Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Media24 wil Welkom Yizani ontbind
Media24 se hoofgebou in Kaapstad. Foto: Getty Images

Media24 wil sy bemagtigingskema, Welkom Yizani, ontind. ’n Kontantaanbod van R15,70 gaan aan alle aandeelhouers gedoen word, wat aansienlik meer is as die tussen R7 tot R10 waarteen die aandele tans verhandel.

Welkom Yizani se aandeelhouers besit ’n belang van 15% in Media24; die res word deur Naspers besit.

Volgens ’n kennisgewing wat Welkom Yizani Vrydag uitgereik het, het sy direksie en die onafhanklike subkomitee daarvan aanbeveel dat aandeelhouers die vaste aanbod aanvaar.

Die aanbod is onderhewig aan verskeie voorwaardes, onder meer die goedkeuring deur aandeelhouers op ’n spesiale vergadering wat op 22 Januarie 2021 gehou word.

Die aandeel se waarde groei nou al geruime tyd teleurstellend en is dikwels op jaarvergaderings ’n teer punt.

Die skema is in 2006 op die been gebring. Sedertdien het aandeelhouers dividende van R19,78 ontvang, insluitend ’n spesiale dividend van R14,79 toe die drukkery Novus (voorheen Paarl Media) van Media24 ontknoop is.

Sou aandeelhouers Media24 se aanbod aanvaar, sal die aandeleskema vanaf die Equity Express Securities Exhange gedenoteer word.

Welkom Yizani, tesame met MultiChoice se bemagtigingskema Phuthuma Nathi, het in 2018 op dié beurs genoteer.

Oor waarom besluit is om Welkom Yizani se aandele uit te koop, sê Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, die uitwerking van die koronaviruspandemie veral op drukmedia gaan nog lank gevoel word.

“Hoewel ons besig is met die oorgang van ons media-onderneming na ’n toenemend digitale landskap, gaan dit tyd neem voordat dit noemenswaardige wins kan oplewer en die inwerkingstelling daarvan is ook nie sonder risiko’s nie.”

Media24 het Maandag sy halfjaarresultate vir die ses maande tot einde September bekend gemaak. In dié tydperk het sy inkomste met 19% tot R1,9 miljard geval, deels omdat koerant- en tydskrifverkope tydens die strenger inperkingsfase gedaal het, maar ook omdat die mediabedryf wêreldwyd advertensie-inkomste verloor soos wat maatskappye aanlyn beweeg.

Die groep se bedryfsverlies het met R400 miljoen opgeskiet – van R53 miljoen in 2019 tot R453 miljoen vanjaar.

“Welkom Yizani se aandeelhouers is al jare ongelukkig oor hoe die aandeelprys vertoon,” sê Ashoek Adhikari, onafhanklike direkteur van die aandeleskema.

“Dié aanbod van Media24 bied aan alle aandeelhouers ’n gelyke en gelyktydige geleentheid om hul aandele te verkoop.”

Welkom Yizani se direksie reken die aanbod is heelwat hoër as wat individuele aandeelhouers sou behaal indien hulle hul aandele stuksgewys op die ope mark sou moes verhandel.

“Voorts blyk daar beperkte waardering in die ope mark vir die waarde van Media24 te wees.”

Adhikari bedank Media24 se direksie dat hy nie Welkom Yizani se aandeelhouers “aan hul lot oorgelaat” het nie, maar “intree met ’n oplossing wat sonder omhaal werklike voordele bied”.

Die aanbodprys van R15,70 per aandeel is deur ’n “onafhanklike kenner” getakseer wat deur Welkom Yizani se direksie aangestel is.

“Ek reken dit is ’n goeie geleentheid vir ons lojale Welkom Yizani-aandeelhouers om ’n ordentlike opbrengs op hul belegging te kry,” sê Davidson.

Volgens hom bly Media24 “steeds verbind tot transformasie”, veral op die gebied van sy bestuurspanne asook ander inisiatiewe wat daartoe kan bydra.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24.
Meer oor:  Naspers  |  Media24  |  Aandele  |  Bemagtiging  |  Bemagtigingskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.