Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Joernalistiek die wenner in Moneyweb vs. Fin24
Die manier waarop joernaliste hul werk doen, word geraak deur die uitspraak in die saak Moneyweb vs. Fin24

Fin24, Netwerk24 se susterpublikasie, het oorwegend nié Moneyweb se kopiereg geskend nie, het die Suid-Gautengse hooggeregshof bevind. Maar Moneyweb het straks die groter beginsel in die saak - oor kopiereg op nuus - bewys.

Waarnemende regter Daniel Berger het Moneyweb Donderdag beveel om 70% van Fin24 se regskoste, wat miljoene rande beloop, te betaal.

Moneyweb, wat deur Caxton besit word, het in September 2013 met die hofsaak begin en berigte voorgelê wat hulle aangevoer het Fin24 het “gesteel”.

In net een uit die sewe berigte wat oorweeg is, het Berger bevind daar was kopieregskending. Dit was ’n onderhoud met Chris Griffith, uitvoerende hoof van Anglo American Platinum, wat Moneyweb van ’n radio-onderhoud af getranskribeer het.

Die ander berigte het ’n mediaverklaring ingesluit, asook inligting wat op ’n mediakonferensie uitgereik is. In sekere gevalle is bevind Moneyweb se berigte was nie oorspronklik genoeg om kopiereg te regverdig nie en in ander gevalle was die hoeveelheid kopie wat Fin24 met erkenning gebruik het, nie genoeg om vir kopieregskending te kwalifiseer nie.

Berger het byna presies ’n jaar getob oor sy uitspraak – die saak is op 7 en 8 Mei 2015 aangehoor.

Ryk van Niekerk, Moneyweb se redakteur, bestempel die uitspraak as ’n oorwinning vir oorspronklike joernalistiek. “As jy ’n dief is, is jy ’n dief,” sê Van Niekerk – ongeag hoeveel gevalle teen jou bewys word.

“Die uitspraak bewys dat nuus wel deur kopiereg beskerm word. Indien die teendeel bevind is, sou dit ’n geweldige knou vir nuusmedia gewees het.”

Lees ook meer oor die volledige uitspraak en reaksie daarop:

* Media24: ‘Monopolie op nuus ondenkbaar’

* Moneyweb-saak: ‘Spoeg-en-plak’ het geen kopiereg

Die uitspraak bewys dat nuus wel deur kopiereg beskerm word. Indien die teendeel bevind is, sou dit ’n geweldige knou vir nuusmedia gewees het.
Ryk van Niekerk, Moneyweb

News24 en Fin24 het sedert die begin van die hofsaak baie meer klem begin lê op oorspronklike nuus, wat volgens Van Niekerk wys dat hulle geweet het dis nodig.

Adriaan Basson, wat in April aangestel is as redakteur van News24 (wat Fin24 insluit), het aan Fin24 gesê News24 het “beduidende beleggings” gedoen om oorspronklike inhoud en joernalistiek te verseker, onder meer die aanstelling van 16 joernaliste om sy span landwyd op 60 te staan te bring.

“Ons hou deurentyd ’n oog op die beste internasionale praktyk en billike mededinging, wat insluit samestelling (aggregation), ’n integrale deel van aanlyn publisering wêreldwyd, en het verseker dat dit versoen word met die wet.”

Van Niekerk sê hulle moet nog die uitspraak bestudeer om te besluit of hulle gaan appelleer. ’n Verhoor sal nou moet bepaal hoeveel skadevergoeding Fin24 vir die een berig moet opdok.

Philip Ginsburg, SC, het namens Moneyweb opgetree. Hy het onder meer aangevoer dat Fin24 onregmatig meeding deur Moneyweb-artikels – selfs met erkenning – aan te haal omdat die twee sakenuuswebwerwe regstreeks met mekaar meeding.

Cedrick Puckrin, SC, het hom namens Fin24 beroep op die kopieregwetgewing dat daar geen kopiereg op “nuus” is nie. “Kopiereg kan nié gebruik word as ’n muilband om nuusverslaggewing te keer nie,” het hy gesê.

Die uitspraak, waarin die redes vir die beslissing uiteengesit word, is Donderdagmiddag in die hof gelewer.

Die saak is deurslaggewend vir hoe joernaliste hul werk doen. Daar was nog geen Suid-Afrikaanse hofspraak hieroor nie.

* Netwerk24 is 'n susterpublikasie van Fin24. Albei is in die Media24-stal.

Meer oor:  Fin24  |  Moneyweb  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.