Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Minder koerante, tydskrifte gedruk; boeke vaar beter
Novus se nuwe Cerutti-pers van R110 miljoen is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en kan 30 miljoen tot 60 miljoen etikette in 24 uur druk.

Al hoe minder koerante en tydskrifte word gedruk soos wat minder mense gedrukte publikasies koop, maar die vraag na boeke en etikette hou die genoteerde drukkery Novus Holdings se resultate “bevredigend”.

Novus gee onder meer kapitaaluitbreiding, trae ekonomiese groei en die wisselvallige en verswakkende rand die skuld vir die daling in sy bedryfswins en wesensverdienste.

Novus is ’n filiaal van Media24, wat self nie genoteer is nie, maar op sy beurt deel is van Naspers.

Die maatskappy het Vrydagmiddag sy syfers vir die halfjaar tot einde September bekend gemaak.

Sy volume drukwerk vir tydskrifte en koerante daal in ooreenstemming met dalende sirkulasiesyfers, maar die styging in drukwerk van boeke en foongidse het daarvoor vergoed. Veral meer opvoedkundige boeke is in die halfjaar gedruk.

Die drukwerk van advertensiepamflette het bykans onveranderd gebly.

Novus sê hy stel al hoe meer soorte etikette bekend en lok al hoe meer kleinhandelaars wat produkte met ’n vinnige omset verkoop. Dit het gehelp dat die betreklik nuwe afdeling vir etikette in die afgelope ses maande gelykgebreek het.

In syfers
  • Inkomste styg met 4,5% tot R2,18 miljard

  • Winsgrens verminder tot 26,5% (2015: 31,4%)
  • Bedryfswins daal met 13,6% tot R304,4 miljoen
  • Wesensverdienste daal met 16,4% tot 63,3c per aandeel

Die maatskappy het ook betreklik onlangs begin om snesies te vervaardig en die oprigting van nog ’n meule vir dié soort papier het die groep se koste skerp laat styg.

Die groep skryf die daling van 4,9 persentasiepunte in sy winsgrens ook toe aan die styging in papierpryse weens die swakker rand wat nie dadelik aan kliënte deurgegee kon word nie.

Wat die volgende halfjaar betref, sê die maatskappy hy begin al hoe meer voordeel trek uit die wêreldwye skuif na digitale drukwerk en het reeds begin boeke druk wat vantevore oorsee gedruk en na Suid-Afrika ingevoer is.

Die afdeling vir etikette sal ook binnekort sy omset kan verhoog.

Aan die negatiewe kant waarsku die groep dat die tweede helfte van die jaar gewoonlik minder drukwerk inbring weens die seisoenale aard daarvan.

Markomstandighede gaan na verwagting moeilik bly en die rand sal wisselvallig bly.

* Netwerk24 is ’n produk van Media24.

Meer oor:  Naspers  |  Media24  |  Media  |  Reklame  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.