Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Microsoft se oorname van TikTok dalk té ingewikkeld

Microsoft se beplande oorname van TikTok se bedrywighede in die VSA (en ’n handvol ander lande) is tegnies só kompleks dat ’n ooreenkoms waarskynlik nie binne 45 dae bereik sal kan word nie.

Pres. Donald Trump het Microsoft en ByteDance, die Chinese eienaar van TikTok, 45 dae tot 15 September gegee om met ’n voorstel vorendag te kom oor hoe ’n moontlike verkryging van TikTok se bedrywighede in die VSA deur Microsoft kan werk.

Een van Trump se vereistes vir só ’n verkryging is dat geen persoonlike inligting van enige Amerikaner op bedieners van ’n Chinese maatskappy gestoor mag word nie.

Microsoft sal basies ’n digitale muur tussen TikTok se bedrywighede in Amerika en sy bedrywighede elders (insluitende in Suid-Afrika) moet bou.

’n Skoon breuk tussen TikTok Amerika en TikTok China sal waarskynlik langer as ’n jaar duur om af te handel, het bronne met kennis van die saak aan Reuters gesê.

TikTok is funksioneel en tegnies soortgelyk aan Douyin, nog ’n sosiale platform wat deur ByteDance besit word en net in China beskikbaar is.

TikTok en Douyin deel ook verskeie tegniese hulpbronne soos bedieners en dies meer.

ByteDance het reeds maande gelede begin om die twee dienste op ’n tegniese vlak van mekaar te skei soos wat die druk van die Amerikaanse owerhede begin toeneem het.

Die maatskappy het beplan om die dienste heeltemal op te breek as deel van ’n oorhoofse strategie om sy mag uit China te verskuif.

Hoewel die programkode van TikTok, wat bepaal hoe die app lyk en funksioneer, reeds van Douyin geskei kon word, deel die twee platforms steeds ’n bediener wat ook met ander ByteDance-dienste gedeel word.

Dié gedeelde bediener bied basiese funksionaliteit aan die app soos die berging van data, die algoritme vir moderering en om nuwe inhoud aan gebruikers voor te stel sowel as die bestuur van gebruikers se profiele.

Om ononderbroke diens te verseker sal Microsoft waarskynlik van ByteDance se bestaande programkode moet gebruik maak totdat hy sy eie programkode vir TikTok kan ontwikkel en die diens volkome na sy eie bedieners kan oorskakel, sê Ryan Speers, ’n kenner op die gebied van kuberveiligheid by River Loop Security.

Microsoft se hoofkantoor in Beijing, China. Foto: Reuters

Ingevolge die verbod wat Trump wil instel, sal ’n Amerikaanse onderneming (in hierdie geval Microsoft) hoegenaamd nie op enige produk of diens van ’n Chinese maatskappy (in hierdie geval ByteDance) mag staatmaak nie.

Amerikaanse owerhede sal vereis dat die “nuwe” TikTok so ver as moontlik van sy Chinese eweknie geskei word.

’n Verdere uitdaging is die oordrag van TikTok se geheime kode vir sy algoritme wat nuwe video’s in gebruikers se nuusstrome voorstel.

Dié algoritme gebruik gebruikers se kykgewoontes om ander, soortgelyke video’s voor te stel.

Algoritmes benodig egter data om behoorlik te kan funksioneer, sê Jim DuBois, voormalige inligtingshoof van Microsoft. Data oor gebruikers se kykgewoontes sal dus vir die verskillende lande gesegmenteer moet word, sê hy. Dit is tegnies ’n baie moeilike taak.

Microsoft se onderhandelinge sluit in dat hy die bedrywighede van TikTok ook in Kanada, Nieu-Seeland en Australië sal oorneem.

Dit kompliseer dinge selfs meer aangesien bestaande gebruikers se data dus vir al vier lande gesegmenteer sal moet word.

“Die grootste uitdaging is om gebruikers se data te skei, sowel as inhoud (dus die video’s wat gelaai word) sowel as data oor die gebruikers (soos hul kykgewoontes en belangstellings),” sê DuBois.

Die data sal waarskynlik op fisieke hardeskywe van ByteDance aan Microsoft oorhandig moet word ten einde aan die vereistes van Amerikaanse wetstoepassers te voldoen.

TikTok het vroeër al gesê gebruikers se data word op bedieners in die VSA gestoor met rugsteunkopieë op bedieners in Singapoer.

Die data behoort wel steeds aan ByteDance van China.

Die voorgestelde tydlyn om ’n ooreenkoms te beklink is baie uitdagend, sê Karen Herman, ’n prokureur van Venable wat spesialiseer in sulke tipe verkrygings.

“Dit kan soms maande neem om net die behoeftes van die nuwe onderneming te bepaal, watter intellektuele eiendom en ander bates vir eksklusiewe gebruik behou word, en watter gedeel gaan word.”

Meer oor:  Tiktok  |  Bytedance  |  Microsoft  |  Verbod  |  Sosiale Media  |  Oorname  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.