Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Microsoft kos EOH tot R30 m. se wins
Die embleem van die inligtingstegnologiemaatskappy EOH.

Die tegnologiemaatskappy EOH is amptelik nie meer ’n herverkoper van Microsoft-lisensies in Suid-Afrika nie.

Dit kan hom tot R30 miljoen in voorbelaste wins kos.

In ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, sê EOH ná ’n kennistydperk van 30 dae het sy kontrak met Microsoft nou verstrek.

Microsoft het glo reeds ’n ooreenkoms met ’n ander, bestaande vennoot aangegaan. Hierdie vennoot is geensins met EOH geaffilieer nie.

Die Amerikaanse tegnologiereus het in Februarie sy jare lange ooreenkoms met EOH beëindig nadat ’n fluitjieblaser die maatskappy by die Amerikaanse Securities & Exchange Commission (SEC) gaan rapporteer het weens beweerde bedrog.

Daar word beweer EOH het op ’n onvanpaste wyse ’n kontrak van R120 miljoen met die Suid-Afrikaanse departement van verdediging aangegaan.

Intussen het Microsoft se filiaal in Ierland ook aangedui hy wil binne 30 dae sy ooreenkoms met ’n “verskeidenheid maatskappye in die EOH-groep” beëindig.

Die filiaal het nie ’n rede verskaf oor waarom die ooreenkoms beëindig word nie.

“Hoewel ons verstaan waarom Microsoft sy eie ondersoek (na beweerde korrupsie by EOH) wil afhandel, is ons teleurgesteld met die eensydige wyse waarop hy die verhouding beëindig het sonder om die impak op Suid-Afrikaanse maatskappye te oorweeg.”

EOH sê hy is steeds in gesprek met topamptenare van Microsoft in Suid-Afrika oor die verreikende impak wat die beëindiging van die ooreenkoms op ondernemings het.

“EOH het verskeie voorstelle aan Microsoft gestuur. Ons wag nog op terugvoer.”

Sodra Microsoft se ondersoek na beweerde korrupsie by EOH oor die volgende ses tot 12 maande afgehandel is, sal daar weer gesprekke plaasvind oor of die ooreenkoms tussen die partye hervat kan word, sê EOH.

In die boekjaar tot einde Julie sal Microsoft se besluit EOH R20 miljoen se voorbelaste wins kos, maar die totale impak sal uiteindelik R30 miljoen wees.

Die maatskappy het ook verlede week die uitreiking van sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Januarie met byna drie weke tot middel April uitgestel.

Dit is glo om Megan Pydigadu, die nuwe finansiële hoof, genoeg kans te gee om ’n “finansiële oorsig” af te handel.

Intussen duur die maatskappy se eie interne ondersoek na beweerde wanpraktyke ook voort.

EOH se aandeelprys het Maandag met 3% tot die laagste vlak in agt jaar gedaal en verhandel nou teen R13,62.

Meer oor:  Eoh  |  Eoh Holdings  |  Microsoft  |  Maatskappye  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.