Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Meer as 100 000 groet duur DStv-pakkette

Minstens 100 000 mense het in die afgelope jaar van DStv se duurder pakkette na goedkoper opsies oorgeslaan. Net 18% van intekenare in Suid-Afrika betaal nou vir een van DStv se twee duurder pakkette, naamlik Premium en Compact Plus.

televisie, dstv, multichoice
MultiChoice het 100 000 kykers van sy duurder pakkette verloor. Foto: Unsplash

Einde Maart 2019 was dié syfer nog 20%.

Dis minstens die derde jaar waarin MultiChoice Premium-intekenare moet groet. In 2018 was Premium-kykers 22% van sy intekenare.

MultiChoice, wat onder meer DStv en Showmax bedryf, het Woensdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2020 uitgereik.

Daarvolgens het DStv nou 8,4 miljoen intekenare in Suid-Afrika, 400 000 meer as ’n jaar gelede.

Hoewel DStv se getal intekenare toeneem, verdien die maatskappy al hoe minder per intekenaar omdat die meeste ingeteken is op goedkoper pakkette.

Bykans 48% van alle DStv-intekenare is nou op een van sy drie goedkoopste pakkette, naamlik Family, Access en Easyview. Dit is 4% meer as ’n jaar gelede. Sien ook die grafika hiernaas.

Die syfers is vir die typerk vóór die nasionale inperking om die verspreiding van Covid-19 te vertraag. Die inperking het mededingende sport soos rugby en dus sportuitsendings – die hartklop van die Premium-pakket – in sy spore gestuit.

MultiChoice het in die afgelope boekjaar ’n betreklike klein prysverhoging op sy duurder pakkette ingestel.

Die prys van DStv Premium is onveranderd gelaat terwyl Compact Plus met ’n minimale bedrag per maand toegeneem het.

Die gemiddelde prysstyging van sy goedkoper pakkette was egter meer as 5% op jaargrondslag.

Die maatskappy is steeds in ’n baie gesonde finansiële posisie. Sy inkomste is 3% meer op R51,4 miljard, waarvan R42,8 miljard uit intekenaarsgelde verdien is.

Die bedryfswins is eweneens 12% hoër op R8,2 miljard.

MultiChoice het ook in die jaar minstens R1,4 miljard in koste bespaar, onder meer deur meer as 2 000 werknemers by van sy winkels en inbelsentrums af te lê as deel van ’n grootskaalse herstruktureringsproses.

Die maatskappy sê in ’n verklaring hy verwag sy inkomste sou hoër gewees het sou hy nie die prys van DStv Premium onveranderd gelaat het nie.

Sy totale inkomste uit bedrywighede in Suid-Afrika beloop R34,2 miljard, 1% meer as ’n jaar gelede.

dstv


Stromingsdienste

MultiChoice maak steeds nie bekend hoeveel intekenare Showmax, sy enigste onafhanklike videostromingsdiens, het nie.

Hy bedryf ook DStv Now, maar dis net toeganklik vir intekenare van DStv Premium.

Op ’n jaargrondslag het die aantal aktiewe maandelikse gebruikers van sy stromingsdienste met 39% toegeneem.

Die aantal kere wat daar na ’n video op Showmax of DStv Now gekyk word, is ook 85% meer as ’n jaar gelede.

MultiChoice het groei gesien in baie van die lande in Afrika waar hy sake doen.

Zimbabwe is egter ’n groot uitsondering. MultiChoice het 92 000 Zimbabwiese intekenare verloor.

Hy noem hiperinflasie, die gebrek aan likiditeit en die land se kragprobleme as van die vernaamste redes waarom hy soveel kykers daar verloor het.

Hy sukkel tans ook om minstens R115 miljoen uit Zimbabwe te repatrieer.

Impak van die Covid-19-krisis

MultiChoice sê hy weet nog nie wat die impak van die koronaviruspandemie op sy verdienste gaan wees nie.

Hy verwag wel dat die agteruitgang van die internasionale ekonomie tot grootskaalse werkverliese gaan lei in baie van die lande waarin hy sake doen.

Dit sal waarskynlik lei tot kansellasies van DStv namate kykers dit nie meer kan bekostig nie.

MultiChoice sê hoewel mikro-ekonomiese faktore grootliks buite sy beheer is, doen hy die nodige stappe om uitdagings die hoof te bied.

“Dit sluit verdere kostebesparinge in en om aan te hou doen waarmee ons die beste is, naamlik om van die beste vermaak aan ons kykers te verskaf,” sê Calvo Mawela, uitvoerende hoof.

Omdat mense meer tyd by hul huise moet deurbring weens die pandemie, hoop MultiChoice dit sal hulle oortuig om intekenare te word of te bly.

Hy beplan om veral sy videostromingsdienste in die komende maande aggressief te bemark.

Die maatskappy se totale kontantreserwes beloop tans meer as R9,1 miljard. “Dit gee ons die vertroue dat ons die komende uitdagings die hoof sal kan bied.”

In syfers

  • Die kernverdienste per aandeel is 39% hoër op R5,69.
  • Die verdienste per aandeel is R1,17 teenoor -R3,74 in die vorige boekjaar.
  • Hy verklaar ook ’n eerste voljaardividend van R5,65 per aandeel.

MultiChoice het in Februarie 2019 afsonderlik op die JSE genoteer nadat hy uit Naspers ontknoop is.

Sy aandeelprys was Woensdagmiddag R94,58, ietwat laer as R95,12 vroeër die dag.

Meer oor:  Resultate  |  Dstv  |  Betaaltelevisie  |  Multichoice  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.