Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Media24: Monopolie op nuus ‘ondenkbaar’
Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24.

Enige uitspraak wat verslaggewers ’n monopolie op nuus gee, sou nie in die openbare belang wees nie, het Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, Donderdag gesê in reaksie op die kopiereghofsaak wat Fin24 oorwegend gewen het.

Fin24, ’n finansiëlenuus-webwerf in Media24 se stal, moes hom verweer teen die klag dat hy sy mededinger Moneyweb se kopiereg geskend het en onbillik opgetree het.

Waarnemende regter Daniel Berger het Donderdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg in sy uitspraak van 65 bladsye gesê Fin24 het in net een van sewe artikels wat as bewysstukke ingedien is, Moneyweb se kopiereg geskend.

Berger het Ryk van Niekerk, Moneyweb-redakteur, se verklaring dat Fin24 “sistemiese plagiaat op industriële skaal” gepleeg het, as “buitensporig” afgemaak en het gesê geen bewys daarvan is gelewer nie. Kyk ook die Moneyweb-video hieronder met Van Niekerk se kommentaar.

Die uitspraak is byna presies ’n jaar gelede, op 7 en 8 Mei, aangehoor nadat Moneyweb, wat aan Caxton behoort, die saak reeds in September 2013 aanhangig gemaak het.

Berger het Moneyweb Donderdag beveel om 70% van Fin24 se regskoste, wat miljoene rande beloop, te betaal. Weideman sê dié kostebeveel “spreek vanself”.

Berger het bevind inligting wat deur ’n nuuskonferensie of -verklaring uitgereik word, is bedoel om in die openbare domein te wees. Dit is ook in die openbare belang dat die eksklusiewe reg om daardie inligting weer te gee, nie deur kopiereg beskerm word nie.

Weideman sê enige ander bevinding “sou tot die onlogiese gevolg kon lei waar die eerste verslaggewer ’n nuusberig monopoliseer en ’n ander verslaggewer verhinder om oor die kernelemente van die storie te berig”.

Dit sou verslaggewing en talle joernalistieke poste vernietig het, sê Weideman.

Sy sê Media24 roem hom op sy etiese joernalistieke praktyk.

Adriaan Basson, redakteur van News24 en voormalige redakteur van Netwerk24.

Adriaan Basson, wat in April aangestel is as redakteur van News24 (wat Fin24 insluit), sê sedert die saak begin is, het News24 “beduidende beleggings” gedoen om oorspronklike inhoud en joernalistiek te verseker. Kyk ook die Moneyweb-video hieronder met Basson se kommentaar.

“Ons hou deurentyd ’n oog op die beste internasionale praktyk en billike mededinging, wat insluit samestelling (aggregation), ’n integrale deel van aanlyn publisering wêreldwyd, en het verseker dat dit versoen word met die wet.”

Van Niekerk het aan Die Burger gesê die uitspraak is in wese ’n oorwinning vir oorspronklike joernalistiek. “Die uitspraak bewys dat nuus wel deur kopiereg beskerm word. Indien die teendeel bevind is, sou dit ’n geweldige knou vir nuusmedia gewees het.”

Van Niekerk sê hulle moet nog die uitspraak bestudeer om te besluit of hulle gaan appelleer. ’n Verhoor sal nou gehou word om te bepaal hoeveel skade dié kopieregskending vir Moneyweb berokken het.

Moneyweb moet binne 20 dae die dokumente oor sy eis indien en Fin24 moet binne 20 dae daarna sy teenargumente indien.

* Netwerk24 is 'n susterpublikasie van Fin24. Albei is in die Media24-stal.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Esmaré Weideman  |  Media24  |  News24  |  Fin24  |  Moneyweb  |  Caxton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.