Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Met Note 10 kan jy toor – as jy dit kan bekostig

Daar is vlagskepe en dan is daar Samsung se “alles-foon”. Met die Note 10 bult Samsung ál sy spiere om te wys wat hy werklik kan doen met ’n slimfoon.

Samsung
Samsung se nuwe vlagskip slimfone, die Note 10, en groter en kragtiger Note 10+ is Donderdag bekend gestel. Foto: Samsung

Die Note-reeks was nog altyd Samsung se slimfone met die grootste skerms en die meeste kenmerke. Waar sy ander reekse eienskappe meng volgens wat sekere soorte gebruikers sal nodig hê – en wat nié – het die Note nog altyd ’n filosofie gevolg van: “Prop alles in hom!”

Al hou Samsung grotendeels by die filosofie met die Note 10, is dit nie meer ’n klas foon vir slegs diegene wat bykans IT-spesialiste is nie. Dis nou ’n “alles-foon” vir enigeen.

Die Note 10 en Note 10+ is dié week in Suid-Afrika bekend gestel.

Die Note 10 en Note 10+ se kontantprys begin onderskeidelik by R18 999 en R22 999. Op kontrak sal Samsung se slimfone beskikbaar wees vanaf R899 per maand vir die kleiner Note 10 en vanaf R999 vir die groter en kragtiger Note 10+, afhangend van die soort kontrak wat jy kies.

So wat kry jy vir jou geld?

Jou rekenaar en jou foon word een

Samsung het vantevore DeX bekendgestel – ’n stelsel wat dit moontlik maak om slegs ’n sleutelbord, ’n muis en ’n skerm direk in te prop by jou Galaxy-foon en dit dan soos ’n rekenaar te gebruik.

DeX is nou aangepas om ook vir mense te werk wat nie hul hele rekenaar wil vervang nie.

Deur jou Note 10 met ’n kabel aan jou Windows-rekenaar te koppel, maak ’n venster nou oop wat jou toelaat om ál jou foon se funksionaliteit te gebruik sonder om ooit jou vingers van die sleutelbord af te haal.

Samsung
Die Note 10+ het ’n 6,8-duim skerm-grootte maar is minder as 8 mm dik en voel soos ’n baie kleiner foon in die hand. Foto: Samsung

Van WhatsApp-boodskappe tot Instagram, kan jy nou als gelyk op een skerm doen. Die konneksie is onmiddellik en stel jou ook in staat om enigiets wat op jou foon gestoor is, regstreeks oor te laai deur om net daarop te klik en dit oor te trek.

Towerstaf

Die Note-reeks het nog altyd ’n belangrike kenmerk gehad: sy stilus. Dié digitale pen was vir talle aanhangers die beste deel van hul Note-slimfone, en vir ander iets oulik wat hulle nooit gebruik het nie.

Met die Note 10 is die stilus nou opgegradeer om jou handskrif te kan opneem, net soos in ’n notaboek, en dit te verstaan sonder dat dit in ’n digitale font omgesit word. Jy kan notas omskep in PDF’s, Word-dokumente, en in jou eie handskrif is dit geïndekseer sodat dit enige tyd deur ’n soektog opgespoor kan word.

Die stilus is ook nou ’n towerstaf. Met sy eie sensors kan jy nou die stilus benut om sonder kontak jou foon te beheer. Blaai van blad na blad, beheer jou kamera en baie meer.

Virtuele wêrelde na die werklike

Die verwerkingsvermoë en geheue van die Note 10 oorskry die meeste rekenaars s’n. Geheue-opsies kom in 8 gigagrepe en 12 gigagrepe, terwyl stoorplek van 256 gigagrepe tot 512 gigagrepe strek.

Daarmee maak Samsung dit nou moontlik om, onder meer, gevorderde 3D-modellering te doen. Dit beteken jy kan met jou stilus driedimensionele kuns maak in ’n kamer op jou skerm. Maar die sagteware stel jou nou ook in staat om voorwerpe te skandeer met die slimfoon se kameras om ’n virtuele 3D-kopie te skep wat dan beheer kan word vir animasies en selfs as ontwerp dien vir ’n 3D-drukker.

Vier kameras

Drie van agter en een van voor. Maar hoekom so baie kameras? Deur gebruik te maak van klomp verskillende digitale sensors en lense kan dié Samsung foto’s en video’s skep wat werklik die gehalte van professionele kameras naboots.

Nuwe optiese stabiliseringstegnologie gepaard met kunsmatige intelligensie maak dit ook moontlik om video te stabiliseer, al hardloop jy selfs teen trappe op terwyl jy afneem.

Samsung
So lyk die reeks Note 10 en Note 10+ slimfone wat in Augustus vir Suid-Afrikaners beskikbaar gestel gaan word. Die Aura Glow kleur kom oor soos ’n pêrel wat afhangende van die lig en oriëntasie van die toestel merkwaardig van kleur verander. Foto: Samsung

Die enorme geheue-opsies wat jy in jou Note kan kry, stel nou ook die foon in staat om professionele videoredigering op die foon self te kan doen.

Basiese redigering is lankal beskikbaar, maar met die hardeware van ’n regte rekenaar in sy binnegoed, kan veelvoudige oudio-kanale, spesiale effekte en enorme videoprojekte nou op die Note self verwerk word – en akkuraat beheer word met die fyn punt van die stilus.

Maar...

Die kleiner Note 10 kom slegs met ’n FHD-skerm, wat teen 1080 p resolusie werk. Al is dit heeltemal aanvaarbaar vir die meeste mense, is dit ver weg van die 4K-resolusie-skerm van die Note 10+ en die meeste ander vlagskepe.

In dié kleiner model is die battery ook aansienlik verklein.

Albei slimfone het ook die standaard-opening vir oorfone prysgegee vir ’n ietwat groter battery.

Met dié foon is koordlose oorfone dus jou voorland of jy moet ’n aparte aanpasser aanskaf om jou oorfone by die USB-C-kragpunt te kan inprop.

Voorafbestellings het Donderdag begin en sal in die derde week van Augustus afgelewer word. Albei Note 10’s sal vanaf 31 Augustus in winkels beskikbaar wees.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.