waarop sowel professionele as amateur- pornografiese video’s gelaai word. Die meeste daarvan kan gratis gekyk word.

Nicholas Kristof, wat die Pulitzer-prys vir joernalistiek al twee keer gewen het, ontbloot in die lang artikel die verhaal van verskeie tieners en vroue wie se naakvideo’s sonder hul toestemming of medewete op Pornhub gelaai is, en selfs wie se verkragting of marteling opgelaai is.

Pornhub laat gewone mense toe om video’s op te laai, maar ook af te laai, wat beteken selfs al word video’s verwyder, is dit dalk reeds elders versprei. Om video’s af te laai, moet mense op Pornhub Premium ingeteken wees, wat net deur middel van ’n Mastercard- of Visa-krediet- of -debietkaart gedoen kan word.

Mastercard het Saterdag – die dag waarop die rubriek gepubliseer is – in ’n verklaring gesê hy laat nie onwettige bedrywighede op sy betaalnetwerk toe nie, en sal met die polisie en organisasies teen die uitbuiting van kinders saamwerk om onwettige transaksies op te spoor.

“Ons ondersoek die bewerings wat in The New York Times geopper is en ons werk saam met MindGeek se bank om die situasie te probeer verstaan… As die bewerings gegrond is, sal ons onmiddellik optree.”

Kristof se rubriek het wyd reaksie uitgelok. Bill Ackman, ’n aktivistiese belegger, het op Twitter gesê betalingsmaatskappye moet betalings staak totdat die probleem opgelos is.

Mastercard en sy mededinger Visa werk nie regstreeks met winkels of webwerwe soos Pornhub nie, maar deur banke.

Visa het nie kommentaar gelewer nie.

’n Mens kan nie deur PayPal of American Express op Pornhub betaal nie.

Pornhub ontken volgens Bloomberg dat hy video’s van kinders op sy netwerk toelaat. – Bloomberg, verwerk en bygewerk

Meer oor:  Visa  |  Mastercard  |  Mindgeek  |  Pornhub  |  Pornografie  |  Verkragting  |  Tegnologie  |  Webwerwe  |  Kinderpornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.