Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Microsoft wil 6 miljoen vroue in tegnologie oplei

Microsoft en Tech4Dev wil met hul inisiatief Women Techsters begin om vroue en meisies oor Afrika heen op te lei.

Hulle beoog om 6 miljoen mense teen einde 2023 op te lei.

Lillian Barnard, besturende direkteur van Microsoft Suid-AfrikaFoto: Microsoft

Die vroue en meisies sal opleiding kry in kodering en ander tegnologie-vaardighede, met die doel om enige digitale agterstand te verminder en gelyke toegang tot geleenthede oor die vasteland heen te verseker.

Die Women Techsters-inisiatief is gemik op vroue en meisies tussen 16 en 40 jaar oud in 54 lande in Afrika.

Ghada Khalifa, streekdirekteur van Microsoft Philanthropies, sê sy is opgewonde oor die inisiatief, wat uit Nigerië na ander lande opgeskaal is.

“Wanneer ons vroue en meisies in die inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) -bedryf bemagtig deur groter toegang tot vaardighede en opleiding te bied, maak ons nie net innovasie nie, maar ook ekonomiese geleenthede oop,” sê Khalifa.

In ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies se konferensie oor handel en ontwikkeling (Unctad) word gewaarsku die ongelykheid in Afrika kan vererger as daar nie onmiddellik opgetree word om die digitale agterstand van die vasteland te verminder nie.

Lillian Barnard, besturende direkteur van Microsoft Suid-Afrika, erken hoewel baie op die vasteland gedoen is om vroue se vaardighede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) -gebiede te verbeter, is meer deurlopende pogings nodig om die deelname van vroue en meisies aan tegnologie te verhoog.

“Die hoofdoel van Women Techsters is om ’n gemeenskap van tegnologies bemagtigde vroue en meisies oor die vasteland heen te laat groei en te ondersteun, wat gelyke toegang sal hê tot sowel ordentlike werksgeleenthede as om hul idees in tegnologie-ondernemings te ontwikkel en uit te brei, wat uiteindelik algehele ekonomiese groei aanhelp,” sê Barnard.

Diwura Oladepo, uitvoerende direkteur van Tech4Dev, ’n nie-winsgewende onderneming, sê die inisiatief stem ooreen met twee van die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling.

“Die vennootskap met Microsoft is sinvol. Ons is oortuig dat die opleiding en bemagtiging van jong vroue oor Afrika heen sal help om ’n balans tussen mans en vroue in die tegnologie-ruimte te bewerkstellig.”

Die opleiding sal insluit sagteware-ontwikkeling, produkontwerp, produkbestuur, datawetenskap, kunsmatige intelligensie en kuberveiligheid.

Opedae, kampe en meesterklasse sal aangebied word.

Die Women Techsters-gemeenskap sal ’n jaar lange koderingsprogram wees wat van gestandaardiseerde leerplanne oor vyf kanale gebruik maak. Die opleiding sal drie maande duur, ondersteun deur ’n ses maande lange internskap en inskrywing in ’n mentorskapprogram.

“Aanvanklik stel ons die inisiatief in Nigerië, Ghana, Kenia, Suid-Afrika en Egipte bekend, en is opgewonde om te sien hoe ons ons missie kan uitvoer om vroue en meisies wat deelneem te laat groei.

“Ons weet dat die samelewing in die algemeen voordeel trek as vroue bemagtig word,” sê Barnard.

Meer oor:  Microsoft  |  Ikt  |  Data  |  Vroue  |  Beroepe  |  Loopbane  |  Tegnologie  |  Kunsmatige Intelligensie  |  Rekenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.