Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Media24 reik beste syfers in 4 j. uit
Media24
Media24 se hoofkantoor in Kaapstad.

Media24 het vir die eerste keer in vier jaar in sy tussentydse resultate ’n wins gemaak op die vlak van kernwesensverdienste.

Een van die belangrikste redes wat die groep hiervoor uitlig, is die skep van een aanlyn klerehandelreus, Superbalist, nadat Spree in Oktober verlede jaar by Superbalist ingesluit is.

Kernwesensverdienste is ’n maatstaf van wins gegrond op bedrywighede en kapitaalinvestering. Dit sluit alle inkomste of uitgawes uit wat met afleggings, die verkoop van bates of rekeningkundige afskrywings verband hou. Die kernwesensverdienste het R63 miljoen beloop.

Die mediagroep het ook sy handelsverlies met meer as ses keer verminder, van R170 miljoen ’n jaar gelede tot net R28 miljoen.

Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, en prof. Rachel Jafta, voorsitter van die direksie, beskryf die resultate vir die halfjaar tot einde September as “uitstekend”.

Dit is aangedryf deur sterk groei in die groep se inkomste uit e-handel (die Takealot-groep, wat Superbalist en Mr D Food insluit), meer bestellings vir skoolhandboeke en streng kostebeheer deur die hele maatskappy.

Soos alle mediamaatskappye daal Media24 se inkomste uit drukmedia nou al ’n hele paar jaar lank soos wat sowel verbruikers as adverteerders oorskakel na digitale kanale, waarvan die inkomste egter nie ewe vinnig styg nie.

Media24 onderskei in sy resultate tussen sy volwasse portefeulje en sy groeiportefeulje.

Volwasse portefeulje

Dié ondernemings sluit in koerante soos Die Burger, City Press, Rapport en Beeld, tydskrifte soos Huisgenoot, You, Sarie en Weg!, boekuitgewers soos Tafelberg en NB Uitgewers, en die verspreidingsarm On the Dot.

Die portefeulje se totale inkomste het met 6% gedaal, maar handelswins het met 3% tot R153 miljoen gestyg danksy kostebestuur. Die 19%-styging in inkomste uit handboeke is teengewerk deur die daling van onderskeidelik 12% in die inkomste uit advertensies en van 7% uit sirkulasie.

Media24 publiseer nou vier uit die tien topverkopers onder koerante en ses uit die tien topverkopers onder tydskrifte.

Groeiportefeulje

Dié ondernemings sluit e-handel, digitale media en die vakature-webwerf Careers24 in.

Heelwat kapitaal is die afgelope paar jaar in tegnologie belê, maar Media24 het die afgelope jaar ook hier meer vaartbelyn geword en nuus-apps soos News24 Edge toegemaak.

In syfers
  • Inkomste styg met 6% tot R2,4 miljard
  • Handelsverlies daal met 84% tot R28 miljoen
  • Kernwesensverdienste styg tot R63 miljoen (van ’n verlies van R111 miljoen)

Die afdeling se handelsverlies het gevolglik met 58% tot R108 miljoen gekrimp.

Inkomste uit groei-ondernemings het met 50% gegroei. Dit dra nou 26% tot die totale inkomste by, teenoor 19% ’n jaar gelede.

News24 en Netwerk24 saam het hul totale getal unieke besoekers met 18% tot 18,2 miljoen gegroei en die gemiddelde maandelikse bladlese met 17% tot 506 miljoen. Amper 90% van dié verkeer kom van selfone en apps.

Netwerk24 se intekenare het met 29% tot 53 377 gegroei – die grootste betaalmuur-nuusdiens in die land.

Jonathan Ball Publishers het die markleier geword danksy topverkopers soos The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaire’s Club deur Pieter du Toit, waarvan meer as 20 000 eksemplare verkoop is.

Die Afrikaanse leefstyl-televisiekanaal VIA het in September 290 000 kykers gehaal en sy advertensie-inkomste meer as verdubbel.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Superbalist  |  Media24  |  Ishmet Davidson  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.